Nico Breytenbach, geliefde inwoner van Boschkop, is na ‘n lang siekbed in die vroeë oggendure van 3 Augustus oorlede.
“Maandagoggend vroeg, net ná middernag, het Nic finaal rus gevind. ’n Groot boom het geval. Hy was rustig in sy slaap, knus en warm in sy eie bed. Uiteindelik verlos van die pyn,” lui die boodskap wat die familie uitgestuur het.
Nico het bloedkanker gehad en sy niere het nie meer gefunksioneer nie, wat na vogopbouing gelei het. Hy het ‘n ruk voor sy afsterwe gordelroos ontwikkel omdat sy immuunstelsel deur die kanker afgetakel is.
Nico en sy vrou, Lynette, was vir dekades in die Bronberggebied doenig. Saam was hulle ‘n gedugte span en het ‘n wye verskeidenheid ondernemings bedryf, waarvan die bekendste sekerlik die legendariese Nikos Restourant in die destydse Zwavelpoort-sentrum was.
![](/images/stories/aug2020/onsm2.jpg)
Nico en Lynette Breytenbach in die jare wat hulle Nikos in die Zwavelpoort-sentrum bedryf het
Baie jare ná dié kuierplek weens omstandighede gedwing is om toe te maak, het mense met nostalgie oor die plek gepraat en vertel vandag nog hoe hulle na die saamkuier en vriendelike gashere terug verlang. Daar was maar min mense wat nié in daardie jare deur Nico se omgee-persoonlikheid en trane wat maklik kan loop as ‘n storie sy sagte hart ruk, geraak is nie.
“Dankie vir almal se oproepe en besoeke die laaste weke. Ons as familie, is almal baie dankbaar vir julle ondersteuning. Al die liefde wat Nic sy lewe lank uitgedeel het, is in julle omgee weerspieël. Dankie. Dankie,” het die familie geskryf.
Ten spyte van al die gesondheidsmoeilikheid wat Nico oor die jare getref het, het hy nie sy sin vir humor verloor of ophou grappies maak nie. Met sy laaste matriekreünie, wat hy weens probleme met beweeglikheid op sy elektriese karretjie bygewoon het, het hy in die saal resies gejaag teen ‘n klasmaat, Mossie Oosthuizen, op ’n rolstoel.
Die maats op dié reünie het Nico as Madot geken – sy bynaam van Marken se dae, waar hy op
3 November 1946 gebore is, skoolgegaan het en sy pa die skoolhoof was. Nico het sy pa se memoirs, wat ‘n familielid in boekvorm, genaamd ‘Meester’ omgeskakel het, gekoester. Hy het die oorspronklike manuskrip by hom gehad en het gereeld vir vriende daaruit voorgelees.
![](/images/stories/aug2020/onsm3.jpg)
Nico Breytenbach
Nico se seun, Pierre, ‘n akteur bekend vir sy rol in ‘Getroud met rugby’, skryf: “My mentor, rolmodel en beskermer. Die byna twee-meter hoë sagmoedige reus, met die persoonlikheid wat ’n stadion kon vul. Wat my alles van liefde en omgee geleer het. My geleer het van karakter, en wat dit beteken om werklik ’n man en pa te wees.”
“Wat my elke keer gewys het dat die opstaan belangriker is as die val. Wat sy sprankelende vrou liewer as homself gehad het. Sy kinders elke oomblik in sy hart gedra het . . . al het ons dit soms in ons onkunde gebreek. Wat vir jou aanhoudend sê hy is lief vir jou, jou nooit ophou druk nie, jou vertel hoe trots hy op jou is. Wat tot in die laaste dae nog vir my gewys het hoe die Here se liefde werk . . . Aan hom, my pa . . . dankie dat ek jou seun kon wees.”
Nico laat sy geliefde vrou Lynette, wat hy met ‘n spesiale stemtoon Lynnie genoem het, agter sowel as vyf seuns (Johan, Pierre, Nico, Terreblanche en Schalk) met skoondogters en 12 kleinkinders.
Sy begrafnisdiens was op 7 Augustus by die NG Tygerpoort-gemeente in Shere. Covid-19 regulasies het gemaak dat slegs genooide familie die finale afskeid kon bywoon. Omdat Nico se diens dié groot kerk sou kon vol pak, is die hele diens regstreeks op NG Tygerpoort se YouTube-blad uitgesaai sodat die hele gemeenskap deel daarvan kon wees. |