Klub stuur hondekos vir boere in nood Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 19 November 2019 14:27
Untitled Document

Die Hazeldean-gebaseerde Praetor Rottweiler-klub het op 24 Oktober ‘n besending hondekos na boere in ’n droogte-geteisterde gebied gestuur. Die kos is op die naweek van 26 Oktober by ‘n uitreik aan die boere op Klipbank uitgedeel.

Dié Rottweiler-klub het saamgestaan en ‘n fondsinsameling onder aanvoering van Letsie Fischer gehou. Letsie sê dat sy en haar man, Johan, die Droogtehulp Musiekdag by Moreletapark-gemeente bygewoon het. Dit het haar bewus gemaak van die nood onder boere en sy wou aanvanklik aan die Boks-vir-‘n-Boervrou-projek deelneem.  


Tina Connoway van SA Water Warriors, links, by Michelle Roodt de Bruin van Nutribyte, regs, saam met Biofarm se mense wat help laai het. Deon Smit van Water Warriors staan agter hulle.
Foto’s: Verskaf

Letsie het die organiseerder van dié projek, Juanita Loubser van Wellington VLV, gebel en gesê dat sy van ‘n hondeklub in Pretoria is. Juanita vra toe hoekom die klub nie eerder hondekos vir die boere stuur nie.

Letsie het dié idee aan die Praetor Rottweiler-klub voorgelê en binne ’n japtrap het dié klub, wat ongeveer 30 lede het, R16 200 ingesamel. Letsie het Michelle Roodt de Bruin van Nutribyte genader en Michelle het gereël dat die hondekos teen ‘n spesiale afslagprys aangekoop kon word.


Die honde- en katkos word gelaai

Die klub het 41 sakke hondekos vir volwasse honde aangekoop en Michelle het gesorg dat Nutribyte ‘n gratis bydrae maak van kos vir werkshonde, dragtige honde, klein hondjies asook katkos.

Biofarm se mense het gehelp om die dierekos te laai en die aflewering is gratis deur Tina Connoway van SA Water Warriors gereël. Dié groep is gestig om Suid-Afrikaners te help om water, kos, voer en nie bederfbare produkte by gesinne in droogte geteisterde gebiede te kry.


‘n Vrag kos in een van die droogte-bystand bakkies

Letsie vertel dat die Praetor Rottweiler-klub gaan opvolg met verdere fondsinsamelingsprojekte vir die boere en dat hulle ook besig is om fondse vir Rottie Rescue, ‘n landswye reddingsgroep vir Rottweilers, in te samel.

Sy sê dat daar in dié slegte ekonomiese toestande al hoe meer Rottweilers by die instansie afgelaai word omdat eienaars hulle nie meer kan bekostig nie. As jy by een van dié projekte betrokke wil raak, bel Letsie Fischer by 082-922-4786.


Die sakke hondekos kom op 26 Oktober saam met ander nood-voorraad op Klipbank aan

‘n Klipbankse seun dra ‘n sak kos vir sy hond
 

© 2024 Die/The Bronberger