Legendes se nalatenskap word nou bewaar Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 26 February 2020 10:03
Untitled Document

‘n Splinternuwe museum om die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te bewaar het op 26 Januarie oopgemaak. Die openingseremonie van die Suid-Afrikaanse Legendes Museum was ‘n glansgeleentheid wat deur ‘lewende legendes’ en sowat 250 genooide gaste bygewoon is.

Die museum in Duncan Yard, Prospectstraat 1204, Hatfield bring hulde aan Suid-Afrikaanse sangers, akteurs, skrywers en radio- en televisiepersoonlikhede uit die laaste eeu.


Min Shaw saam met Shaun Mynhardt. Sy gee vir hom haar Huisgenoot Skouspel-toekenning, die uitrusting wat sy op die Skouspel-verhoog gedra het en haar FAK-toekenning

Die museum is ’n eerste in sy soort en stigter Shaun Mynhardt se passie vir die projek spruit voort uit sy verwantskap aan die toneelspeler, Siegfried Mynhardt. Shaun vertel dat hy met sy oom Siegie se dood ‘n klein tassie gekry het wat onder meer sy oom se Artes-toekenning vir beste akteur in ‘Die Houtbord’ in gehad het.


Uitrustings, toekennings en persoonlike memorabilia word in dié museum uitgestal
Foto’s: SA Legends Museum

Hy sê dat Cora Marie en Min Shaw ook ‘n groot invloed op die museum se totstandkoming gehad het. Min het ‘n paar jare gelede vir Shaun gevra wat met haar goed sal gebeur wanneer sy nie meer daar is nie. Shaun het gou agtergekom dat ander legendes dieselfde bekommernis het. Daar was nêrens in Suid-Afrika ‘n plek waar dié mense se nalatenskap behoue kon bly nie en baie toekennings, filmrolle en ander memorabilia het op ashope beland.


Shaun Mynhardt saam met Annelisa Weiland, bekend vir haar rol as Hilda in ‘7de Laan’ wat sy vir 20 jaar tot in 2019 vertolk het. Sy speel deesdae in ‘Suidooster’ en in die beginjare van televisie was sy Heidi se stem

Altesaam 116 legendes se bydrae en nalatenskap word in dié museum gevier. Name strek van Al Debbo, Gé Korsten en Bles Bridges tot Lydia Winchester, Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland, Tinus Esterhuizen, Anneli van Rooyen en Riaan Cruywagen; van Gert van Tonder, Shaleen Surtie-Richards, Rina Hugo, Liz Meiring en Richard Loring tot Judie Page, David Gresham, Amanda Strydom, Zack du Plessis, Esmé Euvrard, Virginia Lee, Mimi Coertze en Lance James.

Besoekers kan kyk na dié legendes se persoonlike gedenkwaardighede, soos verhoogklere, toekennings en goue plate, asook standbeelde, borsbeelde en ’n video biografie van elke legende.


Borsbeelde is van die legendes gemaak

Daar is ook ‘n teater en 25% van kaartjieverkope word aan die Teater Bystandsfonds geskenk.

Die museum is van Dinsdae tot Sondae tussen 9 vm en 3 nm oop. Toegang is gratis, maar skenkings word aanvaar.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.salegendsmuseum.co.za.

 

© 2024 Die/The Bronberger