Gemeenskap groet Hennie Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

Hennie Malan, ’n jarelange inwoner van die Rayton en Cullinan-gebied, is op 11 April in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Hendrik Frederik Cornelius Malan is op 6 Januarie 1938 gebore. Hy was die oudste van vyf kinders; drie susters en dan, byna 10 jaar ná ouboet, sy kleinboet Janneman wat, net soos Hennie, ’n groot liefde vir die familieplaas Brandbach buite Cullinan gehad het.

Hennie se pa was met ’n Malan-meisie getroud en so kon die Malan-naam voortleef ondanks die feit dat oupa Jan Malan net vier dogters gehad het. Hennie het in 2016 met sy kleinboet se afsterwe aan die Bronnie gesê dat hulle die voorreg gehad het om in ’n huis met Christelike norme groot te word. ’n Huis vol liefde, harde werk en lekker kuier.


Hennie Malan

In Desember 2016 het Hennie staaltjies oor sy kindertydse vakansie op sy oupa Jan se plaas naby Middelburg met die Bronnie gedeel. Hy het vertel dat hy en sy neef Piet op die plaas in die skietkuns ingelyf is.

“Netjiese punt twee-twee maar niks om te jag nie, want oupa is al oud en loop nie meer ver nie. Die enigste wild wat ons kon identifiseer is toe een van ouma se broeihenne. Natuurlik ’n doodskoot.”

“Hoe rapporteer ons die skade aan ouma? Oupa kom tot ons redding en laat die hen verdwyn. Die aand aan tafel hoor ons hoe oupa vir ouma vertel dat hy vermoed ’n jakkals het die hen gevang, want hy het die karkas in die veld, nie ver van die huis af nie, gekry,” het Hennie gesê.


Hennie, regs, en sy neef Piet saam met hulle oupa Jan voor die opstal op
die plaas naby Middelburg

In Desember 2015 het Hennie vir die Bronnie van sy kleintydse Kersfeeste vertel. Hulle was gewoonlik ’n groot groep mense en kinders saam met Kersfees. Die tafels het gekreun onder die gewig van geregte soos skaapboud, kalkoen en beestong met groente te kies en te keur en doekpoeding met gelukbringers of tiekies in en ’n heerlike soet brandewynsous daarmee saam, het Hennie onthou.

“Die nag voor die groot ete is daar min geslaap, want jy het aaneen probeer om met een oog vir Kersvader te vang. Maar ai, hy was skelm. Nie een van ons kon hom ooit vang nie. En die bewys dat hy daar was is in die kous op die katel se voetstuk of onder die bed.”

“Kersoggend is almal saam kerk toe. Terwyl die tannies kosmaak en die ooms op die stoep sit en rook, speel ons klompie ’n hond uit ’n bos – so lekker, daar is nie eers tyd vir baklei nie,” het Hennie gesê.

In sy begrafnisbrief skryf Hennie se familie dat hulle dankbaar is vir die goeie pa, oupa en grootoupa wat hy was. Hy word beskryf as ’n regverdige, eerbare mens; ’n stil man met kennis wat hy met dié gedeel het wat vra en iemand wat lief vir die natuur was.

Hennie se begrafnisdiens was op 19 April en is deur dominee Chris Löther vanuit die NG Kerk Rayton waargeneem.

 

© 2024 Die/The Bronberger