Gratis gawe van sig aan 45 behoeftiges Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 19 November 2019 14:29
Untitled Document

Gratis katarakverwydering-chirurgie ter waarde van R1 125 000 het die gawe van sig aan 45 behoeftiges terug gegee. Oogspesialis, dr Marcel Niemandt van Hazeldean, het dié mense op 14 en 15 Oktober geopereer as deel van Internasionale Ooggesondheidbewusmakingsweek.

Dit is die sesde jaar wat dr Marcel Niemandt dié operasies doen en die hoofborge is Intercare Mediese Sentrum in Hazeldean en Operation Healing Hands, ‘n span dokters in die private sektor. Dr Niemandt is ‘n gereelde adverteerder in Die Bronberger.


Dr Marcel kry dankbare terugvoer
Foto: Groot FM

Dit is die tweede jaar wat Helpende Hand gehelp het om behoeftige mense vir die operasies te identifiseer. Die identifisering van pasiënte het reeds in April begin. Die kriteria was onder andere lae inkomste en geen mediese fonds nie en die pasiënt moes al aansoek gedoen het by die staat.

Die koste van dié prosedure is R25 000 tot R30 000 en dr Marcel sê dat die meeste bejaardes dit nie kan bekostig nie en hulle name op lang waglyste by staatshospitale moet plaas.

Dr Marcel het in 2013, toe hy by Intercare Mediese Sentrum in Hazeldean begin praktiseer het, onderneem om elke jaar ’n week op sy te sit om ’n aantal behoeftiges se las ligter te maak.


Dr Marcel Niemand verwyder ‘n oogklappie
Foto: Groot FM

In 2013 kon hy tien mense so help. Daarna kon hy jaarliks al hoe meer mense help, maar ongelukkig kon hy in 2017 niemand help nie weens befondsingsprobleme.

Daar was vanjaar 104 aansoeke, waarvan ongelukkig net 45 gehelp kon word, weens tyd- en geldelike beperkings. Dr Marcel gee sy tyd en Intercare Hazeldean borg die teatertyd en personeel.


Pasiënte in die spreekkamer
Foto: Groot FM

Navorsing wys dat minstens 80% van alle verswakte visie of blindheid voorkombaar is en dat die mees algemene oorsake daarvan katarakte is. ’n Katarak is ’n opeenhoping van proteïen op die ooglens, wat visie beïnvloed. Dit word dikwels met mense wat al ’n rype ouderdom bereik het, vereenselwig.

Ansie du Plessis van Bronkhorstspruit was een van die mense wat gehelp is. Haar dogters, Selma en Suzette, het deur Helpende Hand aansoek gedoen om dié gratis operasie te kry.

Ansie, ‘n voormalige verpleegster, woon op haar eie en het begin sukkel omdat sy nie meer mooi kon sien nie. Dr Marcel se geskenk aan haar was om haar selfstandigheid terug te kry.


Ansie du Plessis van Bronkhorstspruit met haar dogters, Suzette, links en Selma, regs
Foto: Verskaf

Ansie s’n was nie die enigste trane van blydskap en dankbaarheid toe oogklappies afgehaal is en sy weer vir die eerste keer in jare duidelik kon sien nie. Die wagkamer in Hazeldean was vol mense wat baie meer as net hulle sig terug gekry het met dié gratis operasies.

‘n Verteenwoordiger van Operation Healing Hands het gesê dat dit wat dr Marcel vir die mense gee, lewensveranderend is. Dit is ’n klein ding wat ’n groot inpak op ’n mens se lewe het.

 

© 2024 Die/The Bronberger