Gemeenskap span saam om duisende in nood te help Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 July 2020 14:42
Untitled Document

Mense wat self swaarkry, het hulle harte en beursies oopgemaak om hongersnood in die Rayton- en Cullinan-omgewing teen te werk. Dié projek wat sedert die begin van inperking met die aflewering van kospakkies in grafstil strate begin het, stoom vandag steeds voort. Warm kos, kniekombersies, handskoene, serpe, musse en mantels word afgelewer.


Gemeenskapslede het ingespring en gehelp
Foto’s: Verskaf

Die Cullinanse Gemeenskapspolisiëringsforum het aan die begin van die grendeltyd gesien dat daar ‘n drastiese behoefte aan voedsel is en het ‘n massa-voedselvoorsieningsprojek op die been gebring.
Die Christelike Maatskaplike raad, SA Cares, NG Kerk, Gereformeerde Kerk, Hervormde Kerk, Helpende Hand, Avad Ha Raeb en Vlinderfonds het saamgespan om duisende mense te voed.

Op vlak vyf van inperking het elke instansie sy lys van behoeftige mense ingedien en elke spanlid was vir ‘n bepaalde gebied se aflewering verantwoordelik. ‘n Basiese kospakkie het uit verskeie blikkies kos, rys, mieliemeel, kookolie, seep en gereelde vars groente saam met donasies vanuit die gemeenskap bestaan.


Mense het selfs in die tuin gestaan en werk

Cullinan Spar, Rayton Pick n Pay en Wadrift OK het waentjies in hulle voorportale gesit waarin skenkings geplaas kon word. Vyftien spanlede het die skenkings weekliks met vlak vyf en vier se inperking verpak en versprei.

Toe vlak drie aanbreek, kon baie mense terugkeer werk toe en het laat weet dat hulle nie meer kospakkies nodig het nie. Yvette Otto van die Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan (lid van die Bondgemeentes) vertel dat die nood egter nie net geëindig het soos daar van fase vier na drie beweeg is nie.


Die reuse potte kos word omgeroer

“Daar is steeds gesinne wat erg deur die inperking geraak word, asook kinderhuise in die omgewing, huisvesting wat aan bejaardes gebied word en private instansies waar gestremde kinders sonder enige staatshulp versorg word.”

Yvette vertel dat dit op vlak drie uiteindelik ook moontlik was om vir die mense warm kos te maak en vrouens uit die gemeenskap het ingespring om groot potte voedsame sop te maak. Die sop was egter ‘n uitdaging om af te lewer, omdat dit moeilik is om te vervoer. Dit is hier waar die idee van bredies begin het.


Geskenkte groente is in die sop en
bredies gebruik

Baie aartappels is geskil
.

“Nou word daar twee keer ’n week warm kos vir 320 magies in ons kerkkombuis voorberei,” sê Yvette. “Een dag bel ‘n boer en sê hy bring vir ons blesbokvleis, wat hy klaar in stukke opgesny het. ‘n Ander nag 9 uur kom ‘n vragmotorvrag vol voedsel hier aan wat die kerk se kombuis van vloer tot plafon volgepak het. Daar is boere wat hoenders bring en ander bring groente of sopbene,” sê sy.

Ruim skenkings word hoofsaaklik gereël deur die Vlinderfonds en Chefs with Compassion en Yvette sê dat sjef JB Bekker van Cullinan slim planne met die reuse potte bredie begin maak het. Chefs with Compassion is ‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat in 2020 gestig is in reaksie op die humanitêre krisis wat deur die Covid-19 pandemie veroorsaak is.


Maskers is gemaak

“Staatmakers vanuit die gemeente en gemeenskap help met die voorbereiding en gaarmaak van die warm etes in groot kastrolle op gasstowe,” sê Yvette. Daarna word dit in vervoerbare houers oorgeskep en word deur vier tot vyf mense afgelewer.

Sommige kos beteken baie ver se ry. “Maar daar word nie net magies gevoed nie; ’n warm magie help, maar warm lyfies en harte is noodsaaklik. Vir warm lyfies, is daar deur die Hervormde Gemeente se vrouens serpe, mussies en handskoene gebrei en terselfdertyd mantels gemaak wat aan kinders in nood uitgedeel is op inisiatief van die Vlinderfonds,” sê Yvette.


Tannie Chrissie Labuschagne van Rayton, wat met haar artritis-vingers al byna 3 000 Gismo’s gebrei het. Sy en haar man, oom Andries, help ook elke Dinsdag en Saterdag om groente te sny

Kniekombersies word gebrei en gehekel vir kleuters, laerskoolkinders en bejaardes. “Ons verwag juis vandag ’n skenking wol en so pas is 18 kraakvars kniekombersies by my afgelewer,” sê Yvette.

Toe die skole weer begin het, is ’n Gismo-poppie (akroniem vir God is met ons) en ’n stukkie fudge vir elke kind gegee. JB was die flukse afleweraar en die gemeenskap het saamgebak aan die smaaklike fudge.


Die vroue is nog kliphard aan die brei en hekel vir kniekombersies en die maak van sagte kombersies vir die kinderhuis en kamp

Met liefde gemaak: Handskoene, ‘n serp,
mus en mantel
.

Yvette sê dat daar so baie welwillendheid in die gemeenskap is en dat die ongelooflike ding is hoe goed die koördinering werk; hoe verskillende instansies en individue kan saamwerk. “Ek weet nie of daar nog ’n dorp is wie se mense so saam kan hande vat nie; kan gee – waarvan hulle nie altyd self veel het nie – en dit met soveel liefde doen.”

Die volgende plan is om ’n tonnelstruktuur aan te skaf sodat die mense wat by dié projek betrokke is, hulle eie groente kan begin kweek. As jy ’n bydrae, hoe groot of klein ook al, kan maak, stuur vir Yvette ‘n WhatsApp: 072-223-7522.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Julie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger