Boks-vir-‘n-Boervrou bring hoop in droogte Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 19 November 2019 14:48
Untitled Document

Boks-vir-‘n-Boervrou, ‘n projek wat stil-stil in Wellington afgeskop het, het die land behoorlik aan die brand. Anonieme stads- en dorpsvroue van reg oor Suid-Afrika is druk aan die pak om bederf-dinge vir boervroue in droogte-geteisterde gebiede te stuur en die Bronberg-gebied se vroue staan glad nie terug nie.

Die doel is om boervroue op plase, wat onder die droogte gebuk gaan, voor Kersfees met ‘n geskenk van hoop te verras. Kies ‘n skoenboks of ‘n wynboks en maak hom vol met goed soos badkameritems, lekkergoed wat nie smelt of breek nie, noedels, blikkieskos, kondensmelk, vitamien bruistablette, ‘n tydskrif, penne en potlode, pleisters, pynpille, koffie, soppoeier, ‘n blik mielies of ’n mooi serpie en selfs haarrekkies, lipstiffie of maskara en skeermessies. Jy kan insit wat jou sak pas.

Al die bokse moet in koerantpapier toegedraai word met ‘n mooi lint daarom gebind. Jy kan meer as een boks skenk of saam met iemand ‘n boks opmaak, maar geen name moet bygesit word nie.


Anonieme vroue by bederf-bokse vir droogte-boervroue

Briewe
Die dankie-sê briewe wat van dié boervroue terug kom het daarom ook anoniem gebly. Een van die boervroue skryf: “Toe my man die boks huis toe bring, was my heel eerste gedagte: Verdien ek dit regtig? Het iemand anders dit nie meer nodig nie? En soos ek uitpak besef ek dat ons as mammas en vrouens in die huis altyd heel eerste by ons behoeftes sny. Ons los liewer dié week die sjampoe want jy kan nog joune rek met ’n bietjie water. Jy los liewer jou oogpotlood wat klaar is want klein sus het doeke nodig. Jy loop verby die mooi toppie in die winkel want ousus het klere vir die skool nodig.”

“Dankie dat julle almal die moeite doen om ’n boervrou weer te laat voel ‘dis OK, ons het jou’ . . . Ons harte is nie altyd so vol moed nie, ons dra swaar saam met ons manne aan die droogte, ons koppe is sif gedink aan planne om net die maand deur te kom. Ons manne se moed is baie laag. En ons s’n ook . . . ons wil dit net nie wys nie! Maar elke boks wat elkeen van julle stuur en pak gee almal weer so bietjie moed.”


Die inpak-proses op Cullinan
.

Bokse-vir-‘n-Boervrou wat in Oktober uit
Cullinan gestuur is

Oom
Dan is daar die vrou wat skryf oor ‘n oom wat haar gebel het om dankie te sê vir so ‘n boks vir sy vrou: “Behalwe daai oorvloedige 20 bale voer, kry die ouvrou toe mos ook ‘n boks. En jy sal my nou nie glo nie, dis wragtig op haar verjaarsdag. Sy is 73 jaar vandag.”

Dit was vier jaar sedert dié oom en tannie iets vir mekaar kon koop vir ‘n verjaarsdag. Hulle het mekaar elke jaar maar net ‘n drukkie gegee. “Ons vier hande maak toe saam daai Heer se boks oop . . . koffie, koekies, ‘n bottel wyn, haargoeters, koekie seep . . .”

Die oom het vertel van al die ander goed in die boks, selfs ‘n string pienk pêrels en onderbroeke vir hom, en sê: “En toe gaan sit ek en ma asof ons nog 20 jaar is en vryerig is, plat op die kombuisvloer met ons koekies en wyn en vier ma se verjaarsdag.”


Rye bokse staan gereed om na Wellington gestuur te word

Pakwerk
Pakwerk aan sulke bokse in ons kontrei is gedoen deur vrouens en instansies, wat in baie gevalle ook nie hulle name genoem wil hê nie. Uit Cullinan is die eerste besending sulke bokse in Oktober Wellington toe. Nog ‘n besending is op 6 November na die Karoo om aan die boere van Beaufort-Wes en omgewing uitgedeel te word.

Diegene wat by toekomstige projekte in Cullinan betrokke wil raak, kan ‘n WhatsApp stuur na
072-223-7522.

Uit Waterkloofrif het Cornémari Viljoen op 4 November weggespring met haar bokse en self na Victoria-Wes in die Karoo gery waar sy die bokse by samekomste uitgedeel het. Daarna was sy op pad na Vosburg en Loxton. Bel haar by 082-653-1432.

In die oostelike hoewegebied staan Heila Lochner gereed om bokse te ontvang. “My tannie in Prieska, ook ’n boervrou, doen dit in haar omgewing op ’n klein skaal en dis hoe ek betrokke geraak het,” sê sy.

Heila woon op gedeelte 8, Tiegerpoort, 1 km verby Stoffel se Troffel, rigting oos. Mense kan haar WhatsApp as hulle bokse wil aflewer: 082-551-9309.


Anonieme meisies besig om bokse te pak

Aflaaipunt
Kungwini Welsynsorganisasie is ook ‘n aflaaipunt vir dié bokse by die Nickel Kersmark van
20 November tot 1 Desember van 9 vm tot 6 nm. Die adres is plot 214, Lynnwoodweg-verlenging, Zwavelpoort. Skakel 012-940-0221.

In Pretoria-Oos kan bokse afgelaai word by Tiana’s Little Shop op die hoek van Olympusweg en Henleystraat, Faerie Glen. Skakel 082-828-9026.

Diegene wat so gelukkig is om vanjaar op vakansie te gaan en wat deur die Karoo ry, kan vooraf bel en reël om so ‘n boks op ‘n dorp langs die pad te los. Daar is ‘n lys kontakname en -nommers op Boks-vir-’n-Boervrou se Facebook-blad.

Een van die boervroue in ‘n droogtegebied wat ‘n bederf-boks ontvang het, skryf: “Ons is so dankbaar vir al julle anonieme vriendinne. Almal wat iets gestuur het: dankie, dankie, dankie! Mag ons dalk eendag oor mekaar se pad kom. En mag ons boervrouens dalk weer eendag iets vir julle beteken. Ons vra steeds dat elkeen van julle groot, groot asseblief sal bid vir reën.”


Cornémari Viljoen by die bokse wat sy inpak
Foto: Marizka Coetzer

 

© 2024 Die/The Bronberger