Nostalgie oor die dae van inryteaters Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 15 December 2022 07:41
Untitled Document

Die dae van inryteaters word met nostalgie onthou. Dié soort teaters het dalk in die inperkingstyd ’n herlewing van die opwip-aard gehad, maar dit blyk tydelik te gewees het.

Op ons November-brieweblad het Gnatius de Lange van Shere gevra wie nog die ou Lynnwood Inryteater onthou. Hy sê dat die plek waar dié inry was, deesdae Paramount Estate is.

Die plek waar die ou Wonderboom Ster Inryteater was, is ook vandag die tuiste van ’n behuisingsontwikkeling met afdelings wat vernoem is na akteurs soos Clint Eastwood en Lee Marvin. Die teater-parkeerplek het nog tot 2002 daar gestaan.


Die Hartbees Inryteater met die Magaliesberg in die agtergrond
Foto: Kan JY nog onthou?

Dié teaters het bestaan uit ’n groot skerm, projektorkamer met ’n snoepwinkel vir die publiek en ’n parkeerplek. Daar was gewoonlik ’n speelplek vir kinders tussen die skerm en die eerste ry motors. Individuele luidsprekers het aan motors se vensters gehak, maar is later vervang deur radiouitsendings wat op die motor se radio opgevang kon word. Om ooglopende redes is dié teaters deur sommige jongetjies ‘invryteaters’ genoem.

Vroeër jare was ander bekende inryteaters in en om Pretoria die Fonteine Inryteater, Menlopark Inryteater, waar die Hatfield Baptiste-kerk later gebou is, die Zwartkops Inryteater, waar die Zwartkops-renbaan vandag is, die Jakaranda Inryteater by Malan en Seuns in Akasia, die Uitspan by Mahem, nog een in Kerkstraat-Wes naby die ou Wesfort Melaatse-inrigting en die Hartbees Inryteater by Hartbeespoortdam.


Die ou Wonderboom Inry-teater
Foto: Cinema Treasures

Die inryteater bo-op Menlynpark se dak het sy laaste film op 28 Februarie 2014 vertoon. Toe dié teater sluit, is daar aangekondig dat dit die laaste inryteater in die land was. Dit is glo weens tegniese beperkings gesluit. Alle films is deesdae digitaal. Die teater het nog ’n ou 35 mm projektor gehad en dit het baie moeilik geword om ou 35 mm films in die hande te kry.

 

© 2024 Die/The Bronberger