Die nag toe die VVV op die Bronkiepad land Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 20 June 2022 08:23
Untitled Document

Jolene Kelly skryf in ’n lesersbrief dat sy graag meer sou wou weet oor die VVV-landing op die Ou Bronkhorstspruitpad in 1965. Haar pa het in daardie tyd by die WNNR gewerk in die afdeling van dr EG Halliday, wat na die toneel uitgestuur is om monsters te versamel. Haar pa het nooit iets daaroor gesê nie en Jolene het eers ná sy dood daarvan gehoor. Ons het probeer om meer oor die voorval uit te vind.

Dit was net na middernag op 16 September 1965. Konstabels John Lockem en Koos de Klerk was besig om die Ou Bronkhorstspruitpad te patrolleer. Skielik sien hulle ’n vreemde ding in hulle hoofligte. Dit lyk asof daar ’n koepelvormige voorwerp op die teerpad sit.

Vroeër die aand het verskeie mense aan die Oos-Rand ’n “enorme wit lig en rooi bal” gesien. Die vreemde sittende voorwerp wat konstabels John en Koos gesien het, was koperkleurig en koepelvormig, ongeveer 30 voet (9,1 meter) in deursnee. John het gesê dat dit amper soos ’n tol wat ’n mens kan spin, gelyk het.

Hy het later met die hulp van ’n kunstenaar by ‘Die Vaderland’ ’n skets van die ding wat hulle gesien het, laat maak. Die skets is wyd beskikbaar, maar die oorspronklike berig kan glo nie meer opgespoor word nie.

Die berig wat Richard Hall op 17 September 1965 vir ‘Associated Press’ in Johannesburg hieroor geskryf het lui dat dié vreemde voorwerp binne sekondes nadat die konstabels daar aangekom het, opgestyg het. Vlamme het uit twee buise of kanale aan die onderkant uitgekom en die voorwerp het blitsvinnig in ’n noordwestelike rigting verdwyn.


Konstabel John Lockem se skets in “Die Vaderland”
Bron: nicap.org

John het gesê dat die ding vinniger opgestyg het as enige iets wat hy al ooit in sy lewe gesien het. Maar nee, het hy gesê – dit was nie juis angswekkend nie, want die vaartuig was net ’n eenvoudige, koperkleurige “skyf”.

Vlamme het van die teerpad se oppervlakte opgeskiet – ongeveer drie voet (0,9144 meter) hoog – toe die voorwerp opgestyg het. Dié vlamme het vir ’n lang ruk ná die voorwerp verdwyn het, nog gebrand.

Die hitte was glo intens en latere ondersoek het gewys dat gruis van die teer geskei het op ’n stuk pad van ongeveer ses voet (1,8288 meter) in deursnee. ’n Deel van die pad het ingeval, asof dit ’n baie swaar gewig gedra het.

Monsters van die beskadigde padmateriaal is deur wetenskaplikes vir analise geneem, maar die resultate is nooit aan die publiek bekendgemaak nie.

Luitenant-kolonel JB Brits, distriksbevelvoerder van Pretoria-Noord, het destyds vir die koerant gesê dat die insident as “hoogs geheim” beskou word en dat ’n ondersoek in “die hoogste kringe” uitgevoer word.

 

© 2024 Die/The Bronberger