Diep spore getrap voor veeplaas Garsfontein word Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 August 2021 10:41
Untitled Document

Angie Kleijn

Inwoners van die eertydse plaas Garstfontein het diep spore getrap en hulle nalatenskap is steeds te siene in die 1877 Rademeyer-opstal, wat deesdae ’n kapel in Moreletakloof-reservaat is, Marneweck-huis, wat nou ’n restaurant is, en Erasmuskasteel, beter bekend as die Spookhuis.

Die 77-jarige Hettie van Rhyn, ’n afstammeling van die Rademeyers, wat die eerste inwoners van ‘Garstvontyn’ was, het Die Bronberger onlangs genader in ’n poging om mede nasate op te spoor.

“Dit sal baie interessant wees om dalk op ’n dag van my familielede te ontmoet op die ou familieplaas en saam ’n glasie te klink ter nagedagtenis van ons Rademeyer-voorgeslagte,” sê Hettie.


Hettie se pa, Jacobus Cornelis Rademeyer, en ma, Maria Johanna Jacoba, saam met Hettie, links voor, en haar suster, Catherina Elizabeth, by die Pretoriase Dieretuin in die somer van 1952
Foto: Hettie van Rhyn-versameling

Volgens Gert Rademeyer se navorsing het ’n mnr G Kruger die plaas Garstfontein 428 op
9 Augustus 1841 geïnspekteer. Dié plaas se nommer het later jare na 374 JR Transvaal verander. Die regering het die transportakte op 14 Maart 1859 op die naam van JH Beetge geregistreer. Daardie selfde dag het JH Beetge se boedel die plaas na Jacobus Cornelis Rademeyer se naam oorgedra. Op 5 Julie daardie jaar het Jacobus ’n deel van die plaas na Matthys Johannes de Beer oorgedra.

Jacobus, wat Hettie se groot-oupagrootjie was, is met Cornelia Jacoba Erasmus getroud. Sy was die dogter van Daniel Jacobus Erasmus en Cornelia Jacoba Susanna Kruger, ’n niggie van president Paul Kruger. Cornelia se broer, Daniel Jacobus Elardus Erasmus, was ’n bekende Boere-generaal.


Die Rademeyer broers en susters, van links na regs agter: Regina Catharina (gebore 1811); Maria Jacoba Isabella (1813); Jacomina Caroline Frederica (1820); Martha Helena Susanna (1828); en Carel se vrou, Susanna Magdalena, ’n nooi van Niekerk. Voor: Jacobus Coenradus (1806); Johannes Hermanus (1817); Hettie se groot-oupagrootjie, Jacobus Cornelis (1815); en Carel Frederik Abraham (1821)
Foto: Rademeyer-versameling

Rademeyer
Toe Jacobus op 19 Junie 1868 oorlede is, is sy deel van die plaas aan sy seuns nagelaat. Sy manlike erfgename moes elkeen ’n uitbetaling van ₤75 aan hulle suster, Cornelia Jacoba Susanna Moll, maak. Die erf wat aan Cornelia bemaak is, is na haar man se naam, Cornelius Petrus Moll, getransporteer.

Jacobus het 245 skape vir versorging aan sy weduwee nagelaat met die stipulering dat sy nie een van die skape mag verkoop nie, omdat hulle aan die minderjarige kinders behoort. Sy self het net die vruggebruik geërf.


Hettie van Rhyn

Volgens Jacobus se testament het drie van die Rademeyer-seuns, Jacobus Cornelis (1844-1894 en Hettie se oupagrootjie), Daniël Jacobus Erasmus and Pieter (Petrus) Stephanus Johannes, elkeen ‘n derde van die plaas geërf. Dié oordragte was op 1 Maart 1875.

Pieter het ’n deel vir ₤100 aan sy broer Daniël verkoop. Hy het nog ’n deel vir ₤100 aan sy broer Jacobus verkoop. Jacobus het op 31 Maart 1875 ‘n gedeelte vir ₤250 aan Carel Frederick Abraham Rademeyer verkoop, wat sy deel op 30 Augustus 1875 vir ₤50 aan Carel Jacobus Erasmus verkoop het.


Die huis wat Johan Coenraad Marneweck op die plaas Garstfontein gebou het, is vandag ’n restaurant in die Moreletakloof-reservaat
Foto: Wikimedia

So het Carel Erasmus stuk vir stuk die plaas begin opkoop. Volgens Jacobus senior se testament is nog twee twee-derdes op 10 Januarie 1876 aan Lourens Theodorus Rademeyr en Theodorus Cornelis Johannes Rademeyer oorgedra. Dié twee het hulle gedeeltes in 1879 vir ₤600 aan Carel verkoop.

Carel het ook die helfte van die oostelike helfte van die plaas in 1877 vir ₤400 by Daniël gekoop. Hy het Jacobus junior se gedeelte in 1878 vir ₤500 gekoop.


Die huis wat Carel Jacobus Erasmus in 1877 gebou het, is vandag ‘n kapel
Foto: Facebook

Erasmus
Carel is met Martha Louisa, ’n nooi Prinsloo, getroud. Hy is op 12 Oktober 1902 oorlede en sy testament, gedateer 25 Julie 1898, bepaal dat die plaas van 4 150 morg en 63 vierkante roede aan Jochemus Johannes Petrus Erasmus, Johan Coenraad Marneweck (getroud met Carel se dogter Susara Johanna) en Daniel Egnatius Schutte (getroud met Carel se dogter Martha Louisa) bemaak moet word. Die drie erfgename moes egter ooreenkom oor die nuwe grense wat getrek moet word.

Jochemus en sy vrou Johanna Jacoba, ’n nooi van Schalkwyk, het die Erasmuskasteel, of te wel Spookhuis, in 1903 op die plaas Garstfontein laat bou. Die plaas was toe reeds in 13 dele onderverdeel.


Die Erasmuskasteel, oftewel Spookhuis
Foto: Wikipedia

Carel se skoonseun, Johan Coenraad Marneweck, het die huis, wat later as Marneweck-huis bekend sou staan, ook in 1903 gebou. Die huis is vandag die tuiste van die Rademeyer Restaurant  in Moreletakloof-reservaat.

Die oorspronklike huis, wat Carel in 1877 net noord van die historiese silo’s gebou het, is vandag die kapel, waar troues in die reservaat gehou word.

Die Rademeyerspruit, wat op die Wingate Park Buiteklub se gronde ontspring, vloei deur die reservaat en is ‘n belangrike voedingsaar vir die Moreletaspruit.


Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou, Johanna Jacoba, ’n nooi Van Schalkwyk, het die Spookhuis op Garstfontein laat bou
Foto: B Nell, Krygkor fotoversameling

Hettie
Hettie kom uit ’n lang lyn Rademeyers wat elkeen die oudste seun van ’n oudste seun was en almal Jacobus Cornelis Rademeyer geheet het. Haar oupa (1869 – 1904) is getroud met Hester Maria Magdalena Jansen van Vuuren en hulle het op die plaas Uitkomst naby Standerton gaan boer.

Hulle het drie seuns gehad en Hettie se pa (1895 – 1954) was die enigste seun wie se vrou haar eie kinders gehad het. Hettie se ma was Maria Johanna Jacoba Welthagen (1925 – 1972) en die gesin het op ’n plaas naby Barberton geboer.

Hettie vertel dat die seun en stamnaam-draer uit haar ouers se huwelik, by geboorte op 4 Junie 1945 dood is. Hettie (Hester Maria Magdalena) is in 1944 gebore en haar suster, Catherina Elizabeth, in 1943.

Hettie se tweede seun, gebore in 1966, is Jacobus Cornelis Rademeyer Wessels en hy woon vandag in Murrayfield.


Martha Louisa, ’n nooi Prinsloo, is met Carel Jacobus Erasmus getroud
Foto: WikiTree

Grafte
Hettie het vermoed dat haar voorgeslagte se grafte verskuif is met die ontwikkeling en uitleg van paaie in die ooste van Pretoria. In September 2008 het ons berig oor ’n historiese begraafplaas wat per ongeluk met padverbredings blootgelê is.

Jakobus Wolfaardt het in 1927 1 050 hektaar van die oostelike deel van die plaas Garstfontein gekoop en ’n spog-melkplaas, Wolfaardt Landgoed, opgebou. In 2008 het padwerkers op grafte afgekom toe hulle besig was om ’n bloekomlaning, wat die oprit na die destydse Wolfaardt-melkplaas gevorm het, te sloop.

Die grafte is gevind by die Parkwood-winkelsentrum se ingang, naby Woodhill Gholf Landgoed se indraaibord en die kruising van Garstfonteinweg met De Villebois Mareuilrylaan. Raadgewende ingenieurs, EDS Engineering, het spesialiste aangestel om die naasbestaandes van die dooies op te spoor en die grafte te verskuif.


Carel Jacobus Erasmus
Foto: B Nell, Krygkor fotoversameling

Carel Erasmus, wat die grootste deel van Garstfontein ná die Rademeyers besit het, se ou familiebegraafplaas was oorspronklik in ’n plantasie langs die ou militêre pad naby Wingate Park. Dié grafte moes ook geskuif word om plek te maak vir nuwe paaie.

Avbob het in 1988 opdrag ontvang om 33 van dié grafte se oorskot by die Erasmuskasteel te herbegrawe. Die begraafplaas word omring deur die muur van ’n ou beeskraal by die Spookhuis, wat vandag op militêre grond is

 

© 2024 Die/The Bronberger