Van Tarzan tot towenaars en troetelhoenders in Faerie Glen Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 20 May 2020 20:16
Untitled Document

‘n Ware epiese fantasieverhaal is dalk presies wat lesers in hierdie onstuimige tye nodig het.

Nee, ons praat nie van kinderverhale oor pratende diere, feetjies of dwergies nie, maar oor iets in die gees van JRR Tolkien se ‘Lord of the Rings’; ’n verhaal van dapper helde op ‘n gevaarlike soektog in ‘n fantasiewêreld vol monsters en toordery.

Daar is hordes sulke boeke in Engels beskikbaar en ‘n paar van hulle is ook in Afrikaans vertaal, maar nou is daar ‘n boek, ‘Arex en die Towenares’, wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is deur Austin Smuts van Faerie Glen.


Austin Smuts
Foto’s: Verskaf

Austin Smuts is in 1975 op Warmbad gebore. Sy ma (aan wie die boek opgedra is) was ‘n onderwyseres en sy pa was in die weermag. Sy ouers is net ná sy eerste verjaarsdag geskei en Austin en sy ma het by sy ouma en oupa op die Springbokvlakte gaan woon.

Dit is daar waar hy, as enigste kind op die plaas, in sy eie fantasiewêreld begin leef het. Hy vertel dat hy die meeste van sy tyd saam met diere deurgebring het: Daar was ‘n troetelbok, trapsuutjies, honde, ‘n wit kat en later jare ‘n marmot, konyn en baie troetelrotte.

Kort ná sy vyfde verjaardag het Austin en sy ma Pretoria toe getrek, maar hy was elke skoolvakansie terug op die plaas. Dit is in Pretoria waar sy ma ’n ontsnapte wit rot in die straat gevind het.

“Toe ons nie die eienaar kon opspoor nie, het ons haar maar gehou. Siestog, die arme diertjie was oortrek van die bosluise en doodhonger. Twee dae nadat sy by ons aangekom het, het sy agt babatjies kry. Mense besef nie hoe ongelooflik oulik, intelligent en liefdevol troetelrotte is nie,” sê hy.


Austin toe hy besturende direkteur van ’n sekuriteitsfirma was

Tarzan
Die klein Austin was gek oor die destydse Tarzan-strokiesprente en hy kon nie wag om skool toe te gaan nie, want hy wou bitter graag leer lees. Sy eerste skooljaar was egter vir hom ’n groot teleurstelling, want hy het die boeke waarmee hy moes leer lees, uiters vervelig gevind.

Toe gebruik sy ma ’n Afrikaanse vertaling van Edgar Rice Burroughs se ‘Tarzan en sy diere’ om hom te leer lees. As seun het Austin Engelse wetenskapfiksie- en fantasieverhale verslind. Sy gunsteling boeke was ‘Lord of the Rings’ deur JRR Tolkien en ‘Battlefield Earth’ deur L Ron Hubbard. Albei boeke was oor ’n 1 000 bladsye lank en Austin se enigste klagte was dat die boeke te dun was.

Hy was maar 11 jaar oud toe hy die eerste keer ’n fiksie-verhaal probeer skryf het. Van Austin 14 jaar oud was, het hy gereeld briewe aan koerante geskryf oor politieke sake en vele kere was dit ook gepubliseer.

Austin het reeds in 1996 aan ‘Arex en die Towenares’ begin skryf, maar nadat hy ‘n kreatiewe skryfwerk sertifikaat by Intec College verwerf het en ’n diploma-kursus in rolprentskryf voltooi het, het die oorspronklike storie drasties verander.


Austin was ‘n ekstra in die film, ‘Lien se Lankstaanskoene’, waar hy die veteraan Afrikaanse aktrise, Marie Pentz van ‘Koöperasiestories’-faam, ontmoet het

Hollywood
Hy het dié diploma in 2005 aan die destydse Hollywood Scriptwriting Institute verwerf. Daar het hy ook ‘n “Screenwriting Excellence Award” vir sy wetenskap-fiksie draaiboek gekry. 

Eintlik het Austin twee rolprent-draaiboeke voltooi, waarvan een in Hollywood belangstelling gekry het en die ander een amper aan ’n Suid-Afrikaanse televisie regisseur verkoop is. Altwee draaiboeke is nog by die Writers Guild of America (WGA) geregistreer.

Austin is van plan om binne die volgende drie jaar sy twee draaiboeke in boeke te verander, maar hy sê dat hy eintlik ’n bietjie skrikkerig is om die draaiboek wat in Suid-Afrika afspeel in boekvorm te publiseer, omdat dit ietwat omstrede gaan wees.

Austin het deur die jare in baie verskillende industrieë gewerk en was al ’n verslaggewer, fiksheidsinstrukteur, ’n grafiese-, spotprent- en uitlegkunstenaar, ’n finansiële adviseur asook maatskappybestuurder.


‘Arex en die towenares’

Gewapen
Ná hy moeg geraak het vir finansiële dienste het hy PSIRA-sekuriteitskursusse tot by Graad A sekuriteitsbeampte (hoogste graad) gedoen, asook die spesialisrigting, gewapende reaksie.

“Jy voel nooit meer lewendig as juis wanneer jy as reaksiebeampte drie uur in die oggend op ’n alarm of panieksein reageer en by ’n donker perseel moet ingaan nie. Jy weet nie wat om die hoek vir jou wag nie,” sê Austin.

Dit is in dié tyd wat Austin sy noemnaam verander het. Mense het hom voorheen as Johannes Smuts geken. Hy sê dat elke tweede wag in die sekuriteitsbedryf se naam Johannes is en dat elke tweede reaksiebeampte se naam Johan is. Die naam ‘Austin’ is afgelei van sy tweede naam. 

Hy was ook ’n PSIRA-geregistreerde en SASSETA-gekwalifiseerde professionele lyfwag en het gevorderde taktiese vuurwapenopleiding ondergaan. Vir ’n paar jaar was hy besturende direkteur van ’n sekuriteitsmaatskappy en nadat hy al sy aandele in die onderneming verkoop het, het hy as ’n fasiliteerder wat sekuriteitsopleiding gee, begin werk.


Austin se troetelhoender, Kiepie

Kiepie
Deesdae is Austin ‘n voltydse skrywer vanuit ‘n meenthuiskompleks in Faerie Glen waar twee wilde duiwe, Koerie en Maatjie, elke dag op sy vensterbank sit om saadjies te bedel. “Hulle is so mak, dat as die deur oop is, hulle sommer in die huis instap om kos te kom vra,” sê Austin.

Austin vertel dat hy eintlik allergies is vir vere, maar dat sy geliefde troeteldier, Kiepie, ’n kapokhennetjie is. Dié hennetjie staan egter nie saam met die hoenders op nie; sy hou van laatslaap.

Hy noem haar sommer die ‘naghoender’: Wanneer ander hoenders gaan slaap as die son ondergaan, wil Kiepie begin motte jaag. Soms vang sy selfs een.

“Kiepie is baie lief om op my been te spring as ek op ’n stoel sit, maar luister dadelik as ek vir haar sê om af te klim. Sy ‘gesels’ ook die heeltyd met my as ek in die tuin loop en as ek haar roep, kom sy altyd dadelik aangehardloop. Ek kan omtrent ’n boek net oor dié intelligente hoendertjie skryf,” sê hy.

‘Arex en die Towenares’ is as ’n e-boek in PDF-formaat beskikbaar teen R119.75 by
www.austinsmuts.co.za.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger