Kersvader se donderweer-renspan dans agter Rudolph aan Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 11 December 2021 10:32
Untitled Document

Hoeveel rendiere het Kersvader nou eintlik en waar op aarde kom die verhaal vandaan dat ’n aantal rendiere op Oukersaand in die lug opstyg om ’n vet omie in ’n rooi pak op ’n wêreldtoer van skoorstene te neem?

Die heel eerste verwysing na Kersvader se slee wat deur ’n rendier getrek word, was in ‘Old Santeclaus with much delight’, ’n geïllustreerde gedig vir kinders, wat in 1821 in New York gepubliseer is. Die name van die skrywer en illustreerder is onbekend, maar die uitgewer was William B Gilley. Die gedig is opgeneem in ’n klein boekie, getiteld ‘The Children’s friend: A New-Year’s present, to the little ones from five to twelve’.

In 1823 het Clement C Moore ’n gedig geskryf, ‘A visit from St Nicholas’ – ook bekend as ‘Twas the night before Christmas’. Anders as in die kinderboekie, was daar nie net een rendier nie, maar agt, wat redelik vreemde name gedra het: Dunder, Blixem, Dasher, Dancer, Prancer, Vixen, Comet en Cupid.


Clement Clarke Moore
Bron: historiesoftheunexpected.com

Rudolph
Ná ’n 1939 storieboek vir kinders, is dit egter aanvaar dat Kersvader nege rendiere het – dat Rudolph met sy bloedrooi neus die ander rendiere lei. Rudolph se storie is oorspronklik in versvorm deur Robert (Bob) Lewis May vir die Montgomery Ward kettingwinkels geskryf.

Bob en sy vrou Evelyn het na Chicago getrek waar hy by dié kettingwinkel as ’n kopieskrywer vir hulle bekende katalogus begin werk het. Die ure was lank en die salaris swak, maar in die 1930’s was ’n mens bly as jy enigsins ’n werk gehad het.

Bob en Evelyn het ’n dogtertjie, genaamd Barbara, gekry, maar hulle geluk het nie lank gehou nie. In 1937 het Evelyn kanker gekry en Bob het al sy geld gebruik om die beste mediese hulp te kry. Sy skuld het begin ophoop en hy moes sien hoe Evelyn al hoe meer agteruit gaan.

In Januarie 1939 het Bob die taak gekry om te begin werk aan die Kersboekie, wat die kettingwinkel elke jaar aan klante se kinders uitgedeel het. En dit is waar die rooi-neus Rudolph vandaan kom. Baie van Rudolph se karaktertrekke kom uit verhale oor verwerping in haar kinderdae, wat die sterwende Evelyn vir Bob vertel het.


Robert Lewis May en Rudolph
Bron: jmarkpowell.com

Mis
Die storie lui dat Kersvader se wêreldwye afleweringsdiens een jaar deur baie digte mis in gevaar gestel is. Toe Kersvader Rudolph se persente aflewer, het hy gesien hoe dié rendier se rooi neus in die donker skyn. Hy het net daar besluit om Rudolph as ’n ‘lamp’ te gebruik om die ander rendiere, wat by die slee ingespan is, in die digte mis te lei. Alhoewel die arme verstote Rudolph geweldig oor sy neus gespot is deur die ander rendiere, het hy daardie Kersfees help sorg dat alle kindertjies geskenke gekry het.

Eintlik sou Rudolph se naam dalk Reginald of Rollo gewees het. Terwyl Bob die storie geskryf het, is Evelyn in Julie daardie jaar oorlede en die kettingwinkel was aanvanklik glad nie beïndruk met Bob se idee vir ’n storie nie. Eers ná Bob en sy dogter Barbara dieretuin toe is saam met ’n kunstenaar, wat ‘Rudolph’ met sy reuse rooi neus geteken het, is die idee aanvaar.


Kersvader en sy oorspronklike agt vlieënde rendiere
Bron: goodnewsnetwork.org

Liedjie
Die kettingwinkel het aanvanklik 2,5 miljoen kopieë van dié Kersstorie as geskenke gegee. Dit was ’n reuse sukses en teen 1946 is daar reeds ses miljoen boekies gedruk. ’n Platemaatskappy wou hê dat ’n liedjie van dié storie gemaak word, maar daar was ’n probleem: Die Montgomery Ward kettingwinkels het die kopiereg op Rudolph se storie en sy beeld gehad.

Die hoof van dié kettingwinkelgroep was Sewell Avery, berug as ’n ou korrelkop. Tot almal se verbasing het hy ingestem om die kopiereg onvoorwaardelik aan Bob oor te dra. Bob se swaer, Johnny Marks, het die ‘Rudolph the Red-Nosed Reindeer’ liedjie geskryf. Bekende sangers, soos Bing Crosby, het dié liedjie van die hand gewys en uiteindelik het die Cowboy-sanger, Gene Autry, dit opgeneem – ook maar net as ’n guns aan sy vrou. Dit het vir die week rondom Kersfees 1949, Amerika se nommer een treffer geword.


‘Rudolph the red-nosed reindeer’ deur Robert L May
Bron: fanpop.com

Vroulik
Vandag word daar tong in die kies gesê dat daar tien rendiere is. Die laaste een se ‘naam’ is ’n gevolg van die liedjie oor Rudolph. Onthou jy die reëltjie “all of the other reindeer used to laugh and call him names”? Wel, die meeste mense het glo gehoor: “Olive, the other reindeer . . .” en dit is hoe Olive die tiende rendier geword het.

Olive is natuurlik ’n meisie se naam, terwyl die ander rendiere as manlik beskryf is. Vroulike rendiere het egter ook horings en dierekenners sê dat Kersvader se hele troppie eintlik almal vroulik is. Manlike rendiere verloor hulle horings in die winter en verloor ook soveel kondisie dat hulle glad nie in staat sou wees om ’n swaar slee met ’n vet omie en ’n lot speelgoed te trek nie. Wat nog te sê daarmee op te styg . . .

 

© 2024 Die/The Bronberger