Voorneme vat ons op ’n nostalgiese reis na gister Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 20 January 2023 12:58
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis ’n mooi Sondag in Januarie en ek besluit om sommer vroeg in 2023 gestalte te gee aan my nuwejaars-vreetvoorneme: Eet meer kerrieafval.

Ja, sommige van julle mag maar die neus optrek en letterlik gril en ‘sies man’ sê. Dis reg so. Elkeen het die reg om oor lekker en sleg te verskil en dit is almal se onvervreembare reg om in die proses ’n krater van hom/haar te maak.

Só sit ons af in Zwavelpoort se rigting: Op ’n reis na gister, kan jy maar sê. Ons gaan weer aansit by wyle ou Faan Smuts se tafel. Ek vir sy Weskus-lamsafval en Metgesel (sy is een van die sies-man-bende) vir wat haar mag geval.


Mooiweer-aansitplek in die tuin

Baie het verander sedert Faan en sy Issie se gewelhuis op die hoek van die Boschkop-teerpad en Grahamweg toentertyd in ’n kuierplek omskep is. Tog het baie by die Bronberg Restaurant ook dieselfde gebly.

Baie van die oorspronklike, tradisionele geregte het plek op die lywige spyskaart behou. Die gemoedelike atmosfeer en vriendelike diens is nog daar. Maar die mense is nuut en die gaste is vreemdelinge.

Ons neem buite in die tuin onder ’n sonsambreel plaas. Binne in die kroeg-vertrek, eetsaal en ruim stoep is nog genoegsame aansit-plek. Ons stap ’n draai deur die plek. En ons onthou. Die nostalgie is bykans tasbaar as ons later, elk met ’n drankie van keuse in die hand en ’n baie imposante spyskaart hier voor ons, weer aansit.


Die gesellige stoep vlak by die kroeg

Ek merk hoe groot die bome geword het wat ou Faan aangeplant het, en Metgesel wonder of party van destyds se ‘speelgroep’ nog soms hier aandoen.

Ons wonder oor Kobus Hoender en Piet Vloek en wat sou dan van Geel Harry en Rooi Kerneels geword het? Ons onthou Andre Wyn, Andre Knop en Andre Bop, Krokodil van der Merwe, Allan Prentjies en ou Mouner. Albert, die koning van die kroeg, is weg en Sakkie, só genoem omdat Faan se Weskustong geknoop het om die Engelse Nathanial, is ook weg.


Kerrieafval soos ’n wens wat waar word

En die trane lê vlak as ons die Bronnie se poësie-, musiek- en kunsaande onthou. Die nimlike pedagoog en skrywer, Merwin Woodrow, kunstenaar Gerda Ham, wat so graag wou sing en het al kon sy nie, Breytie en sy Sophie, die talentvolle Esperance, Phillip Nel en ander: Baie ander.

Vergeefs dwaal ons oë al soekend agter die onthou aan, maar almal is vreemdelinge. Die meeste ook vir mekaar.


Metgesel se ‘Kalamari’

Maar hier bly dit lekker en hier is die koskeuse wyd en verbeeldingryk. Ek verbly my daarin dat nie afgewyk is van die slim tradisie om die spyskaart tweetalig te hou nie.

Die tradisie om ’n uitnemende buffet op Sondae voor te sit, het ook gebly. Vandag is dit weer so en wat teen slegs R200 per kop gebied word, kan sonder skroom ’n winskoop genoem word.

Buiten die voorgeregte, slaai, twee stysels en twee soorte groente kan jy jou vergryp aan ’n beesvleis-gereg, ’n hoendergereg, Weskus-kerrieafval, beestong met mosterdsous en wildspastei en nagereg. Dit wil gedoen wees.


Die kroeg-vertrek met die solderverdieping regs waar toeka kunste-aande gehou is

Ons besluit om van die spyskaart af te bestel – grootliks omdat ek vermoed die afvalporsie, teen R149, is groot en ek uitsien na ’n braksakkie vir koue silt later by die huis. My vermoede word bevestig as die platboom-potjie aankom – oorlopens toe met kerrieafval en rys en soetpatats en room-spinasie – ’n aparte bord vol.

Metgesel eet mos nie soogdiere nie en daarom bestel sy ook van die spyskaart af: geroosterde calamari-buise met rys. Dit kos R129 en dit geval haar.

Die afval is amper soos ek hom onthou. Ek sê amper, want hy het ’n effense byt bygeleer en is baie, baie sag gekook. Die pootjies is onherkenbaar (behalwe as jy proe) by die baie sagte pens-velletjies en (min) bruin vleisies (wangvleis of nek?) opgekook. Ek kla nie. Sewende hemel vir my – ook die silt vir later.


Een van die ingange met die Faan Smuts gedenk-kapel links

Om die lywige spyskaart verder, soos gebruiklik, te bespreek sou nog ’n aparte Bronnie verg. Daarom meld ek net enkele keuses uit die afdeling vir tradisionele geregte: Skaapkop, skaapstertjies, skilpadjies, beeslewer, pap en kaiings, skaapniertjies, frikkadelle en Kaapse bobotie.

Ek vind dit prettig dat die een afdeling afgestaan word aan “vleis- en hoender-geregte”. Onwillekeurig dink ek aan die ou wat hoender geslag het, sou hy lus kry vir groente. Dié afdeling sluit onder meer varkskenkel, skaapskenkel, beesstert, skaapkerrie en natuurlik ’n aantal verbuigings van hoender in. Biefstuk en bees het sy eie afdeling. Soos gemeld – ’n wye en verbeeldingryke spyskaart en ’n lekker afsaalplek.

Bel hulle by 076-452-6182 vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger