Eiesoortige Robert laat leemte Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 19 November 2019 14:27
Untitled Document

Die wêreld het ‘n merkwaardige, eiesoortige mens verloor toe Robert Denton in die vroeë oggendure van 3 November skielik oorlede is. Hy is vermoedelik aan ‘n hartaanval dood.

“Jy was die liefde van my lewe, ek weet nie wat ek gaan doen sonder jou nie,” is hoe sy vrou, Lientjie Wessels, die nuus op Facebook gedeel het, knap ná ‘n video-snit van Robert se danspassies van vreugde toe die Springbokke die Rugby Wêreldbeker gewen het.

“Robert het die hele week voor die wedstryd dié rugby-kyk partytjie beplan,” sê kunstenaar Lientjie, wat landswyd bekend geraak het vir haar deelname aan die KykNET werklikheidsreeks, Kokkedoor.

Robert se liefde vir rugby is hoogs waarskynlik beïnvloed deur sy pa, Robert, wat vir baie jare op die Noord-Transvaalse Rugby-unie se bestuursraad was.

Robert en Lientjie het op ‘n plaas op De Tweedespruit noord van Cullinan gewoon. Op dié dorp beskryf mense Robert as “’n legende in sy eie leeftyd”. Die onverwagte nuus van sy afsterwe in die “fleur van sy lewe” het die gemeenskap geruk.


Robert Scott Denton

Robert Scott Denton is op 3 Augustus 1966 in die Marifont Moedersbond in Pretoria gebore. Hy was op Laerskool Pretoria Oos en op Afrikaans Hoër Seunskool. Daarna was hy op Stellenbosch Universiteit en het ‘n media skakelpersoon vir die Suid-Afrikaanse Polisiedienste geword.

Lientjie onthou die presiese dag wat sy Robert ontmoet het – dit was op 18 Augustus 2003. Hulle is in 2005 op Cullinan getroud en het daarna alles saamgedoen, tot so ‘n mate dat ‘n jarelange vriendin van Lientjie nie eens besef het dat Lientjie self kan bestuur nie.

Dié twee se eiesoortige samewerking was veral te siene in die 2016 vasvrareeks deur Via TV, ‘Huisgenoot’ se ‘Grootse Genoot’ met aanbieder Rian van Heerden, wat Robert en Lientjie amper gewen het.


Robert en Lientjie op die ‘Grootse Genoot’ in 2016

Hulle het onder andere Li Belle restaurant in Sunnyside en Albizia op Cullinan gehad. Vreethans het in Oktober 2011 daar besoek afgelê en vertel dat Robert en Lientjie duidelik nié konvensioneel is nie. So het Vreethans dié twee ook gevolg met nuwe ondernemings wat hulle begin het.

Robert was mede-skrywer aan Lientjie se kookboek, ‘Geure’, wat op 28 November gaan verskyn. “Al staan daar Lientjie Wessels voor op die boek, was Robert eintlik die een wat my elke woord geïnterpreteer het,” sê Lientjie.

Sy sê dat hulle so baie nuwe projekte in die pyplyn gehad het; dat dit so goed gegaan het en dat hulle so baie planne vir die onmiddellike toekoms gehad het dat sy nie eintlik weet hoe om dié planne nou om te skakel sodat sy alleen kan aangaan nie.


Robert by sy Wêreldbeker-rugbypartytjie ‘n paar ure voor sy dood

“Mense dink dat Robert op my gesteun het, maar dit was eintlik andersom,” sê Lientjie. “Hy was die mooiste mens wat ek ooit geken het. Mooi van binne. So goed vir my. Mense onthou hom vir sy merkwaardige kê-kê-kê laggie, maar hulle het nie besef hoe ingekeer hy eintlik was nie,” sê sy.

Lientjie sê dat sy, wat al soveel geliefdes verloor het, seker moes weet hoe om hierdie totsiens-sê te hanteer, maar sy kon nie. Daar was niks wat haar hiervoor kon voorberei nie. Lientjie het haar pa, haar ouer broer, haar babatjie en drie jaar gelede haar ma verloor. In Augustus 2016 het ons berig dat Louie Wessels, saam met wie Robert en Lientjie op die plaas gewoon het, op 3 Augustus, wat Robert se 50ste verjaardag was, skielik oorlede is. Lientjie het toe vertel dat daar net ‘n paar jaar van haar volwasse lewe was wat sy en haar ma nié op dieselfde perseel gebly het nie.

Robert se gedenkdiens was op Vrydag 8 November by Union Caterers in Lynnwoodweg, Equestria. Die hele diens is gereël en betaal deur vriende, sê Lientjie. Die musiek wat daar gespeel is, is deur Robert gekies.

“Dit was wat hy self opgeskryf het vir so ‘n diens,” sê Lientjie. “Hy het dit ‘play list’ vir sy ‘launch party’ genoem.” Daar was ‘n lang lys van uiteenlopende liedjies vanaf ‘Beautiful in Beaufort West’, ‘Ballad of Lucy Jordan’ en ‘Alabama song/ Whiskey bar’ tot goed soos ‘De La Rey’, ‘Sounds of Silence’, ‘Stairway to heaven’ en ‘Begrafnistyd in Zeerust’.

 

© 2024 Die/The Bronberger