Ons saal by ’n Amerikaanse kragkar-kuierplek af Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 16 March 2023 10:59
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die jare lange liefde vir Amerikaanse krag-karre (‘muscle cars’) en ’n fassinasie met die era van Elvis Presley, Marilyn Monroe en ‘Route 66’ het eers lang pad afgelê en ’n paar ongewone draaie gegooi: Toe, onlangs is nuwe gestalte aan dié ou droom van Terry Behrens gegee en hy en sy vrou, Kat, het die Busted Knuckle Diner langs ‘roete 515’ deur Rayton ingerig.

Nou, ‘diners’ is gedoentes wat oral langs Amerika se beroemde Route 66 en elders soos paddastoele uitgepeul het, toe daardie tyd se jongelinge die ‘road trip’ en ‘cruising’ in hulle krag-karre en ‘hot rods’ mode gemaak het.

Hier kon jy met jou klinknaelbroek en ghries-hare stilhou en saam met jou metgesel in haar hoepel-rok, poniestert, sokkies en seil-skoentjies ‘uithang’, met jou ryding spog, ander waens bekyk en beluister en kitskos en melkskommel, of wat ook al, inneem.


’n Gawe kelnerin wat ewe goed uit ’n ou Amerikaanse fliek sou kon stap

’n ‘Diner’ het bepaalde kenmerke gehad en die ‘gier’ het ook in ’n mate oral heen oorgewaai.  Hier te lande is dit eers meestal sommer ’n ‘kêffie’ genoem. Daar, waar jy op gestopte kunsleer-banke kon inskuif vir ’n ‘paai en gravy’ en plate op die ‘jukebox’ kon speel. Eers later het die naam ‘diner’ posgevat.

Stap jy Busted Knuckle, aan die vulstasie-kant van die pad deur Rayton, binne, herinner dit aan iets wat jy in ’n Amerikaanse fliek oor die 60’s of 70’s sou kon sien. Die dekor met die swart-en-wit-blokkies van ’n wedren se wenstreep-vlag en gestopte kroeg-stoeltjies is opvallend.

Ons sit aan by ’n stoep-tafeltjie en kort op die hakke van ’n kelnerin, wat uit daai einste fliek sou kon stap, staan die eienaars nader. Ons voel welkom.

Kat verduidelik dat hulle nog net ’n paar dae oop is en hoewel die beplanning deeglik gedoen is, voel-voel hulle, soos dit meestal maar met ’n nuwe plek gaan, hoe die beste pad vorentoe gery sal word.

Dié ‘daainer’ het ’n lisensie om veel meer as net melkskommels te bedien, hoewel hulle spesialiseer in die bou van baie uitsonderlike skommels, verneem ons. Ek bestel ’n koue bruisdrankie en kelnerin bring ’n baie koue een nader.


’n Voortreflike vleislose pizza spesiaal vir Metgesel gemaak

Die spyskaart is met ons besoek nog in die proefloop-stadium, maar die hamburgers en houtoond-pizzas blyk grotendeels gevestig te wees.

Die hamburgers is verdeel in twee afdelings, gewone en ‘gourmet’ burgers. Die ‘gewone’ een met ’n plattie van 150 g, die gewone bymiddels en sous daarop op ’n tuisgemaakte broodjie noem hulle die ‘Sissy Boy’ en dit kos R75. Die kaasburger en hoenderburger weeg in teen R80. Alles word saam met skyfies bedien en alles op die spyskaart is terloops wegneembaar.

Dis by die fynproewers- of ‘gourmet-afdeling’ waar die spierkar-beheptheid wys. Hierdie burgers is groot en anders. Die Mustang, Cadillac en Chevi spog met ’n mega-plattie van 300 g en is elk gedokter met hulle eie ongewone byvoegsels soos sjokolade, tjillies en goed en kos R125.


Die Chevi is een van die plek se kragkar-burgers

Die Pontiac Firebird is die mees gespierde ‘muscle-burger’ in die motorhuis en dit kos R140. Ek bestel die Chevi. Was nog altyd ’n Chev-man, ek. Die allemintige Chev-burger en skyfies geval my. Die burger-frikkadel, meer rond as plat weens sy omvang, is suiwer beesmaal wat lekker los is en nie oorgaar gedoen is nie.   

Die ontbytkeuses is die Sparewheel (R50), Marilyn Monroe (R80) en Fatboy (R110), waar boerewors sy plek in dié Amerikaanse omgewing oop gewurm het.

’n Hele aantal roosterbroodjies, slaaie en worse van Europese oorsprong, wat sterk in Amerika wortel geskiet het, kan geniet word. Nagereg sluit botterbroodjies, roomys, melkskommels en fynproewers-melkskommels in.


Terry en Kat in die pizza-oond-hoek van die ‘diner’ se lang aansit-toonbank

’n Deel van die spyskaart is spesiaal vir die kortvolk uitgedink.

Die pizzas kos tussen R75 en R140 en bevat meestal vleiskos in die vulsel. Die gawe mense van dié gekrokte kneukel bou spesiaal ’n baie besondere vleislose een vir Metgesel en volgens haar het sy baie lanklaas iets van dié aard ingeneem wat lekkerder was.

Vir meer inligting of bestellings, skakel 063-152-9483 of 066-044-4791.

 

© 2024 Die/The Bronberger