Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 27 October 2015 10:23
Untitled Document

‘n Koerantberig uit 1941, getiteld ‘Sonsverduistering bring ou foto aan die lig’, sê dat ‘n mens nie juis iets soos ‘n sonsverduistering met die Tweede Vryheidsoorlog in verband bring nie. Tog het ‘n eienaardige sameloop van omstandighede gewys dat die noodlot wel so ‘n verband kan bring.

Vier-en-sewentig jaar ná dié berig geskryf is, het die 1900-foto waaroor berig is, weer afstammelinge van die mense op die ou foto bymekaar gebring. Dié keer op die plaas Tweefontein, naby Bapsfontein.


Die foto is op 15 Desember 1900 geneem. Chrisjan se oupagrootjie, Johan Christiaan Kriek, getroud met Catharina Margaretha van Aard, is links agter. Langs hom is Stoffel Erasmus. Voor is Koos Kriek, links, en Pieter se oupagrootjie, Johannes (Jan) Daniel van Aardt, die broer van Catharina Margaretha van Aardt. Jan en Stoffel is twee swaers van die Kriek-broers.

Volgens die 1941-berig was dr Johan Christiaan Kriek en sy gesin op 21 September 1941 op reis deur die Vrystaat om iewers in die Karoo na die sonsverduistering te gaan kyk. Hy het ‘n stuk donker glas, waardeur hy na die son wou kyk, by ‘n fotograaf op Reitz gaan soek. Die fotograaf het deur sy fotografiese goed gekrap, ’n stuk verdonkerde glas uitgehaal en toe dr Kriek deur dié ‘donker glas’ kyk, herken hy dadelik sy pa en drie ooms daarop.

Die ‘donker glas’ was ‘n plaat van ‘n foto wat op 15 Desember 1900 in die begraafplaas van die krygsgevangenekamp op Ceylon by die graf van Johannes D van Coller geneem is.

Dié foto is vandag in Elma van der Vyver, ‘n nooi Kriek, se besit. Die dr Chris Kriek wat die foto toevallig op Reitz gevind het, was haar pa. Haar seun, Chrisjan van der Vyver, en sy gesin woon vandag in die kliphuis op Tweefontein, naby Bapsfontein, wat deur die oorspronklike eienaar van die plaas, dr Chris Kriek, gebou is.



Die koerantberig uit 1941

Chrisjan en Laurette se twee dogters, Lalique, graad drie, en Anri, graad een, is by Laerskool Witpoort op skool. Daar ontmoet hulle vir Pieter van Aardt en sy vrou Elsie met hulle twee dogters, Anje, graad drie, en Elmi, graad vyf.

“Hulle is al drie jaar saam met ons kinders op skool en Lalique van der Vyver en Anje van Aardt is boonop vanjaar in dieselfde voogklas,” sê Laurette.

“Ek het begin naspeur oor Chrisjan se oumagrootjie, Catharina Margaretha van Aardt, en het vir Pieter gevra oor sy van. Twee dae voor Erfenisdag het ek ontdek dat my man, Chrisjan, se oumagrootjie en Pieter van Aardt se oupagrootjie, Johannes (Jan) Daniel van Aardt, broer en suster was,” sê Laurette.

Die twee pa’s by Witpoort is dus agter-agter kleinneefs en die dogtertjies is redelik naby verwant. Op Erfenisdag 24 September het die gesinne saam gebraai en inligting is uitgeruil.


Van links na regs, agter: Chrisjan van der Vyver en Pieter van Aardt. Voor: Anri en Lalique van der Vyver, Anje en Elmi van Aardt. Die foto is geneem voor die kliphuis op Tweefontein, naby Bapsfontein, wat deur die oorspronklike eienaar van die plaas, dr Chris Kriek, gebou is

 

© 2024 Die/The Bronberger