Tragiese einde aan soektog na seun Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 14 November 2020 08:10
Untitled Document

‘n Seun is die aand van 9 Oktober raakgery toe hy Simon Vermootenweg wou oorsteek. Die bestuurder wat hom raakgery het, het dadelik van die pad afgetrek en by die seun, wat geen identifikasie aan hom gehad het nie, gaan sit. Die seun het gesterf en die bestuurder het vir tien dae na sy ouers gesoek.

Intussen het die 19-jarige Dylan Joubert se ouers van Mooinooi in Noordwes vir nege dae lank na hom gesoek. Die laaste keer wat hulle van hom gehoor het, was op 9 Oktober toe hy met sy pa, Riaan de Beer, oor die selfoon gepraat het op pad werk toe in Die Wilgers. Sy skof as sekuriteitswag was veronderstel om ses uur die aand te begin. Die oproep is afgesny en dit is die laaste wat sy gesin ooit weer van hom gehoor het.


Dylan en sy pa Riaan

Dylan het nooit daardie aand by die werk aangekom nie en was ook nie weer by sy blyplek in die ooste van Pretoria gesien nie. Sy gesin het die saak by die polisie aangemeld en organisasies soos die Pink Ladies, wat vermiste mense help soek, het pamflette met Dylan se foto versprei en op sosiale media platforms geplaas.

Dylan se ma, Yolandi de Beer, sê dat dit wat hulle gevrees het op 19 Oktober waar geword het. Hulle het ‘n oproep gekry wat sê dat Dylan se liggaam in ‘n staatslykhuis gevind is. Dylan se pa, Riaan, het die lyk alleen gaan uitken en die hartseer nuus oorgedra dat dit wel hulle seun is.

Hy is oënskynlik op 9 Oktober op die ongelukstoneel dood, maar kon nie uitgeken word nie. Adjudant-offisier Isaac Mcunu, woordvoerder van die Silvertonse Polisiestasie, het gesê dat Dylan ongeveer 7.30 nm deur ‘n motor getref is.


Dylan Joubert
Foto’s: Verskaf

Dylan se ma, Yolandi, sê sy glo dit was ‘n ongeluk en hulle wil die saak nie verder neem nie. Sy sê die man wat Dylan raakgery het is gebroke en dit sal hom vir die res van sy lewe bybly. “Hy het by my kind gesit. Hy het nie weggejaag nie. Die feit dat hierdie man by my kind gebly het, is ook ‘n vertroosting vir my as ma,” sê Yolandi.

Dylan laat sy ma, pa, susters en broers, Taylor, Marizelle, Zeldré en Jarred, agter. ‘n Roudiens is op 23 Oktober gehou en Dylan is veras.

 

© 2024 Die/The Bronberger