Hartlike kuier en nuwe vreedsaamheid ná jare by gholfklub Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 24 May 2022 09:26
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Heelwat jare her, het ek en Metgesel ’n heel aangename aansit saam met vriende by die gholfbaan op Cullinan se 19de putjie geniet. Op vanjaar se Moedersdag lei omstandighede ons weer soontoe om lafenis en spyse vir die innerlike te loop soek.

Baie het intussen by die plek verander en tog het baie ook net gebly soos dit ook jare gelede was: Die kuierplek op die stoep is nog waar dit was, maar blyk beter ingerig en netter te wees. Die skoonveld van die eerste bof wat voor jou uitstrek is nog skoon: Groen tot waar jou uitsig hom doer teen die mooi rante vasloop, maar met minder bloekombome op jou oë se lang dryfhou-pad.


Koningklip perfek voorberei

Regs op die oefen-setperk skerp ’n paar manne en ’n meisie hulle sethoue op. Dis meer as koel vandag, dog is dit opvallend dat die manne deur die bank kortmou-hempies dra. Ek wonder of iemand eendag gholfhempies met lang moue gaan uitvind.

Iets wat drasties verander het sedert ons vorige besoek, is die diens. Dit is of die nuwe eienaars en personeel vergestalting gee aan die ‘gasvryheid’ deel van die woordjie gasvryheidsbedryf.

Hartlik is ons ontvang deur die nuwe eienaar en deurlopend is ons bederf-bedien deur vriendelike en flinke kelners, wat ons op die koop toe in ons moedertaal laat tuis voel het.


Murgsagte calamari buise met groente

Dit was besig op die aansit-stoep, maar niemand kon kla oor gebrekkige diens nie. Binne is ’n netjiese eetkamer met kroeg en ook hier was dit bedrywig en gesellig.

Die grootste verandering wat die kuierplek ondergaan het, sou bes moontlik die aard en omvang van die geregte wat die spyskaarte bied, wees. By uitstek is dit ’n Italiaanse restourant, maar met verbuigings en ’n aparte ‘minder formele’ spyskaart vir ligter geregte en ontbyt.

Die eienaar, Jan Theron, het Piacere eers elders op die dorpie bedryf voor hy na die ruimer perseel by die gholfklub verhuis het en sake uitgebrei en verder opgeknap en verander het.


Die binnewerke van die klubhuis-kuierplek

Interessant is dat een van Jan se voorgeslagte met die Tweede Wêreldoorlog in die Italiaanse krygsgevangenekamp op Zonderwater was, en dat dit die saadjie by hom geplant het om ’n Italiaanse restourant hier oop te maak.

Die hout-vuur-pizza-oond en kinder-paradys met baljaar-toestelle vir die kortvolk het saamgetrek. Die bruisdrankie wat kelner aanbring is koud en die wegspring-koffie vir Metgesel is warm.

Opvallend is die gesellige en gemoedelike gees wat by die gaste en ook onder die personeel heers. Die omgewing is sag op die oog, dit is rustig en dit is ontspannend.


Die oefen-setperk neffens die kuierstoep en klubhuis

Die omvang van die spyskaarte is ruim en die keuses omvattend. Café on the Green se spyskaart sorg vir die ontbyt-keuses en andersoortige disse. Engelse ontbyte, Franse roosterbrood, Italiaanse Bolognaise maalvleis-ontbyt, ’n ‘vinnige’ ontbyt-broodjie en ’n drie-eier omelet met drie vulsels se pryse is billik tussen R49 en R70.

Ook op dié spyskaartjie is nege soorte roosterbroodjies, burgers, Prego-broodjies, slaaie, deelmandjies, pasteie en ’n paar tipiese ‘kroegetes’ soos biefstuk, eier en skyfies. Alles teen redelike pryse. Die pasteitjie en sous kos byvoorbeeld R35.

Nou is die Piacere-spyskaarte, soos gemeld, uiters omvattend. Benewens die antipasto beslaan die kaart vir voorgeregte alleen 15 keuses wat ’n paar verbuigings van focaccia en bruschetta insluit. As riglyn kan ek noem dat die gekruide focaccia R49 kos.


Kuierstoep onder sonsambrele

Soos te wagte sou wees, is die omvang en verbeeldingrykheid van die pizza-keuse groot. As prysaanduiding: Die Margarita van 15 cm kos R39 en die een van 30 cm kos R69.

Die einste geld die pastageregte: Groot in omvang en verskeidenheid. Jy kry ’n keuse tussen spaghetti, fettuccine en penne. As aanduiding dan: Die pasta Napolitana kos R89 vir die vol porsie en R59 vir die helfte daarvan.

’n Aantal slaaie, hoender- en vark-disse, drie biefstuk-snitte verskillend voorberei en met souse, sou jy wou, en nog wat bied die spyskaart verder. Dit is by die ‘nog wat’ dat ek die koningklip kies (baie lanklaas dié gunsteling van my raakgeloop) en Metgesel besluit op die calamari.


Gereed vir aksie. Ons skoon uitsig oor die skoonveld

Wel lanklaas ’n ordentlike koningklip raakgeloop, maar ek kan onthou en ek kan nie onthou dat ek ooit dié koning van visse meer geniet het nie. Gebak tot perfeksie, ruim van porsie en saam met heerlike groente en rys is dit elke sent van die R159 werd. Net só, onverbeterlik en vullend is haar calamari (tjokka-buise) teen R149, meen Metgesel.

Jy kan natuurlik ook nagereg bestel. Ons het nie, maar by die nuwe kuierplek van die ou gholfbaan het ons ’n ‘moederse’ lekker kuier geniet.

Bel hulle gerus: 082-203-0746.

Untitled Document
 

© 2024 Die/The Bronberger