Winkels waar jy ‘n verskil kan maak Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 10 December 2019 07:48
Untitled Document

Die feesseisoen is op ons en dié jaar het jy ‘n kans om ‘n verskil te maak – stap bloot by jou naaste liefdadigheidswinkel in en koop iets daar vir Kersfees of skenk iets.

Dié winkels is die ideale manier om van enigiets wat in die pad staan ontslae te raak
– van skoene, speelgoed en sporttoerusting tot klere, kombuisgoed en kaste; van boeke tot beddegoed, gordyne, meubels en tuingoed.

Daar is sulke winkels in alle uithoeke van ons kontrei:

Zwavelpoort

Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) se reis het in 1983 met die Paul Jungnickelhuis vir volwassenes met gestremdhede begin. Al KWO se welsynsprojekte het oor die jare uit dié tuiste gegroei: Die Kungwini Leersentrums waar kinders onderrig ontvang; en die Kungwini gemeenskapsprojekte waar ontwikkelings- en maatskaplike dienste gelewer word. KWO se tweedehandse winkel, Second Chances, is handig bereikbaar vir hoewebewoners. Hulle is op plot 214, Lynnwoodweg-verlenging en die winkel is oop van 9 vm tot 3.30 nm. Skakel hulle by 087-096-0134.

Bronkhorstspruit

Ons Winkel op Bronkhorstspruit is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand. Goedere wat ingeneem word, word in geld omskep wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds vir studente benut word.

Opbrengste word ook aangewend vir ander projekte wat poog om Afrikaner-armoede te verlig. Ons Winkels regoor die land dien as werkskepping vir mense wat in dié winkels werk. Ons Winkel is in Lanhamstraat 44, Bronkhorstspruit. Bel Petrus van Loggerenberg by 083-455-9535.

Tierpoort

Residence At Home is ‘n groep gestremde jong volwassenes wat weekliks in ‘n werkswinkel op Tierpoort werk. Hulle bied baie produkte te koop aan, soos pottebakkerswerk, plante, mosaïek, handgemaakte kussings en handsakke. Hulle werkgroep staan bekend as Residence at Work, op plot 176, Nkweweg. Vir meer inligting bel Soreta Engelbrecht: 071-634-9168.

Rayton

Qumi-huis is ‘n Rayton-gebaseerde nie-winsgewende, nie-regeringsorganisasie wat versorging aan intellektueel-gestremde volwassenes bied en ook dagsorgsentrums vir sulke volwassenes bied. Qumi het in 2007 tot stand gekom en is in Naudestraat 2. Hulle het ‘n winkel met tweedehandse goedere by die Pick n Pay-winkelsentrum op die hoek van Treurnichstraat en Mainweg, Rayton.
Skakel 012-734-5242 of 071-609-1070.

Pretoria-Oos

Sungardens Hospice in Pretoria-Oos, wat omsien na terminale siek pasiënte, het ‘n hele paar winkels waar tweedehandse goedere bekom kan word. Hulle boekwinkel is een van die top vyf tweedehandse boekwinkels in die land. Daar is ook ‘n klerewinkel en wit olifant-winkel, genaamd Aladdin’s Cave. Die winkels is oop van 8.30 vm to 4 nm op weeksdae en van 8.30 vm tot 1 nm op Saterdae. Sungardens Hospice is op die hoek van Lynnwoodweg en January Maselelarylaan met die ingang by Twigstraat 18, Lynnwood Glen X3. Stuur ‘n WhatsApp: 083-773-6014; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; of skakel 012-348-1934.

 

© 2024 Die/The Bronberger