Toekaboek se bekendstelling lok baie Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 27 October 2015 10:27
Untitled Document

Die Bronnie se koffietafel-boek, ‘Toeka se Dae – Die Karakters’, is op Saterdag 26 September bekendgestel. Die toeloop van mense wat die geleentheid by Cullinan se geskiedkundige stasie-terrein bygewoon het, het die stoutste verwagting oortref.


Die tou mense wat wag om boeke te koop
Foto: Jeanette Janse van Rensburg

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is ‘n samestelling uit die artikelreeks, ‘Toeka se dae’, wat deurlopend in Die Bronberger verskyn. Die reeks word deur Angie Kleijn geskryf.


Angie Kleijn teken Toeka-boeke
Foto: Hennie Malan

Die boek is die eerste koffietafelboek wat deur Bronberg Uitgewers gepubliseer word en bied lekkerlees stories wat enigiemand, met of sonder ‘n belangstelling in die geskiedenis van Pretoria, sal boei.


Uitstallings op die tema van toeka se dae
Foto: Paul Bosman

Gaste het twee ure voor die afskoptyd van die geleentheid reeds begin opdaag. Teen 9 vm was daar reeds woeling, veral van mense wat ou geskrifte en foto’s uit toeka se dae saamgeneem het om vir die Bronnie se mense te wys. Die laaste gaste is ná 3 nm eers daar weg.


Terry Behrens van Simple Tradesman verwelkom die gaste by Cullinan Junction
Foto: Gideon van Zyl

Die tou mense, wat gewag het om boeke te koop, het vroeg gevorm en wou deur die dag maar net nie korter word nie. Mense het geduldig gewag en het ná die aankondigings weer geduldig in die tou geval.


Gaste wat nie onderdak op die dek kon inpas nie
Foto: Paul Bosman

In ‘Toeka se Dae – Die Karakters’ kan jy kan meer lees oor waaghalse, grootpraters, mynmagnate en luister na spookstories, gruverhale en skinderstories oor ou Pretoria se eerste inwoners, soos Ou Moes, die legendariese boemelaar; die diep spore wat Lang Piet in dié dorp getrap het; en die kleurvolle karakters wat in die dorp se eerste kuierplek te siene was.


Sakkie Kotze  help homself aan eetgoed
Foto: Hennie Malan

Oor bekende karakters is minder bekende feite opgediep, soos die staaltjies oor ongekunstelde ouma Isie; die lief en leed van oom Paul se kleindogters; die Pretoriase graf van Rider Haggard se liefdeskind; geheime oor Vincent Van Gogh se broer se selfmoord; die beeldhouer wie se verlore dekade aspris duister gehou is; en die feit dat Oerder eers moes spoorwegpaaltjies verf.


Voor van links na regs: Angie Kleijn, Jeanette Janse van Rensburg en Lydia Lindeque. Agter: Gerhard Kleijn, links, en Allen Swart, regs. Gerhard, Angie en Jeanette is van die Bronnie en verantwoordelik vir die toeka-boek en Allen en Lydia van Seriti, wat die toeka-boek en die Bronnie druk
Foto: Monique de Ridder

Dan is daar ook die verhale van siener, skrywer en baas-spioen, Johanna Brandt; die Boere ‘James Bond’ wat die Russe gevra het om die Britte te verdryf; vreeslose Drienie; die Cowboy-kolonel wat die Iere teen die Engelse gelei het; die sjarmante spioen wat Kitchener gesink het; en van dapper vroue se heldedade in veldslae.


Gaste op Kat Behrens van Heart of Coffees se dek
Foto: Gideon van Zyl

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is beskikbaar teen R295, koerier- en poskostes uitgesluit. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel 012-734-0522.


Sakkie Kotze van die ATKV kry ‘n toeka-boek by Angie

Só sê die mense

Hier is ‘n paar uittreksels uit briewe wat mense oor ‘Toeka se Dae – Die Karakters’ en die boekbekendstellingsgeleentheid geskryf het.

Pieter Möller: Eerstens baie geluk met die puik boek wat jy saamgestel het. Ek het nog net deurgeblaai en nog nie gelees nie; sal mettertyd. Net iemand wat al geskiedenisnavorsing gedoen het, sal werklik besef hoeveel tyd en energie in so ’n stuk werk ingaan. Nogmaals geluk.
Die uitstappie Cullinan toe was aangenaam. Die hele geleentheid was goed gereël en het glad verloop. Ook daarmee, geluk.


Skrywer, Angie Kleijn, links en uitlegkunstenaar, Jeanette Janse van Rensburg, regs, by Jeanette se ouma, Babs van der Berg
Foto: Monique de Ridder

Hermine du Pré: Baie dankie vir die kosbare boek, ‘Toeka se dae’. Dis pragtig geskryf en gaan regtig Afrikana word. Jy kan met reg trots wees daarop. Baie dankie dat jy hom geteken het en ook natuurlik dankie vir Gerhard Kleijn se bydrae. Baie geluk, hoor. Dis ’n juweel.

Herman Bosman: Ek moet julle en veral vir jou gelukwens met Toeka se Dae – Die Karakters’. Dit is ‘n wenner! Dit is baie goed saamgestel en aangebied. Die kwaliteit van die drukwerk is van hoogstaande gehalte.
Alhoewel dit stories is wat reeds verskyn het in vorige uitgawes van Die Bronberger was dit nog steeds ‘n groot taak gewees, die oorspronklike navorsing en nou die samestelling van die boek.

Cariena Kotze: Ek wil julle net bedank vir Saterdag en komplimenteer met julle boek.  Dit is ‘awesome’. Die inligting is baie ‘potent’ en ek vind dit baie interessant. Baie geluk. Ek wag vir die volgende boek.

Raadslid Danie Erasmus: Dankie vir Saterdag se funksie. Dit was puik. Die tou was te lank en die eetgoed te lekker. Hou die boek vir my uit. Ek sal dit kom afhaal.

Peter van der Linde: In al my jare by bekendstellings het ek nog nie so ‘n lang tou mense sien wag om ‘n boek te koop nie.


Die gaste by die kostafels wat deur Kat Behrens gereed gemaak is
Foto: Gideon van Zyl

Susan Naude: Ek is regtig baie beïndruk met jou boek! Het op pad terug stukkies gelees – baie interessant. Klaar spyt ek het nie nog boeke gekoop nie! Kan aan ‘n paar mense dink wat ook die boek sal geniet!

Jenine Coetzer: Dit was ’n wonderlike dag en ja, dis ’n FANTASTIESE boek.

Johan Brink: Gister het ek heen gegaan na Cullinan vir die boekvrystelling-seremonie. En wat ’n boek, hoor? Daar was genoeg om te eet en veral om te drink gewees.

Laurette van der Vyver: Baie dankie vir ‘n heerlike oggend Saterdag, en baie dankie vir ons PRAGTIGE boeke! Beste wense met die verkope; ek is seker jy gaan nie kan voorbly nie! Intussen het ‘n paar van ons vriende oor die naweek belangstelling getoon en ek verwys hulle na jou.

Later skryf Laurette weer: Ons geniet elke aand voor slaaptyd jou boek ONGELOOFLIK! Jy sal nie glo hoe lewendig jou boek die geskiedenis vir ons kinders maak nie!


Dié tou het net aanhou groei
Foto: Hennie Malan

Annie Kleyn: Baie geluk, jy het harde werk ingesit. Hoop jy teken my boek ook, Angie.

Marietjie Meyer: Baie dankie vir die gesellige dag by julle. Julle was seker doodmoeg na die funksie. Alles het goed afgeloop. Angie, jy was net te besig gewees maar dit was ’n bewys dat mense belangstel in die boek. Ek geniet dit elke keer as ek deurblaai en stukke lees. Dit lees te lekker. Dis goed dat daar so baie foto’s is.

Jo Raubenheimer: Baie geluk julle tweetjies! Ons gaan beslis die interessante stories saam met julle geniet.

Kathleen Behrens: Angie en Gerhard, baie dankie dat ons kon deel wees van julle groot dag. Dit was ’n voorreg om dit by ons te hou.


Van links na regs: Robert en Lientjie Denton, Etienne Smith en Kat Behrens in die Voortrekkerdrag
Foto: Elsabé Maré

Helena Naudé Potgieter: Baie geluk!

Rayton Meander: Vele geluk. Julle publikasies beteken baie vir besighede asook lesers in die area.

Annemarie van Burick: Wens ons was daar!

Gwendoline Visagie: Pragtig en baie geluk!

Gideon Van Zyl: Wat ’n jirlike oggend!

Willie Strauss: Amazing oggend gewees! Baie bly vir julle twee.

Jacob van der Westhuizen: Sal graag 10 boeke wou bestel. Ek woon in Queensland, Australië. Wonderlike artikels, regte Afrikana!

Alet Erasmus: Vandag nog hier vanuit die Kalahari . . . baie geluk!

 

© 2024 Die/The Bronberger