Ons onthou merkwaardige mense uit 18 jaar se Bronnies Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 19 September 2020 07:11
Untitled Document

Met die Bronnie se 18e verjaardag kyk ons met ‘n tikkie nostalgie terug na mense wie se stories ons oor die jare vertel het. Ons fokus is op dié wat nie meer met ons is nie en ons onthou ’n tyd wat vir altyd verby is.


Anieta Armand

In 2008 het ons by Anieta Armand op Mooiplaats gaan kuier. Sy het vir 30 jaar by bykans elke radio-stasie in die land uitgesaai en het ons vertel hoe sy met beweegbare senders in die grensoorlogtyd in Angola rondgejaag het; oor haar tyd as trokdrywer; die toermaatskappy wat sy op die been gebring het; en haar eerste perde-uithourit op die ouderdom van 71. Anieta het in 2016 ’n ligte beroerte gehad en het daarná by haar dogter op Rietfontein, in die Donkerhoek-omgewing, gaan woon. Sy is op 24 September 2018 in haar slaap oorlede.  


Francois Annandale

In April 2003 het die 84-jarige Francois Annandale vir ons die storie van Nkwe vertel en die oorspronklike 1895 kaart en transport van dié Tierpoort-plaas gewys. Francois het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank oor naweke in die poele van die Pienaarsrivier geswem het. Die dam net bokant Nkwe-oord se bekende swemgat is geskep toe Francois se pa, George, die wal in 1930 gebou het om sy landerye te besproei. Francois is ‘n paar jaar na dié artikel verskyn het, oorlede.


Barbara Bennet

Barbara Corrine Bennet, een van Bashewa en Tierpoort se mees geliefde en bekendste inwoners, is skielik op 1 Oktober 2017 oorlede, waarskynlik weens ‘n hartaanval. Honderde huldeblyke het vir ‘Plotville’ se Barbs ingestroom. Sy is in 1954 gebore en het op ‘n plaas naby Settlers grootgeword. Sy het in Julie 1986 na Bashewa getrek en gou ‘n onmisbare lid van die gemeenskap geword. Haar vriendin, Karin Saffy, het gesê dat Barbs een van die kleurvolste mense was wat sy geken het. Niemand kon vir Barbs miskyk nie.


Bob Round

In Augustus 2004 het ons Bob Round van Shere aangehaal in ‘n berig oor die GPF, waarvan hy voorsitter was: “Ek weier om ‘n slagoffer te wees, en ek doen my bes om seker te maak dat dit nie met my of my mense sal gebeur nie.” Dié woorde bied dalk ‘n verduideliking aan diegene wat nie kon verstaan hoekom ‘n 79-jarige man drie rowers eiehandig getakel het nie. In Augustus 2009 het ons berig dat dié rowers Bob op sy plot doodgeskiet het.


Carel Burger

In November 2002 het ons berig dat Carel Burger 10 jaar oud was toe hy vir die eerste keer aalwyne begin versamel en kweek het. Ons het na die aalwyne, vetplante, euphorbias en bome in Carel se geliefde natuurtuin teen die hang van die Bronberg gaan kyk waar hy toe reeds 32 jaar gewoel en werskaf het. Carel Burger is op 4 Mei 2006 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.


Carol de Beer

Die Bronberg-gebied het op 4 April 2016 een van sy grootste diereliefhebbers verloor met Carol de Beer van Tweedragt se dood. Sy is met bloeiende maagsere gediagnoseer en het die laaste twee weke van haar lewe in die hospitaal deurgebring. Carol was een van die mede-stigters van die Whiskers & Tails veldkat-projek, wat bewys het dat rondloperkatte goed is vir ‘n hoewegebied. As hulle gesteriliseer en ingeënt word, hou hulle ander katte wat sal aanteel weg en beheer peste soos rotte en muise.


Dieter Marzinger

Dieter Marzinger, kwadrupleeg en mond-skilder van Klipkop, was voor sy duikongeluk in Mei 2002 ‘n Springbok vegkuns kampioen en spesiale magte instrukteur. Daar het ‘n lang pad van aanpassing ná die ongeluk gevolg en in Maart 2015, toe Dieter ‘n  kunsuitstalling in Zwavelpoort gehou het, het hy gesê dat sy lewe se doel dalk is om ander te inspireer. Hy het ook self ‘n rolstoel ontwerp, wat deur ‘n maatskappy wat gewoonlik gepantserde voertuie vervaardig, gemaak is. Dieter is op
27 Junie 2019 in die ouderdom van 47 jaar in sy slaap oorlede.


Dr Arnold Lademann

Rayton se geliefde veearts, dr Arnold Gerhard Lademann, is op 19 April 2019 in die ouderdom van 79 jaar aan pankreaskanker oorlede. Ná sy dood het huldeblyke ingestroom en een, van Gerda Berga, het gelui: “As ek dink aan woorde om hom te beskryf, dink ek aan kundigheid, geen-nonsens-nie, by tye onkonvensioneel, oplossing-gedrewe, bekostigbare fooie, ‘n eksentrieke veearts met ‘n hart wat omgee vir diere.”


Faan Smuts

In November 2004 het Vreethans die eerste van vele draaie by Bronberg Lodge op Zwavelpoort gemaak en vir Faan Smuts ontmoet. Dié Weskusseun het eens vir Rhodesië op flank gespeel. Sy deurlopende vriendskap met mede-rugbyspelers het gemaak dat ‘n kuieraand by Bronberg Lodge soms soos die jaarfunksie van oud-Springbokke gelyk het. Faan is op 26 Augustus 2011 ná ‘n hartoperasie oorlede. Sy vrou, Issie, het die kapel by Bronberg Wynlandgoed, wat na Faan vernoem is, op 29 April 2012 onthul.


Floors Steenkamp

Lesers het Floors Steenkamp van Brandbach leer ken in ‘Storie van ‘n Statebybel’. ‘n Maand ná die berig is hy in die ouderdom van 79 jaar, op 25 April 2016, aan kanker oorlede. Floors het sy oupagrootjie, Gerhardus Teodorus Malan, se Statebybel gehad, waarin vier geslagte se geboortes en sterftes opgeteken is. Floors was van 1973 tot 2003 deel van die Bronkhorstspruitse kommando, en was bevelvoerder vir agt jaar. In 2010 het hy ere lewenslange vise-presidentskap van die Reserwemagteraad ontvang. Dit was sy voorstel om ‘n kommandobond te stig, wat hy op die Reserwemagteraad verteenwoordig het.


Freek van Eeden

Mense onthou ekonoom Freek van Eeden vir sy fotografiepraatjie wat destyds op RSG uitgesaai is. Hy is op 27 Junie 2004 in die ouderdom van 59 aan ‘n hartaanval oorlede. Freek het vir 28 jaar saam met sy vrou Ronel en gesin op plot 92, Zwavelpoort gewoon en bure praat nou nog oor die proteas van uitvoer-gehalte wat hy gekweek het en sy perskes, wat altyd die eerste van die seisoen was. Sy seun, Danie, bedryf Wild Route kwekery vanaf dié plot.


Hank Schrader

In Desember 2010 het Hank Schrader vir ons die Barnards se ou opstal en familie-begraafplasie op Waterlake Farm gaan wys. Hank het in 1976 vir Theuns Bester begin werk en was vir 30 jaar plaasbestuurder op dié Boschkop-plaas. In 1993 het Sinovich Investments die plaas op ’n veiling gekoop en verskeie kere probeer verkoop. Die koop het telkens deur die mat geval tot ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, dit in 1997 gekoop het. Hy het die plaas tot 2005 besit toe Waterlake Farm die plaas bekom het. Hank is op 31 Julie 2014 ná ‘n operasie oorlede.


Hans Strydom

In Junie 2003 het ons by skrywer en kunstenaar, Hans Strydom, op Zwavelpoort gaan kuier. Hy was bekend as die skrywer van ‘The Super Afrikaners’, ‘Afrikaner Cameos’, wat as ‘Volkstaat Blues’ deur Des en Dawn Lindberg opgevoer is, en ‘For Volk & Führer’, wat as ‘The Fourth Reich’ verfilm is. Hans het 30 jaar as joernalis by verskeie publikasies gewerk. Na sy aftrede het hy begin skilder en het uitstallings van sy kontreikuns gehou. Hans is in Maart 2004 in die ouderdom van 68 jaar weens ‘n lewersiekte oorlede.


Louie Wessels

‘n Bekende en beminde inwoner van ‘n plaas op De Tweedespruit, Louie Wessels, is op 3 Augustus 2016 skielik oorlede. Louie, 70, is die oggend in die hospitaal opgeneem waar sy later die dag gesterf het. Sy sal deur die omgewing se mense onthou word vir haar humorsin, uitgelate lag, goeie hart en heerlike kos. Sy het haar dogter, koskunstenaar Lientjie Wessels, gereeld in die kombuis bygestaan by Lientjie se destydse restaurant op Cullinan.


Hans Lombard

In Oktober 2011 het ons berig dat Bronnie-lesers hulle harte oopgemaak het om Hans Lombard, kok en restaurantbestuurder by Bronberg Lodge, te help. Sy been moes afgesit word ná gangreen weens erge suikersiekte ingetree het. Gemeenskapslede het ‘n insamelings- en hulpaksie geloods en ‘n rolstoel, loopraam en kontant is aan Hans oorhandig. Hy is op 1 Desember 2014 in die ouderdom van 58 jaar ná ‘n operasie oorlede. Hy is op dié 2011-foto saam met sy vrou, Alida.


Allan en Brent Hiscock

In April 2006 het ons Allan Hiscock van Zwavelpoort se 90ste verjaardag bygewoon en vertel dat hy in die Tweede Wêreldoorlog ‘n krygsgevangene in Pole was en in die ouderdom van 64 vir die eerste keer pa geword het. Op die foto verskyn hy saam met sy jongste seun Brent, wat op Oujaarsaand 2006 op die gesin se hoewe vermoor is. Op 13 Julie 2007 is Allan ook daar oorlede.


Lucia van den Berg

Lucia van den Berg van Kleinfontein, bekend vir haar ‘Heldinne uit die geskiedenis’ reeks, is op
29 Junie 2015 in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Lucia en haar man, wyle ds Mossie van den Berg, was stigterslede van Radio Pretoria. Sy was bekend vir haar herdenking van die vroue en kinders in konsentrasiekampe en het ‘De Camp Courant’ uitgegee. Lucia se Heldinne-radioreeks het gegaan oor vroue wat die Engelse Oorlog deurgemaak het.  


Jack Maré

Jack Maré is op 17 Desember 2012 in die ouderdom van 80 jaar ná ‘n massiewe beroerte oorlede. Hy was een van die pioniers by die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum en het op Mooiplaats gewoon voor hy en sy vrou, Elsabé, Cullinan toe getrek het. Jack was ‘n erelid van die Hoëveld Veteraan Trekker en Enjin Klub, een van die stigterslede van Suid-Afrikaanse Motorsport (SAM), ‘n motorjoernalis, boer en het vir 30 jaar by die WNNR gewerk.


Jan Malan

In ‘Edendale, die storie van ‘n loodmyn, sendingstasie en skool’ het ons Jan Malan van Cullinan se foto’s en staaltjies met lesers gedeel. Jan is op 16 Julie 2016 in die ouderdom van 67 jaar oorlede en word onthou as iemand wie se belangstelling in geskiedenis, veral familie- en volksgeskiedenis, gesorg het vir ‘n boekery en algemene kennis wat almal verstom het. Sy vertellings oor plaaslike veldslae, karakters uit vervloë dae of van gebeure in die omgewing was ‘n lus vir die oor.


Marguerite Alant

Lesers het organiese boerin, Marguerite Alant, leer ken toe ons in Julie 2003 oor haar organiese Ille de France skaapboerdery in Zwavelpoort berig het. Ons het vertel hoe sy haar skape se voer self aangeplant het en die grond deeglik vir dié aanplanting voorberei het. Daar is geen kunsmis op Marguerite se plot gebruik nie en ook geen voer-wat-uit-‘n-sak-uitkom nie. Marguerite is op
21 Januarie 2009 in die ouderdom van 70 jaar na ‘n lang siekbed oorlede.


John Knox

In die Bronnie se tweede uitgawe in Oktober 2002 het Vreethans ’n draai by John Knox, Blou Bul-rugbyspeler in die laat 1970’s, se Bull ’n Bush-kuierplek in Tierpoort gemaak. John het later as stapper lid geword van die Bashewa Atletiekklub en het gedroom van ’n staptog deur Afrika met Johnny Walker as borg. Net meer as twee maande ná John met aggressiewe keelkanker gediagnoseer is, is hy op 6 November 2009 oorlede.


Jan Vosloo

Kaalvoet Jan Vosloo van Zwavelpoort is op 15 Februarie 2005 in die ouderdom van 61 aan kanker oorlede en is by die konsentrasiekampkerkhof op Balmoral begrawe. Hy was bekend as ‘n man met ‘n intense liefde vir sy volk en taal en het in sy laaste lewensjare saam met Willie Bienedell gewerk aan die heruitgee van geskiedkundige Afrikaanse boeke, wat nie meer in druk was nie. Hy het was ‘n entomoloog, later ‘n rekenaarprogrammeerder en bestuurder by Infoplan se opleidingsafdeling voor sy aftrede in 1989.


Koos Minnaar

In Mei 2015 het ons vertel dat Koos die oudste oorlewende Minnaar was van die gesin, wat toentertyd op Byenestpoort langs Cullinan gewoon het. In ‘Minnaarplaas word diamantwêreld’ het ons ‘n terugblik op daardie dae gegee en sy familie se begraafplaas op dié plaas besoek. Koos was die vyfde generasie Minnaars op dié grond. Jakobus Johannes Minnaar is op 21 Februarie 1929 gebore en is op 5 Julie 2015 in die ouderdom van 86 jaar oorlede.


Louis Blom

‘n Bekende en geliefde inwoner van Rayton, Louis Blom, is skielik aan die einde van Augustus 2019 weens ’n bloedklont in ’n aar in die buik oorlede. Louis het in 1983 ‘n apteek in die dorpie se Saamgroei-sentrum oopgemaak. Hy het aptekerswese aan die Potchefstroomse Universiteit studeer. Later was hy betrokke by ‘n apteekgroep se tak in Faerie Glen. Louis was vir 26 jaar getroud met Mariëtte Blom, die eienaar van Shalom Eiendomme in die Rayton-gebied.


Mariëtte Basson

In Maart 2004 het ons ‘n middag saam met Tossie Lochner, die beminde Afrikaanse radiostem uit Italië, deurgebring toe sy by haar vriendin Mariëtte Basson op Mooiplaats gaan kuier het. Mariette was nou betrokke by gemeenskapsake en liefdadigheid. Sy was lank verantwoordelik vir die jaarlikse Gee-jou-gawe-Kersmark. Mariëtte is op 26 Augustus 2012 ná ‘n siekbed, en volgens haar man Nico, ‘n “harde geveg”, oorlede.


Mervyn Woodrow

Mooiplaatser Mervyn Woodrow is op 24 Februarie 2017 ná ‘n beroerte in die ouderdom van 84 jaar oorlede. As kunstenaar, outeur, dosent en eertydse Arabierperd-teler het Mervyn vir 40 jaar op sy grond langs die Pienaarsrivier gewoon waar hy vir agt jaar ‘n 1 600 meter resiesbaan vir Arabierperde gehad het. Mervyn is deur sy grootouers op ‘n plaas naby Louis Trichardt grootgemaak, ‘n gebied met karakters wat in baie van sy boeke beskryf word. ‘n Film is van sy eerste Roman, ‘A capital affair’, gemaak.

‘n Lesersbrief wat Mervyn in September 2003 aan die Bronnie geskryf het, sal nooit vergeet word nie:

I have been meaning for some time now to write and thank you for The Bronberger, to congratulate you on the sustained quality of your magazine, to applaud your firmly independent editorial policy and to express the sincere hope that you persevere for many years to come.

I wonder if you are fully aware of your manifold achievements. As I see it you have i.a. entertained and informed, have provided a service (gratis nogal), the fruits of which cannot readily be measured, but hopefully will become increasingly appreciated in the years ahead.

You have given an identity to a diverse community – no mean achievement – and it is now up to that community to rise to the challenge and prove itself worthy.

On the occasion of your first birthday we salute you.
Keep up the good work.


Michael Combrinck

Michael Combrink is op 22 Januarie 2018 in die ouderdom van 57 jaar aan slukdermkanker oorlede. Hy was sedert 2009 die geliefde skoolhoof van Laerskool Witpoort, waar hy ‘n groot impak gehad het. Sy droom was om in ‘n landelike omgewing tussen boere te woon en vir hulle kinders skool te gee. Hy het opreg in die mense van die omgewing belang gestel en het hegte vriendskappe gesmee. Sy deur het letterlik altyd vir enige iemand oopgestaan.


Phil Minnaar

In September 2003 het ons gaan kuier by beeldhouer Phil Minnaar op sy Olympus-plot vol replikas van bekende kunswerke wat hy oor die jare voltooi het: Van die Boeregeneraals van die Leër Hoofkwartier, die eerste ministers wat op die lughawens gestaan het en Skukuza-hek se reliëfbeelde tot die twee soldate voor die 1 Militêre Hospitaal en die beeld van Sir Pierre van Rhyneveld wat by die Lugmag Hoofkwartier gestaan het. Phil is op 23 Maart 2014 in sy huis in Ajaxstraat dood weens komplikasies ná ‘n dikderm-operasie.


Piet van der Merwe

In Desember 2002 het ons berig dat Piet van der Merwe toe al bykans 40 jaar lank besig was met die teling van Dexters op Zwavelpoort. Hy het hom in 1962 op Zwavelpoort gevestig toe baie van die huidige inwoners, in sy woorde, “nog in liquid vorm was”. Hy is op 12 Januarie 2007 oorlede.


Renier Booysen

Geliefde Cullinanse kuierplek-eienaar, Renier Booysen, is op 1 Junie 2016 voor sy restaurant, Villagers, oorlede. Hy het glo gesê dat hy erge sooibrand het en was op pad na sy motor toe hy neergeslaan het. Hy is vermoedelik aan ‘n hartaanval dood. Renier, wat op 23 Desember 1964 gebore is, het op Kaalfontein gewoon. Sedert die opening van Villagers in 2012 het Renier ‘n bekende figuur op die dorp en by die rugbyklub geword.


Robert Denton

Die wêreld het ‘n merkwaardige, eiesoortige mens verloor toe Robert Denton van De Tweedespruit op 3 November  2019 skielik oorlede is. Hy is vermoedelik aan ‘n hartaanval dood vroeg die oggend ná die Springbokke die Rugby Wêreldbeker gewen het. Robert is op 3 Augustus 1966 gebore en was onder meer media skakelpersoon vir die Suid-Afrikaanse Polisiedienste. Robert en sy vrou Lientjie het Li Belle restaurant in Sunnyside en Albizia op Cullinan gehad.


Sam McMurray

In Junie 2006 het ons die storie van vegvlieënier, Sam McMurray, se Tweede Wêreldoorlog-eskapades in Afrika se woestyne en woude vertel. Sy vriend Bob is ‘n maand ná hy op 28 April 1944 vir Sam ‘n brief gepos het, in Noord-Afrika dood toe sy vliegtuig afgeskiet is. Die brief is eers 44 jaar later, in 1988, by Sam afgelewer. Sam is op 8 September 2008 oorlede. Sy Mooiplaats-bure onthou hom as die mens wat eerste daar was om te help vuurslaan, plaaspaadjies regmaak of sommer, net so terloops, jou boorgatpomp te maak werk.


Schef Scheffer

Schef en Arna Scheffer het in die Bronnie se beginjare Langa Voere en hardeware in die ou Zwavelpoortsentrum bedryf en ‘n kleiner tak in Atterburyweg-verlenging. Langa was van ons eerste adverteerders. Schef is op 19 September 2008 in die ouderdom van 44 jaar aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was vroeër ‘n offisier van 32 Bataljon waar hy sy troepe in Angola se bosse aangevoer het.


Willa Dreyer

Ons het in Junie 2004 vir die eerste keer by tannie Willa gaan kuier. Sy was een van Hans en Hannie van Staden, wat die plaas Onbekend in 1924 gekoop het, se agt kinders. Tannie Willa is op 24 Desember 1918 gebore en het in 1925 aan die Laerskool Witpoort begin skoolgaan. In 1934 was sy die enigste meisie wat standerd ses daar geskryf het. Sy is in 1944 met Lucas Dreyer getroud en hulle seuns en dié se kinders en kleinkinders was ook by Witpoort op skool. Tannie Willa is op
8 Maart 2015 in die ouderdom van 96 jaar oorlede.


Vick McPherson

Kol Vick McPherson, ’n afgetrede veiligheidspolisieman en bekende in die landelike Bronberg-gebied, is op 19 April 2017 oorlede. Hy het in 1967 by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit en het verskeie bevelsposte binne en buite Suid-Afrika beklee en etlike toekennings, waaronder die SA Polisiester vir Verdienstelikheid en die Polisiester vir Uitstaande Diens, ontvang. Vick het ’n onthullende boek oor wat dit behels het om ’n ‘baasspioen’ in die vorige bedeling te wees, geskryf en was aktief betrokke by die reël van gereelde byeenkomste vir gewese polisiemanne.


Nico Breytenbach

Nico Breytenbach van Boschkop is na ‘n lang siekbed in die vroeë oggendure van 3 Augustus 2020 oorlede. Nico het bloedkanker gehad. Hy en sy vrou, Lynette, was vir dekades in die Bronberggebied doenig. Saam was hulle ‘n gedugte span en het ‘n wye verskeidenheid ondernemings bedryf, waarvan die bekendste die legendariese Nikos Restourant in die destydse Zwavelpoort-sentrum was. Nico is op 3 November 1946 gebore en het op Marken skoolgegaan, waar sy pa die skoolhoof was.

* Ons sou graag deur vermelding hier hulde wou bring aan elke liewe een wat in ons 18 bestaansjare ‘n verskil aan die Bronnie en die mense van ons kontrei gemaak het voor hulle afsterwe, maar weens beperkte  ruimte is dit ongelukkig onmoontlik.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger