Skotse ‘Oumatjie’ het brood gebak vir Boeremagte Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 August 2021 10:40
Untitled Document

Estelle Pretorius van Rayton het tannie Philippé Otto se storie oor haar familie se meer as 120-jaar-lange soektog na die goue ponde, wat haar oupa op Platberg begrawe het, in die Bronnie se Julie-uitgawe gelees. Sy vertel ons wat sy van haar ouma en oumagrootjie, wat dieselfde tyd in daardie omgewing gewoon het, onthou.

Estelle Pretorius

My man het so pas my splinternuwe Bronnie in my hand gestop, en dit jubel in my hart oor julle baie interessante artikel oor die Wessels Krugerponde in die arms van my dierbare ou Platberg.

My ouma, Eleanor Hazel Fella, gebore Peter, is op 1 Januarie 1902 in ’n klein ou hout-en-sinkhuisie in Victoriastraat, Harrismith gebore. Haar ouers was van Skotse afkoms en is afstammelinge van Rob Roy McGregor. Hulle het per skip vanaf Skotland na Suid-Afrika gekom, pas ná die aankoms van die Britse Setlaars, en het per ossewa vanaf Natalia (Durban) in Harrismith aangekom en daar gevestig.


Estelle Pretorius
Foto’s: Verskaf

My ouma is later met ’n Ier getroud en my ma, haar suster en broer, asook niggies en nefies is almal in daardie selfde ou hout-en-sinkhuisie gebore. Ek is in 1953 in Harrismith gebore en het my kinderjare in daardie ou huisie aan die voet van Platberg deurgebring. My ouers se huis, my huis, was reg langs ons ouma ‘Bunny’ se huisie, maar ons was altyd in haar huis.

Sy was die wonderlikste mens – ons kinders was almal dol oor haar. Ons het altyd gevra, “Ouma gee my ’n tiekie”. Daardie jare kon ’n mens sommer baie te kope kry vir ’n tiekie. Sy het so ’n pienk glasbakkie gehad en daarin het sy die tiekies gebêre. ’n Bossie gesteelde viooltjies of gesiggies uit my ma se tuin, het altyd die ding gedoen.

In daardie huis het ek Engels, en sy Afrikaans, leer praat, want al haar kinders is met Afrikaanse mans getroud.


Estelle se ouma Bunny was 75 jaar oud toe sy saam met haar kleinseuns, Jacques en Pierre, in 1977 afgeneem is. Sy is in 1982 oorlede

Kenteken
In die artikel is daar ’n foto van ’n koppie met die Britse regiment se kenteken – dit was reg agter ouma se huisie en ons het as kinders baie daar gaan stap. Dié koppie se naam is 80th Hill, want dit was die naam van daardie betrokke regiment.

Ek is in 1972 met Johan, ’n afstammeling van Andries Pretorius, getroud. Ek, my man en twee seuns het in 1988 nog Britse uniformknope, geweerdoppies, en selfs ’n geroeste snuifblikkie daar opgetel. Die agterkant van die blikkie was weggeroes, maar aan die voorkant, wat onder die sand begrawe was, kon ’n mens sien dat die snuif ’n produk uit Sheffield, Engeland was.


Estelle as vierjarige kind voor haar ouma se hout-en-sinkhuisie

Die koppie net regs van 80th Hill, soos ’n mens uitry Gauteng se kant toe, heet 42nd Hill, en die twee koppies soos ’n mens uitry Durban se kant toe, heet King’s Hill en Queen’s Hill.

Die konsentrasiekamp soos in die Bronnie se foto, is verskuif  na die omgewing van die huidige tronk op die dorp en daar het ons as skoolkinders gaan stap.


Estelle en haar seuns in 1989 by die ingang van die oorhangkrans waar Piet Retief se dogter sy geboortedatum op die rotswand aangebring het

Holkrans
Die oorhang-krans waarna mev Otto verwys, het by my ouers as die ‘holkrans’ bekend gestaan en dit is te vinde aan die bo-punt van die “One-man’s pass”; ’n deel van die roete van die jaarlikse bergresies. Die ander drie is die “Zig-zag”-pas, Donkiepas en Kyberpas. My pa en sy broer het as jongmans gereeld tot by die holkrans geklim en dan daar wors gebraai.

Die transportryers se roete vanaf Natal na Transvaal en Mosambiek het aan die voet van die berg verbygegaan (verwys die foto van die wa in verlede maand se artikel), so wie weet, miskien het die einste Jock of the Bushveld ook in sy dae, daar verby gereis?

My ma het vertel dat my oupagrootjie, Alex Peter, as jongman naby hierdie roete op ’n graf in die berg afgekom het. Die naam, Santa Maria, was op die kopstuk gegraveer. Hy kon dit as ouman nie vir sy kleinkinders gaan uitwys nie, maar het in die middel van Victoriastraat gaan staan, en met sy kierie vir hulle probeer wys waar dit teen die berg geleë was. Hulle het gaan soek, maar kon niks kry nie.


Estelle en haar seuns, Jacques en Pierre, by die Britse blokhuis op Platberg in 1989

Oorlog
Reg agter my ouma se huisie het ’n spruit van die berg af gevloei. Die spruit het destyds ’n baie lelike naam gehad, omdat al die riool van die Britse vestings teen die berg in die spruit afgevloei het wanneer dit reën. Die rioolpype is steeds daar te sien.

In die Anglo-Boere-oorlog het Boerevegters ’n kamp oorkant die spruit opgeslaan en my oumagrootjie het gesien hoe hulle water uit daardie spruit drink. Sy het die tuinier oorgestuur om vir die Boere te gaan sê dat hulle skoon water by haar huis moes gaan haal en sy het ook vir hulle brood gebak.

So het die geharde Boerekrygers dié ou Skotse tannie ‘Oumatjie’ begin noem. Hulle het haar almal spesiaal gaan groet toe hulle kamp opgeslaan en vertrek het. Sy het ook vertel dat sommige van die dorpsbewoners in die stadsaal gaan skuil het, omdat hulle bang was vir die Boere, maar my oumagrootjie het vasgeskop waar sy was, en gesê hulle sal niks aan haar doen nie.


Estelle, voor, en haar niggie, Vonnie Potgieter, op ’n donkie by haar ouma se huisie

Dam
Die Hawkinsdam, waarna in die foto verwys word, is vernoem na die Hawkins-familie, wat oorkant die spruit, reg agter my ouma se huis, op ’n kleinhoewe genaamd ‘Waters Meet’ gewoon het.

Daar is nog ’n dam bo-op die berg, genaamd die Gibsondam, en dit is die dorp se hoof waterbron. As ’n mens bo-op die berg loop en met jou voete stamp, dan klink dit soos ’n trom, so al asof Platberg hol is.


Die bronsbeeld van die Kaalvoetvrou

Die dorp het ’n baie ryk Voortrekkergeskiedenis en die gedenktuin in ‘n foto by die artikel het in my dae as die Debora Retief-gedenktuin bekendgestaan. Dit is vernoem na die dogter van Piet Retief, wat sy naam en verjaardagdatum op ’n rotswand by die nabygeleë Kerkenberg aangebring het toe hy in Natal was om met Dingaan te onderhandel.

Die beeld van die Kaalvoetvrou is ook op ’n plaas in die omgewing van die dorp opgerig en die wa-spore, soos dit in die rotse ingevreet het, kan daar gesien word.

*Estelle het haar bydrae afgesluit met die boodskappie: “Ai, julle artikel het omtrent vir my mooi herinneringe teruggebring. Baie dankie weereens vir ‘n puik tydskrif. Doe so voort!” - Red

 

© 2024 Die/The Bronberger