Ons kuier sit-sit-so tot waar ons Eendracht kry Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 17 February 2023 11:28
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis erg bedrywig dié Sondag anderkant die spoor aan die afdraand-kant van Cullinan se Oaklaan. Hier waar die bekyk- en kuierplekke skouer-teen-skouer in opgewarmde ou skakelhuisies van klip ingeryg sit, het ons lank te laas loop draai.

Vandag drentel ons langsaam en amper soos die Boere van die ou liedjie, sit-sit-so, al met die laan langs af.

Ons loop ou bekendes raak, sit hier so en gesels, sit daar so en luister en sit sommer so en verneem en deel nuus en groet en ontmoet, neem waar en vergaap en drentel dan voort:


Die gaste sit ingeryg tussen pad en loopgang

Tot ons einde ten laaste ons sit só loop sit by die een nuwe (vir ons) kuierplek in die laan. Hier wil ons iets vir die innerlike en rus vir die effe olike liggaam (myne) inneem. Eendracht Pub & Grill, noem Steve Hofmeyr en seun, Devon, dié plek wat oopgemaak het waar eens die Cockpit Brewhouse en nog wat was.

Dit pla my effe dat Eendracht se mense, kompleet met verbuigde wapen van die ou Transvaalse Republiek en die aanloop van sy slagspreuk, “Eendracht maak macht”, as naam, dit ’n ‘Pub en Grill’ noem. Meer uitlands en volksvreemd kan jy kwalik kry. Die bespiegeling oor ’n alternatief, verskaf my en Metgesel later lekker ligte binnekring-vermaak. 

Ek is nie seker presies wat die bekende en soms omstrede sanger, Steve, se aandeel en funksie by die plek is nie, maar hier word Eendracht en Hofmeyr Brandewyn (gelukkig nie Brandy nie) saam met ander verversings versmous. Spesiale aanbiedings van dubbels met ‘mix’ word op ’n vaatjie by die ingang geadverteer. Sou dit vêrgesog wees, as dit dan moet, om van ‘mieks’ te praat?


n Smaaklike, puntenerige boerewors-broodjie

Ons neem plaas in die hoek onder die rek-seil wat as dak dien. ’n Baie vriendelike en ywerige kelner met die naam van Zander staan dadelik nader met die spyskaart en ons bestel iets koud vir die keel. Dit is vrek warm vandag onder dié sierlik gerekte seildak, wat terloops glad nie geskik sou wees vir dak-pampoene nie. Later sou Zander verduidelik dat iemand die spuit-koppies (nozzles) van die verkoeling-sproeiers gesteel het.

Voor ons op die smal strokie niemandsland tussen die pad en die loopgang sit die gaste ingeryg en kuier. Die windjie wat hulle koel hou, kom ons gelukkig af en dan skrams hier in die hoek ook by.

Ons verkyk ons aan die ‘parade’ van besoekers wat heen en weer hier vlak voor ons verby drentel. Ons besluit dié besienswaardigheid het toegeneem in getalle en baie, sommer baie, baie, meer foto’s en selfies word met slimfone geskiet as wat voorheen die geval was.


’n Billike braaibroodjie

Soms, gewoonlik eintlik, verneem ons, tree hier ’n sanger op Sondae op. Die rede hoekom ek nogal bly is dit is nie vandag die geval nie, kan weer by die seildak gesoek word. Die akoestiek wat die dak met hom saamdra, is merkwaardig. Die paar tafels met gaste se joviale gesels en klets onder daai dak, klink of dit deur ’n duisend versterkers en eggo-kamers aangewakker word. Die verdowende effek hiervan vat tande kners om eers gewoond aan te raak en ek kan my net voorstel . . .

Soos te wagte kan wees by ’n rooster-kroeg (klink net beter as poeb en gril) is die spyskaart basies, dog in dié geval ook redelik uiteenlopend om aan ’n verskeidenheid voorkeure te voorsien.

Dit verbaas my, nie net gegewe die naam en agtergrond nie, maar soos die Ingelsman tereg sê: “Jy moet jou customers ken”, dat Eendracht se spyskaart uitsluitlik ’n ‘menu’ is. Ek vra vir Zander of hulle nie ook ’n Afrikaanse spyskaart beskikbaar het nie en sy antwoord vul ons met deernis en kielie die lagspiere lekker:

“Nee,” sê die knaap. “Dit is net in Engels, oom. Ek sukkel ook maar om te verstaan, maar as ek kan, sal ek probeer verduidelik, oom . . .” 

Hoe ook al, ek glo darem nie die Vierkleur op die kenteken sal halfmas loop hang hieroor nie. Een Engelse ontbyt, binnegeval en deur Boerewors beleër, is teen R85 beskikbaar. Hulle roep dit ‘Farmhouse’.


Kuier onder ’n  rekseil-dak

Vyf soorte roosterbroodjies onder die hofie ‘Toasties’ met pryse tussen R55 en R70. Dit word saam met skyfies bedien. Metgesel het lankal lus vir iets dergeliks en sy bestel die broodjie met spek, eier en kaas, maar sy vra of hulle die spek met tamatie kan vervang. Hulle kan.

’n Burger van bief of hoender kos R95. Kruisskyf (200 g) – R140, een van 300 g – R150 of ’n T-been van 500 g teen R160 is die biefstuk-keuses. Twee gawe dames by ons buurtafel het onderskeidelik die kruisskyf en T-been bestel en by navraag verseker hulle my dit smaak voortreflik en is gemaklik op die kouspiere.

Deel-mandjies met die gewone verdagtes is beskikbaar en soos amper oral deesdae, kan jy pizza bestel. Vyf verbuigings hiervan kos tussen R120 en R140.


Die vooraansig van Eendracht

Vyf soorte ‘ligte etes’ sluit ’n ‘Boerie Roll’ met skyfies in. Nou, soos die toeval dit wou hê, het iemand wind af van ons net anderdag boerewors gebraai en die geur wat op die windjie nader gestu het, het my verskriklik maak verlang na ‘goeie’ boerewors. Ek is baie puntenerig oor my boerewors, maar ek waag die kans en bestel een met skyfies.

Ek was nie teleurgesteld nie: Inteendeel. Ek vra vir Zander om uit te vind wie die slagter is, en nou weet ek. Die skyfies is terloops van die beste wat ons in ’n verloop van lank ervaar het. Vir meer inligting oor tye en dies meer kan jy Eendracht bel by 066-270-9153.

 

© 2024 Die/The Bronberger