Min onthou dorpie se swem-ster Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 22 January 2022 06:26
Untitled Document

Deur wyle Hannes Engelbrecht

Terwyl almal nog juig oor Tatyana Schoenmaker se wêreldrekord en goue medalje by die Olimpiese Spele, onthou sommiges nog Penny Heyns, asook Rhoda Rennie, Frederica van der Goes, Mary Bedford en Kathleen Russell se bronsmedalje in die vryslag in Amsterdam in 1928; of Joan Harrison se goud in die rugslag in Helsinki in 1952.

Maar die Moeder van ons swemmers was die skaam Jenny (Genoveva) Maakal van Rayton – destyds ‘n vaal dorpie waar niemand ’n swemkampioen sou verwag nie, behalwe miskien in ’n sementdam!


Jenny Maakal

Jenny is gebore op 2 Augustus 1913 en in 1932 bevind sy haar in die Springbokspan by die Olimpiese Spele in Los Angeles. Die 18-jarige swem ’n bronsmedalje los in die 400 m vryslag. Die goue medalje was aan wêreldkampioen, Helene Madison van die VSA.

Met die skeepsreis terug na Suid-Afrika raak Jenny al meer teruggetrokke. Uiteindelik trek die twee boksers, Laurie Stevens en Dave Carstens, dit uit haar: Sy het gehoop op silwer of goud, want haar weduwee-ma (Elizabeth de Vries Maakal) het ’n verband uitgeneem op die Rayton-huis om haar kostes na die Spele te betaal.


Jenny sit regs op die groepfoto saam met die twee Amerikaners wat goud en silwer gewen het
Foto’s: Verskaf 

Carstens en Stevens is professionele kontrakte aangebied tydens die Spele en hulle bied aan om die verband af te betaal uit hulle beroepsgevegte!

In 1936 is Jenny getroud met Ernest Thomas, ’n weermaglid van Ermelo, en die egpaar het vier kinders gehad.

Sy is op 15 September 2002 oorlede in Durban op die ouderdom van 89.

 

© 2024 Die/The Bronberger