Johannes die weeskind word sir John die magnaat Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 16 October 2021 06:24
Untitled Document

Angie Kleijn

Dié is die verhaal van ’n Hollandse baba wat in Pretoria gebore is toe dié dorp maar sewe jaar oud was. Hy is wees gelaat, is deur sy broer grootgemaak en het later groot gedeeltes van die Witwatersrand besit, is as Pretoriase burgemeester verkies en tot ridder geslaan.

Johannes Gerard (John) van Boeschoten is op 19 April 1862 gebore as die kind van Heinricus van Boeschoten en Antje, ’n nooi De Weerdt. Dié Hollanders het in die 1850’s na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) getrek en het in Pretoria gewoon voor hulle op die destydse Schoemansdal in die Noord-Transvaal gevestig het. Daar het Heinricus en Antje albei gou aan malaria beswyk.


Sir Johannes Gerard (John) van Boeschoten
Foto: Stadsraad van Pretoria

Ná hulle dood moes John se oudste broer, Cornelius, op 18-jarige ouderdom vir die gesin sorg. Cornelius het ook as voorleser in die gemeente Zoutpansberg gedien. Die vorige predikant, ds Nicolaas Jacobus van Warmelo, het ’n beroep na Heidelberg aangeneem en het in 1865, ná die ontruiming van Schoemansdal, voorgestel dat Cornelius die godsdiensoefening in die kerkgebou waarneem. Ds Van Warmelo het Cornelius ook as voltydse onderwyser aangestel en hy moes vir baie maande sonder salaris onderrig gee omdat die gemeenskap te arm was om hom te betaal.


John se dorpshuis was naby Harmonie, wat aan die weduwee Maria Magdalena Elizabeth van Warmelo, behoort het. Haar dogter was die bekende spioen, siener,
sieketrooster en skrywer, Johanna Brandt
Foto: The Project Gutenberg eBook

Skool
Ander bronne noem dat Cornelius saam met George Rex op Marabastad in die Noord-Transvaal skoolgehou het. George was familie van die Knysna Rexe en ’n voorsaat van Mabel Malherbe, wat Pretoria se eerste vroue-burgemeester geword het. John was een van die eerste leerlinge uit die 300 wat in die oggende deur sy broer Cornelius in Hollands en in die middae deur George in Engels onderrig is.


John is tot ridder geslaan deur die hertog van Connaught, wat hier saam met sy vrou verskyn, by die opening van die unieparlement in 1910
Foto: Wikipedia

Later het John teruggekeer na Pretoria waar hy verdere onderrig by ’n Engelse predikant, Alfred Roberts, ontvang het. Alfred het in 1879 as Britse sendeling in Pretoria aangekom en was die pa van Austin Roberts, na wie die bekende Pretoriase voëlpark vernoem is. Hy was kaptein van die dorp se heel eerste rugbyspan en was later aartsdeken van die Anglikaanse kerk.

Alfred se skooltjie was ’n klein rietdakhuise buite die dorp en leerlinge het gestrek van die digter Eugène Marais en twee broers Melville, van wie een later ’n vername offisier in die Engelse leër geword het, tot Jan Lorentz en twee seuns van ’n Portugese handelaar Perreira.


In 1905 het John en Henricus Lorentz plaashuise op Zwartkop laat bou. Die huise is deur De Zwaan ontwerp. Huis Lorentz is op die foto
Foto: artefacts.co.za

Ná skool het John hom as prokureursklerk by HW Cooper, wat ’n belangstelling in openbare werke gehad het, laat inskryf. Nadat hy hom as prokureur bekwaam het, het John aktief in Pretoria se ontwikkeling begin belangstel. Met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand is John in 1887 vanaf Pretoria na die ‘goudkamp’ gestuur om daar ’n kantoor vir ’n prokureursfirma te open.


Aartsdeken Alfred Roberts, by wie John skoolgegaan het, en sy vrou Edda
Bron: Rosa Swanepoel

Trou
John is op 19 April 1893, toe hy 31 jaar oud was, met Edith Grace David van Laugharne, Suid-Wallis getroud. Hulle het drie kinders gehad: Grace Jeanette, Elsie Irene en Mary Winifred Pretoria van Boeschoten.

Rondom daardie tyd het John en sy gesin ’n woonhuis naby die Van Warmelo-gesin gehad. Dominee Van Warmelo is in 1892 oorlede en sy tweede vrou, Maria Magdalena Elizabeth, ’n nooi Maré, het op die plot ‘Harmonie’ gewoon saam met haar dogter – spioen, siener, sieketrooster en skrywer Johanna Brandt. Harmonie was in die omgewing van die hedendaagse Sunnyside, waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is. John se huis was op die hoek van Rissik- en Joubertstraat.


Die Reserve Investment-gebou, beter bekend as die Café Riche-gebou op Kerkplein, het eens op ’n tyd ook as die Van Boeschoten-gebou bekend gestaan
Foto: Wikipedia

Hy het homself as ’n Pretorianer beskou, al het hy baie belange op die Witwatersrand gehad waar hy betrokke was by die vroeë ontwikkeling van Johannesburg. Hy was ’n vennoot in ’n firma wat voorstede soos Doornfontein, Bezuidenhout Valley, Troyeville, Fairview en Bramley uitgelê en ontwikkel het.

John het saam met Henricus Lorentz die voorstad Lorentzville ontwikkel. Dié voorstad is in 1892 aangelê toe 28 ha van die plaas Doornfontein in 2 780 erwe verdeel is. Die huurreg is aanvanklik aan JA Muller toegeken, wat sy belange afgestaan het aan RF Bertram, John en Henricus Lorentz, na wie die voorstad genoem is.


John was voorsitter van die Louis Botha Kinderhuis
Foto: Verskaf

Die voorstad Fairview, wat ook deel van die plaas Doornfontein was, is laat in 1895 of vroeg in 1896 ontwikkel en was eers as Fawcus Township bekend, omdat dit behoort het aan George E Fawcus, wat die voorstad aan John en Henricus verkoop het.

Toe die Engelse Oorlog in 1899 uitbreek, het John by die Transvaalse Ambulansdiens aangesluit. Hy is deur die Britte gevang en is as krygsgevangene op ’n plaas in die Colesberg-distrik aangehou.


Bertrams en Lorentzville in die laat 1890’s
Bron: Barnett-versameling

Plaas
Ná die oorlog het hy in 1903 lid van Pretoria se eerste verkose dorpsraad geword. In 1905 het John en sy vennoot Henricus elk ’n gedeelte van die oorspronklike plaas Zwartkop 356 JR gekoop, waar hulle oor naweke gaan jag het.

Hulle ooreenkoms was glo dat Henricus die plaas in twee sou verdeel en dat John eerste ’n helfte kon kies. John het die deel langs die ou pad gekies en dit is waar Wierdapark later ontwikkel het. Henricus se deel het Eldoraigne geword.

John se huis was waar Eldoglen vandag is en die plek was glo in gevaar toe die myn-onluste uitgebreek het. By sy voordeur was daar sy-mure waarin skietgate was. Die argitek van die twee ‘somershuise’ op Zwartkops was die bekende Wilhelm Johannes De Zwaan. Huis Van Boeschoten was ’n gewelhuis, wat aan drie kante deur ’n wye stoep met pilare omring is, iets wat later kenmerkend van De Zwaan-huise geword het.


’n Poskaart uit 1916 wys ’n trem op Kerkplein. Die gebou aan die linkerkant is die poskantoor en regs van hom is die Nasionale Bank. Die groter gebou is die Paleis van Justisie
Bron: Carol Hardijzer

De Zwaan was in vennootskap met Frans Soff, wat bekendheid verwerf het vir sy ontwerp van die Reserve Investment-gebou, wat in 1904 ontwerp en in 1905 gebou is. Die gebou se naam was op ’n stadium die Van Boeschoten-gebou. Weens die gewildheid van Café Riche, wat in dié gebou gesetel was, het die oorspronklike name vergete geraak.

Argitekte Wilhelm De Zwaan en Frans Soff het ook die oorspronklike Louis Botha Kinderhuis, wat vandag deel is van die Tshwane Distrikhospitaal se gronde, in 1923 ontwerp. John het in kinderwelsyn belanggestel en was voorsitter van die Louis Botha Kinderhuis, wat in 1918 gestig is om kinders te help wat in die griepepidemie wees gelaat is.


John het help stig aan die oorspronklike Transvaalse Universiteitskollege in Kya Rosa
Foto: UP-argiewe

Burgemeester
John het knap twee jaar ná hy in 1903 lid van die dorpsraad geword het, vir die eerste keer Pretoria se burgemeester geword. Sy ampstermyne was van 1905 tot 1906 en van 1908 tot 1911.

In sy laaste termyn is hy tot ridder geslaan deur die hertog van Connaught en Strathearn, prins Arthur William Patrick Albert. Hy was die derde seun en sewende kind van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk en prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha.

Arthur het in 1910 na Suid-Afrika gereis aan boord van die Balmoral Castle, ’n skip van die Union-Castle-Redery, om die eerste parlement van die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika te open. Hy het die hoeksteenlegging van die Uniegebou op 26 November 1910 waargeneem.


Marabaskop naby Marabastad in die distrik Zoutpansberg
Foto: soutpansberg.com

Sir John het hom daarvoor beywer om Pretoria as administratiewe hoofstad van die unie erken te kry. Een van die take waarvoor hy onthou sal word, was die behoud van Kerkplein toe die plan was om staatskantore daar te laat oprig.

Deur sir John se pogings het die munisipaliteit die verouderde mark- en ander konsessies oorgeneem, belastingheffings is gemoderniseer, nuwe dorpsgebiede is uitgelê en ’n elektriese tremdiens is ingestel.

Reeds in 1889 was daar ’n kragstasie in Pretoria – in Pretoriusstraat oorkant die hedendaagse Staatsteater, net oos van die tweede tremloods. Dit het dus vir sir John sin gemaak dat die Pretoriase munisipaliteit sy tremdienste moet elektrifiseer. Hy is Europa toe op ’n studietoer van elektriese tremdienste en het in 1908 sy idees aan die dorpsraad voorgelê.


’n Poskaart uit 1911 wat die trem aan die oostekant van Kerkplein wys
Bron: Carol Hardijzer

Sir John het help stig aan die oorspronklike Transvaalse Universiteitskollege, wat later die Universiteit van Pretoria geword het. Hy was ’n stigterslid van die bekende Wanderers-klub en Rands-klub, het op die Pretoriase dieretuin se administrasie-komitee gedien en was een van die beskermhere en vise-president van Harlequin-klub.

Van Boeschotenlaan, wat van die trembrugsirkel af parallel met die Apiesrivier suidwaarts geloop het, is na hom vernoem. In later jare het hy permanent op sy Zwartkop-plaas gewoon en is op
14 Julie 1937 in die ouderdom van 75 jaar in Pretoria oorlede.

 

© 2024 Die/The Bronberger