Isabel se aanstelling vul groot leemte Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 26 February 2020 10:04
Untitled Document

Isabel Groesbeek van Lynnwoodrif is as die hoof van ‘n splinternuwe genealogiese navorsingslessenaar by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangestel.

Die aanstelling vul ‘n groot leemte wat gelaat is met die sluiting van genealogiese navorsingsinstansies, soos die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) in 2018 en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se afdeling Geneologie-inligting in 1997.

Isabel loop reeds ‘n lang pad saam met die Bronnie, waar sy die Genealogie- en Familie-erfenisfeeste, wat sy vir langer as ‘n dekade in Lynnwoodrif gehou het, adverteer het. Isabel het seker gemaak dat daar altyd Bronberger-tydskrifte by haar feeste is.

Isabel sê dat genealogiese navorsing in Suid-Afrika aangewese is op enkele professionele navorsers, vrywilligers in die vakvereniging, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika en biblioteek- en argiefdienste verspreid oor die land.


Isabel Groesbeek met haar eie erfenisalbum in die FAK se Afrikaanse liedjietuin
by die Voortrekkermonument
Foto: Verskaf

“Die internetdata skep gevaar dat belangstellendes net data klakkeloos naskryf, sonder raadpleging van primêre bronne en die FAK-Genealogielessenaar kan ’n bydra lewer om lede van die publiek meer bewus te maak en ondersteuning te bied vir die wetenskaplike navorsingsmetodiek en bewaring van kultuurerfenis,” verduidelik sy.

Genealogie, die verkryging van kennis van ’n familie, is vir Isabel ’n absolute passie. “Genealogie maak vir jou die wêreld oop,” sê sy. “Die meeste mense wil weet van watter stamlande hulle kom. Hulle wil weet wie in die familie het met wie getrou en wie hulle is. Die samestelling van al daardie gene. Jy gaan dít dan in jou navorsing ontdek en waar jy inpas en wie jy eintlik is.”

Isabel sal onder meer genealogiese konsultasies reël en genealogiese werkswinkels, soos die‘Van waar Gehasi?’-beginnerwerkswinkels, en lesings aanbied.

Sy sal potensiële genealoë mentor, genealogie-navorsersregisters opstel en byhou, navrae hanteer,’n genealogie-databasis van FAK-lede se voorouers opbou en genealogie as wetenskap en tydverdryf bekend maak deur gesprekke, optredes, uitstallings, ’n genealogiefees en die skryf van artikels.

 

© 2024 Die/The Bronberger