Nuwe kunsmuseum in merkwaardige modderhuis Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

Lientjie Wessels

Die HK Kontemporêre Kunsmuseum maak sy deure op 28 Maart oop in die merkwaardige modderhuis wat wyle kunstenaar Marcella de Boom met haar eie hande op Cullinan gebou het.

Hardus Koekemoer, wat sedert 2002 op Cullinan woon, bedryf dié museum, galery en ateljee om sy kunsversameling van Suid-Afrikaanse en internasionale kuns uit te stal. Hy versamel kunswerke sedert 1988 toe hy in Europa op toer was.


Hardus Koekemoer
Foto’s: Verskaf

In Nederland en België, waar Hardus sy eerste Picasso aangeskaf het, het hy besef dat hy werke van waarde kan aankoop. Daarna het hy op ’n maandelikse basis aankope in galerye en op kunsveilings begin maak. Soms het hy ook werk met ander kunstenaars geruil.

Hardus het vir ’n paar jaar ’n galery in Antwerpen, België gehad, wat gevolg het op sy werk as dekor-verwer en bestuurder by die staatsteater. Met Hardus se terugkoms in die land in1994 het hy as lektor in uitvoerende kunste by Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) begin werk. Daarna het ’n lang loopbaan as beligting-ghoeroe in Suid-Afrikaanse teater gevolg.

Oor die jare het Hardus letterlik duisende werke versamel en dit is uit dié versameling wat hy besluit het om so twee tot drie werke van 200 kunstenaars vir die museum te kies. Dié versameling, wat oor langer as 30 jaar opgebou is, is nog nooit vir mense gewys nie.


Die ingang na die museum in die modderhuis wat wyle Marcella de Boom gebou het

By die museum is ook ’n private ateljee waar mense kan klasloop in skilderkuns, etswerk en ander drukmedia. Die perseel in Stinkwoodweg 1 huisves ook ’n galery wat Vrydae tot Sondae van
9.30 vm tot 4 nm oop is. Toegang is gratis met ’n skenkingsboks vir diegene wat ’n bydrae wil lewer. Die galery is in die week op bespreking vir ’n fooi oop.

Kontak Hardus op WhatsApp: 083-264-0753 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger