Saam met familie in sprokies-tuin Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 20 August 2022 05:29
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Naby familie kom kuier van ver en eksotiese plekke af om ’n enkele middagmaal iewers in Bronbergland saam met ons te geniet: Uit San Antonio, Texas, Vermont, Hermanus, Equestria en Bronkhorstbaai, waar ver winde waai, kom hulle aan . . .

Die alfa-vrou van die familie-trop besluit die kuier sal op Cullinan geskied. Dit sal informeel en gesellig wees (verkieslik in die buitelug) en dit sal sonder ’n magdom ander mense wat jou versmoor en raas-musiek wat gesels vermoor, geskied.


Willie Strauss verduidelik iets aan ’n paar lede van ons kuier-groep aan die verlengde langtafel in die eiesoortige teetuin

Sporadies hou veelsydige kunstenaar, Willie Strauss, oor naweke ‘winkeldag’ by sy sinkhuis se sinkstoor op die dorp. Op dié dae kan jy in die mooi plek se teetuin aansit om iets uitsonderliks uit Willie se kombuis te geniet.

Só gesê, besluit ons (met alfa-ousus se goedkeuring) om op dié afgespreekte sonnige Saterdag só te maak.


Oral in die tuin loop jy onverwagte mooi-goed raak

Stap jy by die sinkhek van die sinkhuis in, kan jy jou maklik verbeel dat jy (soos Alice) ’n sprokies-wêreld binneval. Dit is ’n mooi, besige tuin. Gelaai met voorwerpe (lewend en handgemaak) wat die oog trek, besig hou en streel.

Ons word opreg hartlik deur Etienne, Willie se regterhand (ek vermoed sy linkerhand ook) ontvang en verwelkom. Hy begelei ons na ons verlengde langtafel. Ons neem plaas en bring ons te-drinke na vore. Jou eie wyn of wat-ook-al alkoholies moet jy saambring. Glase en ys word voorsien.


In die sinkstoor-winkel kan jy handvaardighede, aardighede en lekkernye van
uiteenlopende aard aankoop

Dadelik word ontspanne gesels en hartlik gekuier. Ons voel ons erg tuis in dié vreemde, mooi tuinplek. Die stoor is gepak met interessante handvaardighede, aardighede en heerlike versnaperinge en lekkernye. Naby familie van ver plekke doen tussendeur nadere ondersoek en aankope.

Op winkel- en teetuindae word jy ’n beperkte keuse te ete aangebied. Vandag is dit hoenderpastei, wildpastei of vark-rol met krakerige bros-vet. Daarmee saam word groente soos groenbone, pampoenkoekies en rys en ’n kunstige mengelslaai voorgesit. Nagereg is vandag wortelkoek of sjokoladekoek. Beperk, dog uiters smaaklik, sou ons later saamstem.


Die hele teetuin is vol onverwagte verassings waarvan ’n opvallende een vir my op dié dag ’n kind van dié ouderdom was, wat sit en lees het uit ’n boek wat in die stoor aangekoop is

Ek kies die wildspastei en vir my is dit hemels. Ek is baie partydig vir wildvleis en sedert my jare in Suidwes (Namibië), veral vir dié wat ’n gemsbok bied. En dit is wat ek vandag, ná baie jare, weer ervaar: Die kaviaar van wildvleis – gemsbok. Daarmee saam heerlike outydse pampoenkoekies, groenboontjies, rys en slaai saam met ’n soetigheidjie vir die wild.


’n Wildspastei met gemsbok gevul, boere-bykosse en slaai-kuns op een van die mooi ou borde

Metgesel kies (uiteraard) die hoenderpastei en swaer, wat ’n Duitser is, uiteraard die vark. Ons kuier heerlik saam met die naby familie en ons gashere, wat soos familie voel, en ons eet heerlik. Dit was ’n wyse keuse en het presies voldoen aan die kuier-verwagting van ons almal.

Stuur ’n WhatsApp na Willie by 082-563-4527 of gaan kyk na sy Facebook-blad vir meer inligting.    

 

© 2024 Die/The Bronberger