Die beste stert van die storie wag toe neffens aspirerende dorp-van-die-jaar Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 20 June 2022 08:24
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Maar ons het dan knap verlede maand op Cullinan loop kuier, remonstreer ek. Hom skeel dit g’n duit nie, is die ou redakteur-knol se reaksie: Dit is ’n spesiale uitgawe waarin die Bronnie se derduisende lesers aangespoor word om vir Cullinan te stem. Die ganse kontrei sal daarby baat as ’n dorp in ons gebied as kykNET-Kwêla se dorp van die jaar gekroon word: Knol 1 – Vreethans 0.

Dit is geensins ’n geval dat ons teensinnig is om op Cullinan te kuier nie. ’n Effense probleem is dat ek en Metgesel nie aan ’n enkele plek op dié finalis-dorp kan dink wat nog nie op ons kerfstok is nie.


Metgesel se vitamienryke, verkwikkende hoender met groente

En dan onthou ek: Ver van die toerisme-wip in en om Cullinan se Oaklaan af, op die eindpunt van die hoewegebied soos jy noord met die Bronkiepad beweeg, is ’n funksieplek. Victorian Manor is jare reeds bekend as ’n spogplek sou jy wou trou of iets dergeliks uitspattig wou aanvang. Die eienaar-sjefs word deur bekende koskenners baie hoog aangeslaan.

Nou het ek ’n wyle gelede so in die verbyry met-kryt-op-geskrewe swartborde gesien: ‘Tea Garden now open’ en het ek ook iets van ‘lunch’ gelees, as ek mooi onthou. Ons sit dorp-uit af soontoe.


Beesstert en kie in oordaad van smaaklikheid en gestalte

Iets wat my effe pla, is dat dit ’n graad of vyf minder as koel is. En die windjie is op hierdie wolklose Sondag heelwat skraler as koud. Nie ideale teetuinweer nie. Juis het ek op pad vir Metgesel meegedeel dat dit ’n bredie- of beesstert-dag is. Ek was verniet bekommerd.

Mense met dik truie sit wel hier-en-daar buite in die mooi tuin en kuier, maar voor die imposante funksie-saal is ’n breë stoep met ’n beskutte hoekplek – waar ons in gerieflike diep stoele sou aansit. Jy kan ook binne loop skuil, sou jy dit elders ’n graad of twee te skraal vind.


Gemakstoele op die diep stoep van die kuierplek

Met die intrapslag nader ’n vriendelike vrou ons en op my vraag antwoord sy: “Ja, ek kan en sal julle met graagte voer.” Dit is ontspannend. Dit is mooi hier. Die pragtige klaviermusiek in die agtergrond dra by tot die rustigheid. Skielik is ek vry en ek is bly.

Vriendelike vrou blyk Berthe te wees. Saam met haar man, meester-sjef Jonathen Kershaw, bedryf hulle die plek. Ons bestel koffie – ja, ek ook. Dis koud onthou? ’n Ewe gawe kelnerin bring heerlike koffie in mooi koppies aan en Berthe stap nader met vandag se spyskaart: ’n Groot swartbord waarop redelik klein met bordkryt geskryf is om al die geregte ingepas te kry.

Die spyskaart verander voortdurend, verduidelik sy.


Skaak is groot in die mooi, groot tuine

Heel bo op die gekoepelde swartbord staan: ‘Stoep Menu’ en onder dit word ’n redelike rits voorgeregte gelys – almal kos R50. Mossels in geknoffelde, romerige witwynsous, sout-en-peper-calamari met tartar, tradisionele Hollandse krokette met ’n mosterd-sous – om ’n paar te noem. Jou naam en die krokette verklap jou Nederlandse afkoms, waag ek ’n raaiskoot in Berthe se rigting. Reg, sê sy, dis haar oorlede ma se resep.

Vandag kan jy een van 13 hoofgeregte kies. Verbeeldingryk en uiteenlopend is die verskeidenheid. Alles word met kapokaartappels of rys en met groente bedien. En soos die goeie geluk dit vandag vir my wil hê, is die tweede item wat net onder die varkpens in appelbier-sous (R140) gelys word, langsaam gekookte beesstert. Dit kos R150 by Victorian Manor en ek kan onomwonde en sonder skroom sê dat dit in hoeveelheid, tekstuur en smaak, die heel beste stert van bees is wat ek in ’n baie, baie lang tyd ervaar het.

Die sousige stert was mondsmelt lekker en die ryk, bruin, wynsous deurspek met afgekookte stukkies stertvleisies. Eintlik het ek van my ’n Vraathans gemaak, want geen normale mens behoort dié vrag beesstert op ’n billike berg kapokaartappels op een slag te verorber nie. Ek weet van braksakkies, maar ek verknuppel my tot barstens toe agter die verslawende geurigheid aan.


Jou aanloop na die hoofgebou van die netjiese ‘Manor’

Metgesel bestel ’n hoender ‘picatta’ met ’n romerige sampioensous teen R110. Die hoender geval haar, maar dis veral die room-spinasie, patat-poffertjies (wat sy as nagereg saam met sy stropie sou nuttig) en verskeidenheid van skrik-gestoomde groentes wat haar noppies-knoppie druk. Sy voel sommer hoe gryp haar gestel die verskeidenheid vitamiene aan, sê sy. Ek is heel tevrede met my vitamiene bees – baie dankie.

Ander hoofgeregte is onder meer gekrummelde biefstuk, geelstert, garnale en vars rivier-forel.

Laas vermelde teen net R120 sou my kon lok, was dit nie ’n beesstert-dag nie. Fyngebak en koeke uit die boeke deur ’n meester bakker is altyd beskikbaar.


Net ’n aanduiding van die ‘tee’ se tuin

Die mooi en rustige kuierplek was ’n aangename verrassing. Na my onbeskeie mening kan dit die wedloop na die titel as dorp-van-die-jaar vir Cullinan ’n hulpstoot gee. Hulle is oop vanaf Woensdag tot en met Sondag, behalwe as ’n funksie aldaar bespreek is.

Beste is om eers vir Berthe te bel by 082-698-6882. Vra oor tye en spyskaart en dies meer.   

 

© 2024 Die/The Bronberger