Jakkalsdraai se Ronen maak geskiedenis op die gholfbaan Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

Daar is die eerste naweek in Mei geskiedenis gemaak op Cullinan-gholfklub se baan. Ronen de la Rey, ’n 16-jarige boerseun van die plaas Jakkalsdraai buite Rayton, het die mansafdeling van dié klub se kampioenskap vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen.


Ronen as vyfjarige gholfspeler
Foto’s: Verskaf

Ronen was net 15 jaar oud toe hy dit die eerste keer reggekry het om die kompetisie te wen. Hy was verlede jaar een van die jongste seuns om ’n mansklubkampioenskap in Suid-Afrika te wen.


Ronen wen die C-afdeling van die manskompetisie op 11-jarige ouderdom

Om dit vir ’n tweede agtereenvolgende jaar reg te kry, is presies 20 jaar laas behaal toe Lenny Mahlangu die 2003/2004 kampioenskappe gewen het. Lenny, ’n mentor vir Ronen, het die trofee by die prysuitdeling aan hom oorhandig.


Ronen was klubkampioen in 2023

Hy het sy eerste gholfstel gekry toe hy twee jaar oud was en hy het die helder rooi, geel en blou plastiekstel stukkend gespeel. Sy pa, Koos de la Rey, het hom gou opgegradeer na ’n werklike gholfstel toe.


Ronen as kampioen in 2024

Koos was Ronen se eerste afrigter en het met Mei se kompetisie vir hom sakdraer gespeel.  Later het Brian Sanders, ’n veteraanlid by Cullinan, vir Ronen afgerig. Sy huidige afrigter is Sjac Weideman.


Ronen met sy pa, Koos de la Rey, in 2024

Ronen het in 2018 lid by Cullinan-gholfklub geword, en het sy eerste juniorklubkampioenskap daardie jaar gewen. In 2019 skryf hy die eerste keer in vir die manskompetisie en wen die C-afdeling op 11-jarige ouderdom. Van daar af het hy gewerk om sy voorgee laag genoeg te kry om die manne in die A-afdeling aan te durf en hy slaag in 2023 daarin om Cullinan se klubkampioen te word. 

Ronen doen tuisonderrig en oefen op sy tuisgemaakte dryfbaan, wat hy in ’n skaapkamp gesny het met ’n bof op sy ma se grasperk. So oefen hy vier ure per dag op dae wat hy nie ’n rondte speel nie. 

Hy het reeds op agtjarige ouderdom leer bestuur. Plaaswerk, perdry, skoolwerk en sy susters hou sy voete stewig op die grond. Hy is ook ’n kallistenie-entoesias, doen graag hindernisbaanwedrenne en draf 10 km op die plaaspaaie.

Ronen mik om ná skool kollege-gholf in die VSA te gaan speel en hy werk hard om sy akademie op ’n hoë standaard te hou – niks minder as A’s vir dié man nie. 

 

© 2024 Die/The Bronberger