Tierpoortse oom ken goue ponde se geheim Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 August 2021 10:42
Untitled Document

“Hou maar op soek na die goue ponde in Platberg se arms,” sê die 84-jarige Willem Potgieter van Tierpoort. Want hy wat Willem is, weet lankal wat met daardie ponde gebeur het.

In ‘n atrikel: ‘Eeu-lange soektog na goue ponde in Platberg se arms’ in Die Bronberger se Julie-uitgawe het ons vertel dat ’n saalsak vol goue Krugerponde en munte nou al vir 122 jaar lank iewers op Platberg by Harrismith begrawe lê.

Tannie Philippé Otto het vertel dat haar oupa Wessels die saalsak gevul met goue Krugerponde en ander munte voor die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het, daar begrawe het. Hy het haar pa, wat toe nog ’n klein seuntjie was, saam met hom geneem voor hy op kommando vertrek het.


’n Aanduiding waar “One Man’s pass” op Platberg is
Foto: bewilderbeast.org

“Oupa het vir my pa gesê hy moet mooi kyk waar die sak begrawe is en dit onthou. Sou oupa nie die oorlog oorleef nie, moes my pa die sak gaan haal wanneer hy groter is en vir ouma gee vir oorlewing,” sê tannie Philippé.

Oupa Wessels, ’n skerpskutter en spioen, is in die oorlog doodgeskiet en ná die oorlog en 10-jaar-lange Britse okkupasie van Harrismith, kon sy seun nie onthou waar die saalsak begrawe is nie.

“Dit sou egter nutteloos gewees het om te soek, omdat die saalsak met sy goue ponde direk ná die oorlog reeds opgegrawe is,” het Willem Potgieter aan Die Bronberger vertel.

Willem sê dat sy een oupa in ’n interneringskamp op Ceylon was en die ander oupa op St Helena. “My een oupa het uit die kamp gekom en het presies geweet waar die goue ponde op Platberg begrawe is. Hy het die inligting in die kamp gekry,” sê Willem.

Terug op Harrismith het hy op ’n plaas genaamd De Oud gebly en het in die nagte met ’n flits uitgegaan, glo om jakkalse te gaan skiet. So het Willem se pa en broer een nag saam met sy oupa die plek gekry waar die goue ponde begrawe was. Daar was egter net ’n leë oop gat “van so jaart en ’n half diep”. Iemand het hulle voorgespring en die saalsak met sy skatte was toe al reeds uitgegrawe.

Willem se oupa het gesê die plek op Platberg was op die roete as jy van Harrismith af Witsieshoek toe ry. As ’n mens vandag op ’n kaart gaan soek, kom jy agter dat Witsieshoek se nuwe naam Phuthaditjhaba is, voorheen hoofstad van Qwaqwa.


“One Man’s pass” van bo gesien
Foto: Nigel Hemming op bewilderbeast.org

“Kan jy nou dié toeval glo!” sê tannie Philippé Otto toe sy van Willem se verhaal te hore kom. “Dat ’n man wat juis nou in Die Bronberger se gebied oos van Pretoria woon, die artikel lees en vir my ’n antwoord op dié raaisel uit Harrismith se wêreld kon gee.”

“Oupa moes uitgepraat het,” sê sy. “Tog is ek bly dat Willem van die goue ponde geweet het. Mense het my skeef aangekyk, so half asof ek die storie opmaak. Nou is daar bewys dat dit waar was.”

Die Bronberger het van nog ’n leser gehoor oor haar herinneringe aan “dierbare ou Platberg”. Estelle Pretorius van Rayton, wat op Harrismith grootgeword het, sê dat die oorhang-krans waarna tannie Philippé verwys, by haar ouers as die ‘holkrans’ bekend gestaan het en te vinde is aan die bo-punt van “One-Man’s pass”; ’n deel van die roete van die jaarlikse bergresies.

* Estelle se herinneringe aan Platberg, haar ouma se hout-en-sinkhuisie daar en haar Skotse oumagrootjie se doen en late in die Anglo-Boere-oorlog, word in ’n aparte storie vertel.

 

© 2024 Die/The Bronberger