Oom Hannes grawe waarheid oor oudste boom oop Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 20 June 2022 08:21
Untitled Document

Angie Kleijn en Betsie Steyn

Hannes Opperman het bykans ses dekades gelede die oudste boom in die oostelike deel van Pretoria ontdek. Vandag is dié olienhout bykans 700 jaar oud, maar geen foto’s van die boom of die Mundt-grafte waaroor hy waak, was beskikbaar nie. Hannes en sy seun Johan het op 1 Junie op Die Bronberger se versoek dié boom weer gaan soek en gekry.

Hannes is 82 jaar oud en woon in die Kleinfontein-sorgsentrum. Hy het by die Stadsraad van Pretoria se parke-afdeling gewerk en die Pioniershuis in Silverton se perseel was in die 1960’s deel van sy pligte. Oorkant die huis was ’n begraafplaas en – komende uit die Swartruggense Bosveldwêreld – het Hannes op ’n dag ’n olienhoutboom daar gesien en besef dit is ’n baie kosbare boom.

Vandale het die boom begin beskadig en hy wou dit omhein om bewaar te word.

Hannes het sy direkte hoof, Jimmy Aves (eers die superintendent en later direkteur van parke), daaroor genader en ’n heining is opgerig. Intussen het Hannes sy hoof gevra dat ’n koolstoftoets deur die WNNR gereël moet word om die olienhout se ouderdom te bepaal.


Hannes Opperman
Foto: Johan Opperman

Die bevinding was dat die boom reeds 637 jaar oud was en waarskynlik deur voëls daar “geplant” is. Dit is destyds bevind dat soortgelyke bome glo by Hartbeespoortdam staan en dat die een in Silverton die enigste van sy soort of ouderdom in die ooste van Pretoria is.

In die vroeë sewentigerjare wou die stadsraad die Mundt-grafte, waar die boom staan, verskuif om die sportterrein te vergroot. Die familie wou egter nie toestemming daartoe gee nie.

Groot was Hannes en Johan se skok toe hulle op 1 Junie sien hoe erg die verwaarlosing op die terrein is. Die olienhout staan darem nog, maar dit is onmoontlik om naby hom te kom omdat alles erg toegegroei is.


Op 1 Junie het Hannes Opperman ná dekades weer die bykans 700 jaar oue olienhoutboom gesien
Foto: Johan Opperman

Hannes is baie hartseer dat al sy pogings van destyds daarmee heen is. Die beskermende pype rondom die boom is afgesaag en die drade is verwoes. Die grafte, wat ook omhein was, se relings is tot op die grond afgesaag. Die grafstene is omgegooi, beskadig en bykans onleesbaar, maar Johan het die inligting wat hy kon uitmaak vir die nageslag neergeskryf.

Hy sê dat ’n kroeg en eetplek-eienaar by die nabygeleë rugbyklub met die stadsraad onderhandel om die begraafplaas op te knap omdat toeriste elke nou en dan die Mundt-grafte probeer besoek.


Die merkwaardige Olienhoutboom
Foto: Johan Opperman

Pioniershuis
Die Pioniershuis in Silverton is gebou op die oorspronklike plaas Hartebeestpoort, wat deur David Adolph Michael Botha en sy eerste vrou, Maria Petronella, ’n nooi Landman, gevestig is. Hulle het vroeg in 1848 in die Pretoria-distrik aangekom en het langs die Moreletaspruit, wat destyds Rademeyersrivier geheet het, se breë oorstromingsvlakte gaan woon. Dié 1 800 morg plaas was net noord van waar dié spruit deur ’n poort in die Magaliesberg vloei.

David was die voorsitter van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se volksraad in die worsteljare van broedertwis, wat op die burgeroorlog van 1861–1864 uitgeloop het. Sy aansoek om die plaas is op 10 Desember 1850 toegestaan en aangeteken, maar die plaas is eers in 1853 deur veldkornet Andries Petrus van der Walt geïnspekteer, toe David reeds getrek het na die plaas Kleinfontein, ironies genoeg waar oom Hannes vandag in die sorgsentrum bly.


Die Mundt-begraafplasie is erg verwaarloos en beskadig
Foto: Johan Opperman

Vermeulen
Die Botha-gesin het slegs vyf jaar op Hartebeestpoort gewoon en het dit in 1853 vir £105 aan Guilliam Christoffel Vermeulen en sy skoonseun, Frederik Jacobus Matthys de Beer, verkoop.

Guilliam en sy boesemvriend, Frederik Coenraad de Beer, was trekboere wie se kinders met mekaar getrou het. Guilliam se oudste dogter, Catharine Elizabeth, is met Frederik Jacobus Matthys de Beer getroud. Maria Adriana Vermeulen het met Matthys Johannes de Beer getrou.


Maria HD van Soelen, gebore op 7 Mei 1832, oorlede op 24 Maart 1881 “by die kamp in Pretoria”
Foto: Johan Opperman

In 1859 het Guilliam se seun Hendrik die suidelike deel van die plaas by sy pa geërf. Die oordrag van die plaas op sy naam was op 28 Oktober 1859. Frederik de Beer, wat op die noordelike deel van die plaas geboer het, het die plaas in 1872 aan Cornelis Moll verkoop.

In 1873 het Hendrik sy gedeelte aan sy seun Jan Albert Vermeulen en sy skoonseuns Guillaume Schoombee Pretorius en Willem Adriaan Fourie vir £105 elk verkoop. Op 25 September 1874 het dié drie die plaas vir ’n bedrag van £1 400 aan die Duitser, Hans Heinrich Mundt, verkoop. Oordrag van die eiendom was op 22 Maart 1875.


Hendrik en Johanna Vermeulen se drie seuns, van links na regs: Hendrik (Hennie-Boet),
Jan Albert en Guillaume
Foto: S du Preez

Mundt
Hans Heinrich Mundt, gebore op 5 Desember 1832 te Hamburg, Duitsland, was getroud met Maria Hermiena Dorothea, ’n nooi Van Soelen, gebore op 7 Mei 1832 in Kaapstad. Hulle het die plaas gekoop toe goud by Lydenburg en Pelgrimsrus ontdek is en het besef dat dié plaas die ideale oorstaanplek op die hoof transport-roete goudvelde toe sou wees.

Hans Heinrich het ’n tender ingesit om vars perde vir George Heys se poskoetsdiens te verskaf en het ekstra stalle, ’n koetshuis, buitegeboue vir ossewaens en ’n herberg vir moeë reisigers gebou.


Mathys Johannes de Beer
Foto: MyHeritage

In 1890 is silwer op die plaas ontdek en die Silver Mining Company het ’n deel van die plaas vir
£9 000 gekoop. Hans Heinrich is op 22 Januarie 1922 oorlede en sy seun, Ernst Wilhelm, gebore op 25 September 1871, het die deel van die plaas geërf waar die Pioniershuis vandag staan.

In 1961 het Hans Heinrich se skoondogter die grond aan die Silverton-munisipaliteit geskenk as monument. Silverton is later op ’n deel van die plaas aangelê en David Botha se ou hartbeeshuisie het die eiendom van die Silvertonse stadsraad geword. Silverton is in 1964 by Pretoria ingesluit en die stadsraad het die huis in 1972 aan die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum geskenk. Die kurators het die Victoriaanse huis wat die Mundts daar gebou het, genaamd Mundtsoelen, laat sloop en die oorspronklike hartbeeshuisie, wat as stoorkamer gebruik is, behoue laat bly. Dit is in 1975 as museum geopen.


Maria Hermiena Dorothea Mundt, gebore Van Soelen
Foto’s: André Malan, Nasionale Kultuurhistoriese Museum

Hannes
Toe Hannes Opperman in die 1960’s daar aangekom het, het die huis nog aan twee Mundt-broers behoort. Hannes het die tuin en boorde behartig en het dit drie keer per dag deurgestap. Betsie Steyn het by die Kleinfontein-sorgsentrum met Hannes oor sy loopbaan by die Stadsraad van Pretoria se parke-afdeling gaan praat. Hy het in 1962 by dié afdeling begin werk en het later as “seksievoorman met tuinbou-ondervinding” bekend gestaan.

Die jong Hannes se eerste taak was om die rolbalbaan in Capitalpark te bou. Daarna is hy na Sunnyside verplaas om werk aan Mirtepark te doen; die tuine by die Kunsmuseum in Arcadia is sy handewerk; toe volg Magnoliadal, Proteapark, Brooklynplein, Springbokpark, Wenningpark en Brunslichpark in Waterkloof. Die meeste van dié parke het hy van nuuts af aangelê, by ander het hy die instandhoudingswerk gedoen.


David Botha se hartbeeshuisie het die Pioniersmuseum in Silverton geword
Foto: Ditsong Museums

In 1967 is Hannes na die oostelike dele van Pretoria verplaas om nuwe parke en rolbalbane in Meyerspark, netbal-, korfbal- en tennisbane en ’n rugby- sokker- en krieketveld in Silverton tot stand te bring.

Hy het die begraafplaas, parke en sportgronde by Eersterust gedoen en het ook die Silverton-begraafplaas se tuin en terrein beplan en uitgelê. Dit was die eerste plek waar ’n nuwe stelsel gebruik is, waar net ’n kopstuk op die graf geplaas word en die grond verder gelyk gemaak en met gras beplant is.

Toe Hannes by die Pioniershuis-terrein gewerk het, was daar oorkant die straat Portugese groentetuine reg langs die Moreletaspruit. Die stadsraad het die grond besit en Hannes het daar ’n huis van die stadsraad gehuur. Daar het hy ook ’n stuk grond omgeploeg en groentetuine vir eie gebruik aangelê.


Die brug oor die kanaal by die Pioniershuis
Foto: Verskaf

Waltloo
In Julie 1976 het Hannes ’n pos aanvaar as superintendent in ’n ander afdeling van die stadsraad, lisensiëring by die Waltloo-toetsterrein, waar hy ook die toesighouer was. Hy was die heel eerste personeellid daar en het drie maande later die amptelike woning bewoon wat daar gebou is. Daar het hy ook vir hom ’n groentetuin en vrugteboord aangelê.


Die kombuis in die Pioniershuis
Foto: Verskaf

’n Groot huisvriend van hom, professor Erich Schurr, merk toe op dat dit goeie grond en weiding is en dat Hannes gerus beeste op die grond langs die toetsterrein kan aanhou, waarop hy die grond begin huur het, dit op eie kostes self omhein het en beeste, skape en bokke aangehou het. Die bokke het hom baie probleme gegee, deur die draad en Moreletaspruit gekruip en moles gemaak. Hy het dié bokke – onder andere ’n sybokhaarram – aan die Derdepoort-Streekpark geskenk.


Die buite-bakoond
Foto: Verskaf

Hannes het ook dadelik begin om die tuine by die toetsterrein te beplan en te bewerk. Tussendeur het hy ywerig sy kennis in tuinboukunde verbreed en tussen sy werk deur klasse by die destydse Pretoriase Tek geloop. Hy het vir ’n verdere 20 jaar lank na alles omgesien wat hy opgebou het – in Silverton en Meyerspark staan steeds bome wat hy toentertyd aangeplant het.

In1994 het Hannes ’n hartaanval gehad en in 1995 – ná 38 jaar diens – het hy afgetree en op ’n plaas naby Cullinan gaan bly en boer. Met sy aftrede het hy al sy tuinbouplanne en -beplanning vir die toetssentrum aan ’n tuinboukundige gegee.

 

© 2024 Die/The Bronberger