‘Kersmisvader’, geskenktjeks en spitgebraaide duiwe Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 15 December 2022 07:41
Untitled Document

Ons neem ’n nostalgiese reis na gister en kyk hoe ons mense die feesseisoen dekades gelede gevier het. Afrikaanse tydskrifte soos ‘Die Brandwag’, ‘Fleur’, ‘Huisgenoot’, ‘Lantern’, ‘Die Taalgenoot’ en ‘Voorslag’ wys dat Kersfees destyds so effe anders daarna uitgesien het as vandag.


‘Die Huisgenoot’ van 7 Desember 1923 sê “Goeie
juwele is ekonomies”
Bron: bidorbuy.co.za


‘Die Huisgenoot’ van 21 Desember 1945
Bron: bidorbuy.co.za
.

Voorblaaie van dié tydskrifte se Desember-uitgawes fokus nie noodwendig op Kersliggies of Kersvader nie en daar is selfs van ‘Kersmisvader’ gepraat. In ‘Fleur’ van Desember 1946 word daar vertel dat die “Kersgewoonte” onveranderd van Europa na die suidelike halfrond gebring is en dat “pogings om Kersfees te verafrikaans” doodgeloop het.


Randspeks-sertifikate as ’n Kersgeskenk in ‘Fleur’ van Desember 1946


“Net betyds vir Kersfees” – die Philco staanmodel radio in ‘Die Voorslag’ van Nov/Des 1946

Die klem was toentertyd minder kommersieel, alhoewel daar advertensies is wat ‘die ideale Kersgeskenk’ in die kollig plaas. Behalwe ‘gewone’ geskenke – met ’n groot klem op juweliersware – het mense daardie jare glo ook Randspeks-sertifikate (van Rand Spekulasie en Finansiële Maatskappy) en Standard Bank geskenktjeks as Kersgeskenke gegee. Die Volks-korrespondensie Kollege van SA het oral advertensies uitgeneem om sy studente “oor die lengte en breedte van ons land ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar” toe te wens.


‘Die Brandwag – Tÿdskrif vir die huisgesin’,
15 Desember 1912


‘Die Voorslag’ se Kersuitgawe van
Nov/Des 1946


‘Lantern’ van Desember 1964 (Jaargang XIV No.2)
Bron: bidorbuy.co.za


‘Die Taalgenoot’ van Desember 1968
.

Daar was baie meer advertensies vir boeke as vandag en dan van dinge wat nie meer bestaan nie, soos staanmodel radio’s met ’n “kas van glimmerende okkerneuthout wat ’n aanwins sal wees vir enige woonkamer”. Die Philco Model 480 het byvoorbeeld “sewe gloeilampe van ’n nuwe ontwerp en nuwe idees in geleiding” wat dit moontlik gemaak het om kragtige ontvangs van oorsese stasies op die “ingeboude kring-lugdraad” te geniet.


’n Juweliersware-advertensie in ‘Fleur’ van Desember 1946
.


“Gee hulle hierdie Kersfees wat hulle regtig wil hê – gee Standard Bank-Geskenktjeks” in ‘Die Taalgenoot’ van Desember 1968


Kersmoeder? Die kunstenaar Jacob Hendrik Pierneef het dié voorblad van ‘Die Brandwag’ se uitgawe van 10 Desember 1916 geskilder
Bron: artnet.com


‘Die Huisgenoot: Suid-Afrikaanse Weekblad’ van 16 Desember 1949
Bron: bidorbuy.co.za
.

Daar is groot gegaan met Nuwejaarsresepte, soos die een in ‘Die Huisgenoot’ van 21 Desember 1945, wat uit vandag se oogpunt effe vreemd is met spitgebraaide duiwe en jong haantjies. Die klem was op vleis en die duiwe en haantjies is bedien saam met sosatie karmenaadjies en gebraaide soutribbetjie.


“Geskenke vir die Feestyd – Boeke van blywende waarde’ in ‘Fleur’ van Desember 1946


“Maak u keuse van ’n Kersgeskenk by Petra Meubels” in ‘Die Voorslag’ van Nov/Des 1946


“Die ideale Kersgeskenke in dames-, mans- en kinderskoene” in ‘Die Voorslag’ van
Nov/Des 1946
.


Daar is ’n rare Kersvader op dié advertensie in ‘Fleur’ van Desember 1946
.
.

Die voorgereg was ’n vrugtekelkie en bykosse was brood, aartappels onder die as gebak, uietjies in suursous en ‘slaaisoorte’. Die soetgoed was vrugtelekkers in fondant en gebrande amandelblokkies en die aanbevole drinkgoed was swart koffie, pynappelbier en gemmerbier.


Die spyskaart vir Nuwejaar 1946 in ‘Die Huisgenoot’ van 21 Desember 1945
Bron: bidorbuy.co.za


’n Artikel oor die Kersmaal in ‘Die Huisgenoot’ van
24 Desember 1965
Bron: bidorbuy.co.za


’n Kersvoorblad vir ‘Fleur’ van Desember 1946

 

© 2024 Die/The Bronberger