Aanval kry dié predikantspaar nie onder nie Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 26 February 2020 10:02
Untitled Document

‘n Bejaarde dominee en sy vrou, wat in 2018 ’n gewapende roof en gewelddadige aanval oorleef het, het onlangs hulle 60ste huweliksherdenking gevier en sê dat hulle steeds beskikbaar is vir gemeentes wat van hulle dienste gebruik wil maak.

In Augustus 2018 het ons berig dat die tagtigjarige dominee, Nico Rautenbach, en sy vrou, Elise, op 8 Julie in hulle huis in Garsfontein aangeval is. Ds Nico se neus is gebreek, hy het ernstige kopbeserings opgedoen en was vir twee weke in Pretoria-Oos Hospitaal se intensiewe sorgeenheid waar hy vir intrakraniale bloeding behandel is.


Nico en Elise Rautenbach se troudag op 19 Desember 1959 in die NG-kerk op
Middelburg, Mpumalanga
Foto’s: Verskaf

Hy is weke na sy ontslag nog vir breinswelling behandel en het erge hoofpyne gekry, maar het bykans dadelik begin om elke dag weer klein entjies te stap. Ds Nico en Elise sê hulle glo aan fiksheid, stap daagliks lang afstande en besoek gereeld die gymnasium.

Dié was nie die eerste keer dat ds Nico breinbeserings moes oorkom nie. Hy het in 1998 ’n breinoperasie gehad en die dokters het gevrees dat daar ernstige nagevolge sou wees. Daar was ’n moontlikheid dat hy sy stem kon verloor en verlam sou wees. Ds Nico was net vir drie maande aan sy linkerkant verlam, maar het volkome herstel.

Ds Nico het vir 26 jaar eredienste en ander godsdiensprogramme oor die radio uitgesaai en het die organisasie van Pretoria FM se godsdiensuitsendings behartig. Elise was hoof van musiek by Radiokansel.


Elise en Nico Rautenbach

Die egpaar was die stigters en leiers van die a capella koor wat veral in die 1970’s en 80’s bekendheid in Suid Afrika, Israel en Europa verwerf het. Hulle wasdie eerste Suid-Afrikaanse koor wat deur Israel se Department van Toerisme genooi is om saam met kore van regoor die wêreld op Ou Kersaand by die jaarlikse Bethlehemfees op te tree.

Met dié koor se 40-jaar reünie het hulle in die Atterbury-teater, Brooklyn-teater en by die Aardklop Kunstefees opgetree. ’n CD is van hulle optredes gemaak.

Drie kinders is uit ds Nico en Elise se huwelik gebore en hulle spog met vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders. Hulle woon sedert 1988 in die ooste van Pretoria – eers in Faerie Glen en deesdae in Garsfontein.

 

© 2024 Die/The Bronberger