Voorbladnooientjie se klein perdjies wen groot pryse Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 26 February 2020 10:22
Untitled Document

‘n Driejarige meisie, wat in Julie 2005 met twee Pirenese bergbokkies op die Bronnie se voorblad gepryk het, bedryf vandag haar eie suksesvolle miniatuurperd-stoettery.

Hannerie de Wet se ouers, Hannes en Riana de Wet, het in daardie stadium ’n partytjieplek met mak plaasdiere, Kekkel en Kraai, op hulle kleinhoewe op Bashewa bedryf. Reeds op ‘n driejarige ouderdom kon ’n mens sien dat Hannerie besonder lief was vir diere.


Hannerie en Happy-Hooves Callypso wys al die toekennings wat gewen is

Sy het op sesjarige ouderdom perdrylesse begin neem op Kekkel en Kraai se ponie, Black Beauty. Die gogga het haar gebyt en sy en haar geliefde perd, Bambi, het later baie goed gevaar met skouspring by die Sanesa skoleskoue.

Ná Bambi moes aftree en Hannerie ‘n rugbesering opgedoen het, het sy nie meer kompeterend in skoue deelgeneem nie, maar het nog vir die plesier op haar ryperd, Courtley Cavalier, gery.


Hannerie saam met Happy-Hooves Callypso; haar pa Hannes saam met Happy-Hooves Clementine en ‘n versorger saam met Chargo-co Desert Pride

Deur die jare het Hannerie se fokus na miniatuurperde verskuif. Sy het in 2013 vir Bonsai as ‘n troetelperd aangeskaf en het later saam met Bonsai in die springafdeling van die Miniatuurperd Vereniging se skoue deelgeneem.

So het Hannerie stelselmatig meer miniatuurperdjies aangeskaf tot sy in 2018 haar eie miniatuurperdstoet, ‘Happy-Hooves Miniature Horse Stud’, geregistreer het. Sy is die jongste lid van die Miniatuurperd Vereniging en neem gereeld aan die skoue se hindernisklasse en teelklasse deel.


Bonsai skrik nie vir ‘n uitdaging nie

Haar pa, Hannes, wat ook ‘n buitelug-mens is, geniet dit om sy dogter by te staan om dié droom van haar te verwesenlik. Haar stoet staan reeds 11 perdjies sterk en sy het drie dragtige merries wat binnekort moet vul. Die eerste merrievul wat Hannerie self in haar eie stoet geteel het, is Happy-Hooves Callypso, wat in 2019 die prys van kampioen merrievul (nul tot een jaar) verower het.


Hannerie by Roots ‘n wings Lego, wat kampioen junior hings vir 2018 gewen het

In 2017 het haar hingsvul, Roots ‘n Wings Lego, perdesiekte gekry en Hannerie het dié perdjie dag en nag versorg. Sy kon hom gelukkig deurtrek en in 2018 het Lego vele skoue gewen en het reserwe kampioen junior hings vir 2018 gewen.


Hannerie by Happy-Hooves Callypso, wat in 2019 die prys van kampioen merrievul verower het
Foto’s: Verskaf

Sedert Hannerie se stoet in 2018 geregistreer is, het sy ‘n hele paar ander pryse ook ingepalm. In 2018 het sy die prys vir beste senior hanteerder verower. Dit is die afdeling vir hoërskoolkinders. In 2019 het sy die prys vir beste senior hanteerder gekry en dieselfde jaar het Happy-Hooves Callypso die prys vir kampioen merrievul in die teelklasse verower.


Hannerie as driejarige op die Bronnie se Julie 2005 voorblad

Hannerie is baie dankbaar vir haar mentor, Paul Couzyn, wat gehelp het om haar stoet te stig en wat haar met raad bystaan. Sy het in 2019 matriek geskryf en is nou by Unisa ingeskryf om haarself as dieregesondheidstegnikus te kwalifiseer. Sy werk deeltyds by ‘n saalperdstoet.

 

© 2024 Die/The Bronberger