Plaaslike perderuiters vat die lang pad na Bloedrivier Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

’n Groep perderuiters het op 30 November by Kleinfontein weggespring op ’n epiese rit na Bloedrivier, naby Dundee in KwaZulu Natal, om die Geloftedagvieringe op 16 Desember daar mee te maak.


Ruiters langs die pad
Foto: Wilma Dorfling

Die ruiters het gemiddeld 50 km per dag afgelê en allerhande uitdagings is langs dié lang pad in die oë gekyk. Een daarvan was toe boerperdteler, Gerhard le Roux van die Cullinan-groep, se merrie, Lente, na omtrent 200 km op die roete gevul het. Die vulletjie is daar en dan Gelofte gedoop.


Die Loubser-gesin van Kleinfontein-nedersetting en die De Beers van Kleinfontein-omgewing by Bloedrivier. Van links na regs: Rossouw de Beer (13 jaar), Adina Loubser junior (11 jaar), Lené de Beer (12 jaar), Adina Loubser senior, Janko Loubser (15 jaar) en Grové Loubser (13 jaar)
Foto: Johan Loubser

Pikdonker
Ruiters moes tien voor drie in die pikdonker oggende opstaan om perde te voer en op te saal sodat hulle teen vyfuur in die pad kon val. Langs die pad moes die perde elke 8 km water kry en stop- en oornagplekke is reeds in September met ’n verkenningstog van bykans 1 000 km vasgestel. Dié tog is darem met motors onderneem. Daar moes ook toe al gereël word vir voer en water vir die perde en kos vir die ruiters en ondersteuningspan.


Een van vele stopplekke vir water en voer langs die pad
Foto: Wilma Dorfling

’n Konvooi van perdewaens, sleepwaens en bakkies het die ruiters vergesel.


Johan Loubser van Kleinfontein het die voorreg gehad om namens die Bittereinder Kommando ’n krans in die wa-laer te lê. Knielend langs hom is sy seun Janko
Foto: Hannes Davel


Binne-in die laer by Bloedrivier met Gerhard le Roux van Cullinan en Holly James van Tierpoort
Foto: Hannes Davel
.
.

Wegspring
Die eerste 15 ruiters het uit Pretoria weggespring. Hulle het op 30 November saam met die Kleinfontein- en Cullinan-groep vertrek om die 37 km na Bapsfontein af te lê. Op 4 Desember was hulle by Van Kolderskop voor Greylingstad vanwaar hulle op 5 Desember 50 km in die rigting van die Vaalrivier gery het. Oral langs die pad het nog mense aangesluit, sommiges vir ’n rukkie, sommiges enduit.


Die perdekommando op pad na die wa-laer by Bloedrivier
Foto: Hannes Davel

Aflê
Op 6 Desember het die ruiters 56 km van die Vaalrivier tot voor Vrede afgelê en op 7 Desember,
27 km tot by Vrede. Op 8 Desember het hulle 58 km tot by Majuba gery en op 9 Desember 40 km verder tot by Ingogo. Daar was ’n 20 km rit in die Utrecht-omgewing op 11 Desember en 50 km tot by Utrecht op 12 Desember. Die laaste 46 km na die Bloedrivierterrein is op 13 Desember afgelê.


Op pad na Majuba
Foto: Wilma Dorfling
i
.


Dié foto van die Bloedrivier-terrein is met ’n hommeltuig geneem nadat die meeste dagbesoekers reeds gery het en wys hoe modderig
dit ná die reën was
i

Die gedenkrit is deur die Bittereinder-kommando gereël.


Ruiters het elke oggend met sonsopkoms vertrek
Foto: Wilma Dorfling

 

© 2024 Die/The Bronberger