“Wonderwerke gebeur nog,” sê Gerda Erasmus, ma van die 12-jarige Tessa wat op Vrydag-die-dertiende Maart deur weerlig raak geslaan is.
“Tessa het letterlik uit die dood uit opgestaan. Sy het geen pols gehad nie; daar was geen asemhaling nie en haar vel was so grys,” sê Gerda.
Gerda het vir Die Bronberger vertel dat dit elke dag beter met Tessa gaan. Sy sal ná die grendeltyd kan terug gaan skool toe, alhoewel dokters aanvanklik gedink het dat haar longe, niere en brein beskadig sou wees.
Tessa Erasmus is half ses die oggend deur die weerlig getref toe sy haar marmotte buite in hulle hok op die gesin se kleinhoewe in die Boschkop-omgewing gaan kosgee het. Gerda vertel dat Tessa verskriklik lief is vir diere en dat sy haar marmotte elkeen op die naam ken en hulle oplei.
Wonderbaarlik is nie een marmot met die weerligslag dood nie. Een wyfie het te vroeg in kraam gegaan en het die babas verloor en die Woensdag ná die weerligslag is ‘n marmot onverklaarbaar dood.
Gerda vertel dat dit daardie oggend nog donker was. Die krag was af en dit het gereën, maar daar was geen donderweer nie. Gerda en haar man Norman was ook buite en skielik het hulle ‘n massiewe slag gehoor.
“Ek het dadelik vir Norman gevra waar Tessa is,” sê Gerda. Ons het eers by die hase se hok gekyk, maar daar was niks nie. Toe lê sy by die marmotte se hok. Sy was eintlik dood. Norman het haar ingedra en ek het om hulp geskree. Die bure is naby, maar kon my nie dadelik hoor nie omdat dit so hard gereën het.”
Tessa Erasmus
Foto: Verskaf
Norman het kunsmatige asemhaling op Tessa begin doen. Die Erasmusse se bure en gemeenskapsveiligheidsgroep het ‘n rukkie later daar aangekom en het Norman gehelp om Tessa op ‘n tafel op die stoep te tel. Saam het hulle probeer om haar by te bring en ná ‘n rukkie was daar ‘n flou polsslag en Tessa het stadig begin asemhaal.
Gerda en Norman het Tessa na die Wilgers-hospitaal geneem, waar sy gestabiliseer is. Die plan was om Tessa vir 36 ure in ‘n geïnduseerde koma te hou, maar hulle kon na slegs 18 ure die verdowing ligter maak.
Gerda sê dat daar ‘n klomp vriende om Tessa se hospitaalbed gestaan en bid het. Dit was opmerklik dat haar liggaamstemperatuur, bloeddruk, polsslag en asemhaling elke keer presies ‘n uur ná so ‘n gebed, merkbaar verbeter het.
Aanvanklik kon die dokters nie vasstel waar die weerlig in haar liggaam in en uit is nie. Daar is later vasgestel dat dit in is by haar arm en uit is by haar heup. Tessa het brandwonde aan die linkerkant van haar lyf en veral aan haar linkerarm en -been opgedoen.
Daar is drie gaatjies aan haar linkersy, waar die weerligstraal glo uitgekom het. Die Erasmusse het verneem dat die rubberstewels wat Tessa aangehad het, gekeer het dat die weerlig by haar voete uitkom. Die dokters het gesê dat dit meer inwendige skade sou veroorsaak het.
Tessa is later die dag na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas, omdat hulle ‘n goeie brandwondeenheid het. Daar is sy in die waakeenheid opgeneem en later na die hoësorgeenheid oorgeplaas. Tessa is ná ‘n week uit die hospitaal ontslaan en die dokters het gesê dat haar vinnige herstel ‘n wonderwerk is.
Gerda sê Tessa was intussen een aand terug in Wilgers-hospitaal oor ‘n stres-aanval, maar is sedertdien by die huis waar sy tyd saam met haar twee sussies en geliefde diere spandeer.
Teen die Bronnie se saktyd het Tessa steeds fisioterapie gekry en het ‘n wond-verpleegster vir haar brandwonde besoek. Gerda het vertel dat die wonde mooi genees en dit lyk nie asof sy langdurige letsels sal oorhou nie.
“Tessa is ‘n vegter,” sê Gerda. “Sy het al as baba begin veg vir oorlewing toe sy drie maande te vroeg gebore is. Een van die verpleegsters het vir ons gesê dat sy in al haar jare van verpleging nog nooit iemand so hard gesien baklei het om gesond te word nie.”
Gerda sê haar kind se herstel wys dat gebede beantwoord word. “Dit is vir God moontlik om iemand uit die dood te laat opstaan,” sê sy. |