Dié dag groei met rasse skrede van krag tot krag Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 25 September 2019 09:32
Untitled Document

Sakeliga KragDag is vanjaar deur 21 400 ekspogangers besoek. Bykans 6 000 meer mense as verlede jaar het dié ekspo, wat van 8 tot 10 Augustus op Diamantvallei Landgoed, Rhenosterfontein gehou is, besoek.

Oor die afgelope 11 jaar het dié geleentheid van ‘n klein informele, maar opvoedkundige dag gegroei tot die grootste alternatiewe energie en selfstandigheid-ekspo in die land. Daar was 442 uitstallers teenoor verlede jaar se 314. Sedert verlede jaar het die uitstalterrein van 3,25 hektaar met 43% in grootte gegroei tot 4,65 hektaar, wat die grootte van nege rugbyvelde is.

Dié ekspo se hoof fokus is op alternatiewe kragvoorsiening en energiebesparing, maar daar was ook ‘n aantal uitstallers met ‘n ander fokus.


Die senior deelnemers aan die afslaerskompetisie. Van links is Gys Taute, beoordelaar; Hendri Beyleveldt en Tumiso Sebogodi, deelnemers; Flekkie du Toit, wenner van die jong-afdeling; en organiseerder Albert Loubser
.
.
.
.


Van links is: Ernst Bothma van Hoërskool Erasmus, medewenner in die junior afslaers-afdeling; Gys Taute, beoordelaar van Vleissentraal; Sihle Mthombeni, die ander mede-wenner in die afdeling; Hennie van Staden, departementshoof landbou by Hoërskool Erasmus; en Albert Loubser van Plaas Media, organiseerder van die Junior Afslaerskompetisie.
Foto’s: Verskaf

Landbou
Vanjaar was daar vir die eerste keer ‘n landbou sub-ekspo wat ’n propvol program met sprekers, volhoubare oplossings en leersame geleenthede gebied het. Verskeie klein- en grootveerasse asook perde is ten toon gestel.

Die Diamond L Abattoir Slaglam Kompetisie, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (SAMIC), het boere die kans gegee om die gehalte van hulle slaglammers te bepaal.


KragDag was ‘n gesinsdag

Besoekers kuier rondom verversings

Ná die kompetisie het SAMIC se streeksinspekteur, Johan Maritz, in die Hinterlandtent verduidelik hoe hulle klassifikasie- en graderingstandaarde toepas.


Demonstrasies in die arena

Tentoonstellings by die landbou sub-ekspo

Afslaers
KragDag se Landbou Sub-ekspo was ook gasheer vir die Toyota SA Junior Afslaers Streekskampioenskappe. Dié kompetisie is vir die eerste keer in 2013 in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied. Deelnemers is volgens hulle vertoning op die rostrum, kennis van die vee en bedryfskennis beoordeel.


Pryse kon met kettieskiet gewen word

Die medewenners in die junior afslaers-afdeling was Ernst Bothma van Hoërskool Erasmus en Sihle Mthombeni. Flekkie du Toit van Andre Kock En Seun was die wenner van die jong-afdeling onder die senior deelnemers. Flekkie het deurgedring na die finale rondte van die 2019 Toyota SA Nasionale Jongafslaerskompetisie by ALFA 2019 in Parys in September.

Behalwe vir die landbou sub-ekspo, was daar ook die opvoedkunde sub-ekspo vir onderrig-uitstallers, ‘n makersbeweging wat fokus op elektronika, 3D-drukkers, die Internet van Dinge, nuwe patente uit herwinde materiaal en die junior entrepreneurs.


Daar was helikopterritte

Juniors
Die KragKidz Junior Entrepreneurskompetisie bied jaarliks ’n informele platform waar kinders hulle entrepreneuriese vernuf kan toets en ook hulle sakgeld kan aanvul. Beoordeling word gedoen deur suksesvolle sakemanne en daar is vir die wenners, behalwe vir die kontant, voortgesette mentorskapgeleenthede van onskatbare waarde.

Vanjaar se wenners van die verskillende afdelings was: Cloete Oosthuizen met Vlymskerp Dienste en Leonard en Aiden met Fire Buddy in die Doelgerig-afdeling. Keyan Grobler en David van der Vyver was die wenners in die Voete Natmaak-afdeling.


Skape by die landbou sub-ekspo

Mense is met ‘n trekker en sleepwa rondgery

Programme is in twee lesingsale aangebied en verskeie demonstrasies en vermaak in die arena, soos berede boogskiet en Middeleeuse gevegsaanval, kon aanskou word.

Daar was iets vir almal, van ‘n snuffelmark, verversings, ossewaritte en helikopterritte tot poniekarre en perderitte; van verfbal, laser-oorlogbaan, 5D filmervaring en rekspronge tot ‘n opblaasvuurpyl en ‘n reuse glybaan.


Die geraamte in sy rolstoel het baie aandag getrek

Daar was ook ‘n diere-uitstalling deur die Mpumalanga Jeugskou, ‘n wa-laer en lewendige Voortrekkerleefstyl-uitstalling met demonstrasies wat gestrek het van broodbak en kersemaak tot geweerlopers giet.

Vanjaar was daar ook die eerste keer ’n kampterrein op die KragDag-perseel. 


Die pretpark
.

Wie het gesê ‘n mens kan nie in ‘n groentetonnel dans nie?
 

© 2024 Die/The Bronberger