‘Afrikaners is plesierig’ Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 19 November 2019 14:30
Untitled Document

Betsie Steyn

’n Vrolike Kultuurfees is in Oktober op Kleinfontein gehou om die lente, Afrikaans en Krugerdag te vier. Dit was opvallend hoeveel jongmense dié fees bygewoon het.


’n Klompie lede van die skoolkoor het vrolik meegedoen

Ds Lood van der Merwe het ’n kort vertelling oor die groei en gebruik van Afrikaans gehou. Die CVO-skoolkoor het ‘Dankie’ en ‘Afrikaners is Plesierig’ gesing, wat Gerrit en Teresa Myburgh met danspassies uitgebeeld het. Elsie Kieser het vir die klavierbegeleiding gesorg.


Gerrit en Teresa Myburgh voer ’n paar danspassies uit terwyl die skoolkoor
‘Afrikaners is plesierig’ sing
Foto’s: Carel Breytenbach en Marietjie Fourie

Theuns de Wet het oor president Paul Kruger se spitsvondighede en sterk geloof gepraat. ’n Komiese voorlesing van Ferdinand Deist is gelewer en die gehoor het die humor van die Sandveldstorie baie geniet.


Die sanggroep met ’n vrolike verwerking van ‘Bootjie na Kammaland’. Van links na regs: Marizanne van den Berg, Gerrit Myburgh, Ben Moolman en Elsie Kieser met Betsie Steyn op die klavier

’n Sanggroep het vir lekker Afrikaanse liedjies gesorg. Ben Moolman het ’n saksofoonitem gelewer en ‘Die Blommelied’ uit Lakmé van Delibes het heeltemal anders daarop geklink. Hy is deur Elsie Kieser op die viool bygestaan. Die gehoor is ingespan met samesang en daar was ’n musiek- en geskiedeniskompetisie met pryse.

 

© 2024 Die/The Bronberger