Steyn slaag skooljaar ondanks trauma Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Steyn Steenberg, wat ná ‘n ernstige motorfietsongeluk in die laaste twee kwartale van verlede jaar 63 uit 100 dae afwesig was, het graad 10 by Garsfontein Hoërskool geslaag. Daar was ook baie dae wat hy net halfdag by die skool was.

Steyn is op 22 Julie, knap 12 weke ná die ernstige motorfietsongeluk waarin hy sy been verloor het, terug skool toe. Hy het op 12 Mei omtrent een kilometer vanaf Kitty Hawk met sy motorfiets teen ‘n staalversperring gebots en al drie hoofslagare in sy linkerbeen is afgesny. Altwee sy longe het platgeval as ‘n gevolg van gebreekte ribbes en impak op sy borskas. Hy het ook ’n ernstige fraktuur van die bekken, bloeding op die milt, ’n sny in die linker nier en gebreekte linker-gewrig gehad.

In die teater het hy twee keer ingegee en het die span dokters omtrent 30 minute gesukkel met resussitasie. Dit het later aan die lig gekom dat hy ligte beroertes in twee areas van die brein gehad het, wat sy spraak en sig aangetas het.


Steyn Steenberg
Foto: Steyn se Storie

Steyn se spraak het, danksy spraakterapie, baie verbeter maar hy sukkel nog met sy sig aan die linkerkant van albei oë, wat ‘n neurologiese probleem is. Sy ouers samel geld in vir sigbehandeling en ‘n beter prostese. Hy is op 3 Oktober weer geopereer om ‘n pynlike neuroom, wat op een van sy geamputeerde senuwees ontwikkel het, uit te sny en hersiening op sy geamputeerde been te doen.

Steyn se ouers, Jacques en Christa Steenberg, was bekommerd oor die baie skoolwerk waarmee Steyn agter geraak het. Toe hy ná sy tyd in die hospitaal in rehabilitasie was, moes Jacques en Christa hoor dat hy kognitiewe skade opgedoen het en dalk nie verlede jaar sou kon teruggaan skool toe nie. Steyn het geweier om sy jaar oor te doen en het gevoel dat, hoewel hy gesukkel het om te sien en te praat, daar nie fout met sy denkvermoë was nie.

Steyn het op 19 Desember 17 jaar oud geword en sy ouers het ‘n verrassingspartytjie vir hom gereël. Die gesin het op 27 Desember op vakansie vertrek na Macachula strandkamp in Mosambiek, waar hulle die nuwe dekade begroet het.

Steyn is vanjaar in graad elf op Garsfontein Hoërskool. Hy het verlede jaar al sy vakke deurgekom, maar gaan een vak verander met die oog op toekomstige studies, wat in dié stadium lyk of dit ingenieurswese gaan wees. Hy moet ook binnekort nog ‘n operasie kry om sy gebreekte pelvis te herstel.

Vir meer inligting oor fondsinsamelingsprojekte vir Steyn, besoek die Facebook-blad ‘Steyn se storie’.

 

© 2024 Die/The Bronberger