Boetie en sussie dans die wye wêreld in Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

’n Boetie en sussie van die Bronberg-gebied is besig om groot naam te maak op die verhoog; nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal.

Die 11-jarige Liam-Michael en 12-jarige Lumé Fourie “dans al sedert hulle in my maag was,” sê hulle ma, Tanya Fourie van die Leap for Joy dans-ateljee op ’n kleinhoewe in Shere.


Lumé Fourie


Liam-Michael Fourie wys sy danspassies

Tanya vertel dat dié twee nog ’n boetie het, maar dat hy in sport spesialiseer, al het hy ook ’n paar danspassies “in haar maag” uitgevoer.

Liam-Michael het al van vroeg af begin dans, maar het eers twee jaar gelede formele onderrig in sang, drama en dans begin neem. Verlede jaar het hy reeds titels begin verower in al drie velde en hy was tot die begin van Maart op die verhoog in ‘The Sound of Music’ by Montecasino Teatro.


Lumé by die IDO Wêreldkampioenskappe in België

Teen die einde van Junie vertrek die Fouries na Amerika waar Liam-Michael as titel-danser in die American Dance Awards gaan meeding. Sy droom is om, soos sy mamma, op Broadway in musiekblyspele op te tree.


Lumé by die Wêrelddansuitdaging

Sy sussie, Lumé, het op die ouderdom van agt jaar ernstig begin raak oor dans. Sedertdien was sy al by sewe wêreldkampioenskappe en is al vyf keer as wêreldkampioen in verskillende style gekroon.

Verlede jaar het Lumé Suid-Afrika twee keer verteenwoordig en is in Amerika as naaswenner aangekondig. In November was sy top tien in al haar dansstyle – ballet, repertoire, jazz en modern – in die Internasionale Dans Organisasie (IDO) Wêreldkampioenskappe in België.


Liam-Michael Fourie voor die mikrofoon
Foto’s: Verskaf

Lumé is nou besig met voorbereidings vir die American Dance Awards, waar sy as titeldanser aangewys is. Sy wil baie graag haar loopbaan internasionaal volg en wil dalk, soos haar mamma, na Londen vertrek wanneer sy 17 jaar oud word.

Ons is baie opgewonde oor die jaar se vooruitsigte, sê Tanya.

 

© 2024 Die/The Bronberger