Veterane hou ‘n skouerskuur op Mooiplaats Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 26 February 2020 10:20
Untitled Document

Die United Veterans Association (UVA) hou van 13 tot 15 Maart ‘n skouerskuur op plot 55, Mooiplaats.
Een van die organiseerders van dié byeenkoms en UVA komiteelid, Leon Poolman, verduidelik dat die groep in Augustus 2019 gestig is om oud-weermaglede bymekaar te kry om ou vriendskappe weer aan te wakker. Die doel is ook om veterane te laat netwerk om nuwe bande, veral sakebande, te smee.

Leon sê dat daar veral ‘n baie sterk band is tussen oud-weermaglede wat saam in die grensoorlog diens gedoen het. UVA komiteelede kom van eenhede soos 32 Bataljon, 61 Meg, Tegniese Dienskorps (Tiffie) en Infanterie. Leon is ‘n gewese lid van die Staatspresidentswag.


Die destydse Staatspresidentswag

Die groep se ledetal is 2 454 en die beskermheer is kolonel William Endley, die man wat in Suid-Sudan gevange geneem is en tot dood veroordeel is. Hy is na 18 maande vrygelaat en is die skrywer van die boek, ‘No Justice No Mercy’.

“Die hele Bronberg-gemeenskap word uitgenooi om die dag by te woon en almal van ons omgewing wat wil kom uitstal en kos wil verkoop, is meer as welkom. Ek gaan niks vra vir ‘n uitstalplek nie,” sê Leon.

Ingang is op Vrydag 13 Maart vanaf 12 uur vir mense wat wil kampeer. Tente en karavane is op bespreking beskikbaar. Verrigtinge begin die Saterdag vanaf 8 vm tot laat en diegene wat oorslaap, kan eers die Sondag vertrek.


Die United Veterans Association se kenteken
Foto’s: Verskaf

Die Angola War Vet Brotherhood se kenteken
.

Die Saterdagoggend begin met ‘n parade. Bruce Folis, Jenny van Tin Roof restourant se man, gaan met die vlaghysing ‘n verbyvlug met sy helikopter doen. Leon verduidelik dat die groep ‘n vlagprojek aangepak het, waar hulle die vlae van soveel as moontlik eenhede laat maak om by die funksie te hys.

Sprekers vir die dag is kolonel Will Endley en Wikkus van Stade. Musiek is deur Duar Burger en Sonet Shields. Daar gaan ‘n potjiekoskompetisie wees waar alle eenhede teen mekaar gaan kompeteer. Die potjiekos word verkoop en opbrengste gaan na die betrokke eenheid of groep.

Daar is ook ‘n bring-en-braai vir belangstellendes. Pap, sous en stampmielies sal voorsien word. Die hengelkompetisie gaan met pryse gepaard. Verskeie uitstallers bied kraampies waar memorabilia en veteraanklere beskikbaar sal wees.


Al is die groep eers in Augustus 2019 gestig, het hulle al twee suksesvolle skouerskure gehou met 216 gaste by die eerste en 144 gaste by die tweede geleentheid

Ander aktiwiteite sluit in ‘n veteraan motoruitstalling, perdry, valskermspringers, ‘n vliegtuigvertoning, roeibootjies en uitspan onder die bome. Vir die kinders is daar springkastele, ‘slip and slide’, lekkergoed en kraampies wat volop te koop aanbied.

Besoekers word gevra om blikkies ingelegte kos, klere en komberse saam te neem vir skenkings aan In His Honour Outreach Foundation, wat behoeftige veterane huisves en ondersteun.
Dié organisasie is deur Mike Cronjé, ‘n oud-Valskermbataljonlid, gestig. Mike en sy span
help manne om weer “op te staan” en die lewe met durf aan te pak. Soos alle sulke instansies is daar voortdurend ‘n nypende tekort aan finansies.


‘n Vorige byeenkoms van die UVA

Besoekers kan ook hulle ou weermagklere en ander items saamneem om opgeveil te word.
Vir navrae, bel Peter Haan by 082-552-4986; Leon Poolman by 083-307-5252; of Nico Smith by 060-394-2843. Mense kan ook by die United Veterans Association op Facebook aansluit. Dié groep is geaffilieer met Go-Bid (Pty) Ltd om ‘n aanlyn platform vir veterane te skep.

 

© 2024 Die/The Bronberger