Geure ter herinnering Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Die Tierpoort Seniors se mammas en oumas is baie spesiaal laat voel by ’n vroeë Moedersdagviering op 8 Mei by Danie Crous se Rolling Waters in Nkweweg.

Met pienk proteas en pêrels op die tafels is die gaste met ’n outydse suurlemoenstroop verwelkom. Aan elke wynkelkie se steel was Antjie Krog se gedig, ‘Ma’, gebind.


Strekoefeninge vir “Sit-Fit”

Die tema van die dag, ‘’n Vrou in elke geur’, is deur oud-komiteelid, Mariet van Niekerk, behartig. Sy het verskeie takkies, blare en blomme gebring om die wonder van plante, die geskiedenis daarvan (selfs uit die Bybel se tye) sowel as die gebruike te demonstreer. Mariet het vertel hoe mense, selfs in die winter, geure in hulle huise kan versprei. Daarna kon die gaste hulle eie pot pouri-sakkies vul.

’n Heerlike ete, soos ouma dit sou gekook het, is deur die komitee voorberei: Geurige kerrie-piesang frikkadelle op kaneelrys, pampoentert en outydse tamatieslaai is opgedien, gevolg deur ’n lemoenpoeding met room.

 

© 2024 Die/The Bronberger