Kranige konsertinabouer oorlede Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

Betsie Steyn

Willie van Wyk, ’n kranige konsertinabouer en bekende in Boeremusiekgeledere, is op
12 November in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Willie en sy vrou Fransie het sowat 20 jaar gelede van Kemptonpark, waar hy as passer en draaier gewerk het en ook ’n bestuurder van een van Anglo-Vaal se afdelings was, na Kleinfontein verhuis.

Hy het konsertinas begin bou toe hy 58 jaar oud was en wou die instrument vroeër self bemeester, maar geldskaarste het dit verhoed. Hy het later ’n bietjie begin speel. Willie het onlangs sy 59e konsertina gebou – met spoed, want dit moes Zimbabwe toe geneem word. Van sy konsertinas is landwyd, selfs oorsee, versprei. Hy het ook konsertinas vir ander bekendes gerestoureer.


Willie van Wyk
Foto: Verskaf

Willie het op ’n keer by Radio Pretoria in ’n onderhoud met Karen Zeelie vertel hoe presies die boeke en fluitjies moet wees en hoe hy die kuns bemeester het. Dit verg ’n fyn oor en stewige hand. Die handelsnaam van sy konsertinas was WiFra, wat vir Willie en Fransie staan.

Hy het sy kennis aan sy buurman, Johan Brits, wat die afgelope tyd ook na hom help omsien het, oorgedra. “Hy het my in die diepkant ingegooi, maar was ’n fantastiese leermeester. Ek is baie dankbaar en bly ek kon by hom leer,” het Johan gesê. Dit het ook gehelp dat Johan vir Willie kon bystaan om die laaste konsertina betyds te voltooi.

“Oom Willie was baie lief vir Boeremusiek en ek sien nou nog hoe hy met sy voet tyd hou,” vertel Janet Brits. “Hy was ’n baie gelowige man, lief vir die Here, en die laaste Bybelgedeelte wat hy nog gelees het, was Psalm 23.” Janet het die Van Wyks ook altyd bygestaan.

Dominee Chris Lotter van die NG Kerk Rayton het die begrafnisdiens waargeneem. Willie laat sy vrou Fransie, twee seuns en vier kleinkinders agter.

 

© 2024 Die/The Bronberger