Mense deel hulle stories van hoop Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 16 October 2020 12:52
Untitled Document

Die Covid-19 pandemie en inperking het reuse gevolge op mense se lewensbestaan en menswaardigheid. Die vrese is allermins iets van die verlede, maar die NG Gemeente Tygerpoort het besluit om ‘n reeks oor hoop af te skop om mense moed te gee.

Akteur Pierre Breytenbach, bekend vir sy rol in ‘Getroud met rugby’, het met verskillende mense oor hulle stories van hoop gesels en die gemeente het die ses episodes op hulle YouTube-kanaal beskikbaar gestel. Hulle het ook Hoop-klere laat maak, wat teen die einde van September by die kerkkantoor op Shere aangekom het.

Episode een is Sunet Kruger, wat weer ‘n klein private skool moes oopmaak ná alles wat gebeur het, se storie. Dit het op haar skouers geval om leerders en onderwysers veilig te hou.


Jacques en Steyn Steenberg van Boschkop

In episode twee vertel Daleen Botes, wat aan die stuur van Kungwini Welsynsorganisasie staan, van die papieroorlog wat sy moes voer om ten midde van die pandemie al die nuwe beroepsgesondheid- en veiligheidsmaatreëls ook nog na te kom.

In episode drie is Jacques en Steyn Steenberg van Boschkop aan die woord. Bronnie-lesers het Steyn leer ken toe hy verlede jaar op Moedersdag in ‘n baie ernstige motorfietsongeluk sy been, en amper sy lewe, verloor het.

Jacques vertel dat sy vrou, Christa, ‘n gesondheidswerker is en Covid-19 aangesteek het. Daarna het Jacques, toe Steyn en toe Steyn se sussie Carla ook die virus gekry. Steyn vertel in dié episode dat hy in die begin gedink het hulle gaan almal doodgaan.

Episode vier is matriekleerling, Nicolene Van Eyk, se storie. Sy vertel hoe dit was om op jou eie by die huis met moeilike werk aan te gaan en nou daaroor te gaan eksamen skryf. Sy het ook haar hartseer gedeel oor die gewone matriekdinge, soos Forty Days, wat almal weens Covid moes misloop.


Daleen Botes van die Zwavelpoortse Kungwini Welsynsorganisasie

Episode vyf handel oor Suster Shoni Barbara Ngobeni se ervarings van die Covid-tyd by die Zwavelpoortse Tshwenyega Kliniek. Sy bestuur dié kliniek, wat as ‘n vennootskap tussen die NG Gemeente Tygerpoort, Intercare en Cipla daargestel is. Sy vertel hoe die pandemie-tyd haar as gesondheidswerker emosioneel geraak het.

In episode ses is Zurika Pienaar, koördineerder by Selrose Aftree-oord, aan die woord. Sy vertel hoe die isolasietydperk inwoners beïnvloed het. Hulle was afgesonder van die belewenis van die gemeente, omdat net so 10% van die bejaardes elektronies kon deelneem.

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za
 

© 2024 Die/The Bronberger