Sy is Macky van haar plekkie Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

Vir baie mense is ’n hoender net iets wat uiteindelik op ’n spyskaart beland. Vir een vrou is haar troetelhoender, wat lyk of haar nek voorheen gebreek is, ’n wese wat kankerbehandeling en hospitalisasie verdien.


Shalane Botha met Macky en Donut

Dr Dorianne Elliott, ’n spesialis by die Valley Farm-dierehospitaal, het Macky, die vierjarige hennetjie van Shalane Botha, behandel. Kanker is vroeër by Macky gediagnoseer en sy was in April weer in dié dierehospitaal in Faerie Glen.

Macky ontvang steeds behandeling, maar is terug by die huis saam met haar maatjie, Donut, wat glo heel verlore is wanneer Macky nie daar is nie.


Macky en Donut op die rusbank
Foto’s: Verskaf

Dokters het bloedtoetse gedoen en X-strale geneem om te probeer vasstel wat met die “dierbare hoender”, soos sy in die hospitaal genoem is, fout is. Shalane vertel dat Macky ’n ‘golden comet’-hoender is. Dié kruisras word geteel om tot 250 eiers per jaar te lê. Shalane het gesê dat dit onnatuurlik is om so baie te lê en dat Macky waarskynlik inwendige skade opgedoen het.

 

© 2024 Die/The Bronberger