Weerlig-dood van 108 jaar gelede onthou Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 27 October 2015 10:13
Untitled Document

Meer as ‘n eeu gelede is twee kinders, die 15-jarige Jan George en die 13-jarige Cathrina Johanna Duvenage, in hulle huis op die plaas Papkuilfontein, noord van Cullinan, deur weerlig doodgeslaan.

‘n Koerantberig van 1907, wat van dié gebeurtenis vertel en foto’s van die kinders is aan Die Bronberger gestuur deur Piet van der Walt van Moreletapark. Papkuilfontein was Piet se familie se plaas en hy is ‘n afstammeling van een van die drie Prinsloo-susters wat die Irene Konsentrasiekamp oorleef het.

Die susters was Johanna Petronella, later getroud met AJJ Brandt, Maria Isabella (Meraai), later getroud met SA Newman, en Jacoba Margaretha (Kotie), later getroud met JL van der Walt.


Van links na regs: Die Prinsloos: Johanna, 13, Kotie, 15, en Meraai,19, by die Duvenages: Jan George, 15, Maria Johanna (Malie), 2, op Cathrina Johanna, 13, se skoot en Anna Jacomina. Dié foto is in 1907 geneem. Kort daarna is die 15-jarige Jan George en die 13-jarige Cathrina Johanna Duvenage op die plaas Papkuilfontein deur weerlig doodgeslaan.

Die berig uit 1907 het die opskrif ‘Treurig Ongeval’ met ‘n subhoof, ‘Wijk Elandsrivier, Dist. Pretoria, Zaterdag’. Daar word vertel dat die ‘droevig’ ongeluk die Woensdag op die plaas Papkuilfontein gebeur het.

Die berig lui dat ‘n groot skare van bloedverwante en vriende op die begrafnis was.

PL Uijs het as koster opgetree, bygestaan deur EE Jordaan. Die godsdiensplegtigheid is in die huis gehou en daarna is die twee kiste op een wa gelaai en die stoet het in die rigting van die plaasbegraafplaas beweeg.


Die drie Prinsloo-susters wat die Irene Konsentrasiekamp oorleef het, van links na regs: Johanna Petronella, Maria Isabella (Meraai) en Jacoba Margaretha (Kotie)

Volgens die berig was dit “ene indrukwekkend schouwspel”. “Menig oog, starende op die twee sombere lijkkisten, met enige fraaie kransen bedekt, vulde zich met tranen bij de gedachte op welk een vreselike wijze deze jeugdige bloemen door de zeis des doods waren afgesneden!”

Ná die ter aarde bestelling is die begrafnisgangers terug na die ‘sterfhuis’ waar die kinders deur die weerlig doodgeslaan is, lui die berig.

 

© 2024 Die/The Bronberger