Goed bewaarde geheim op Donkerhoek oopgevlek Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 14 April 2022 10:04
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons loop ons op ’n goeie Sondag per blote toeval in een van die gebied se baie goed bewaarde geheime vas. ’n Geheim wat Vreethans vandag met oorgawe oopvlek: Dis ’n plesier . . .

Op pad na ’n ou kuierplek met nuwe eienaars val Metgesel se valkoë op ’n sinode afdraai-borde langs die ou Bronkiepad in Donkerhoek se wêreld. Tussen die aantal pad-predikante lees sy: Kuungana en Kupika Restaurant. By die eerste omdraai-geleentheid (nogal ’n hele stootjie verder) maak ons so en forseer die motor se neus terug Bronkie se kant toe.


Groot kuierstoep met die Magalies in die agtergrond

Slap links en ons vat ’n grondpaadjie die welkome rustigheid van die oop veld- en boomwêreld binne. ‘Ry soos in die ou dae: Die stof pla en die bure kla,’ vermaan een bord neffens die grondpad. ’n Ander een waarsku om versigtig te wees vir ‘free range’ kinders.

’n Entjie van Kuungana, die funksieplek, af is Kupika, die kuierplek. Dit is ’n imposante vierkantige gebou met ’n baie groot amperse rondom-stoep onder ’n sinkdak waar die kuier-tafels staangemaak is. Binne is ook aansitplek, gemakbank-luier-plek en die kroeg en koffiewerke. Dit is ’n betreklik nuwe struktuur, maar die afwerking en atmosfeer gee die blye verlang-gevoel na jou oom se ou plaashuis in die bosveld.


Tuin, eenddammetjie, bos, berg en oopte

Eerste wat ons opval is die mooi uitsig oor tuine, die veld en Magaliesberg vanaf ons stoeptafel. Sy voel of sy ‘weg’ is, meen Metgesel. Ook dadelik duidelik is die gevoel van geesdrif en onverbloemde vriendelikheid en trots van die twee kelners en die bestuurder – wat al ’n lang pad in dié bedryf gestap het. Hulle is opsigtelik ’n gelukkige span. Ons voel ons welkom: Ons voel ons tuis.

Een van die glimlaggende kelners bring die spyskaart en neem die te-drinke-bestelling. Hy antwoord met oorgawe op my vraag dat Kupika die Swahili woord vir ‘kook’ en Kuungana die woord vir ‘konnekteer’ (connect) is.

Kupika se spyskaart is nie baie breed wat items betref nie, maar heel omvattend as jy van verskeidenheid praat. Die geesdrif en trots is breed as hulle jou vertel van hulle bier-, wyn- en wag daarvoor . . . melkskommel pasmaat-proe-borde (pairing platter). Die melkskommel-keuse is vir die kortvolk bedoel.


Die gerieflike binnewerke met kroeg en koffiestasie

Die bier is sogenaamde ‘craft’ bier wat Legends heet. Hoekom en deur wie besluit is om dit ‘boetiek-bier’ te noem sal geen nugter mens kan raai nie. Vakmansbier of selfs kunsvlyt-bier sou vir my meer pas.

Saam met die verskillende bier- en wyn-verbuigings word vyf proe-pasmaats voorgesit: Bief koftas (soos frikkadelle – net anders), hoender krokette, snoek samoesa (later meer hieroor) varkpens (pork belly) en sjokolade ‘brownie’ word bedien. Die veteraan maître d' het ons kom wys voor hy dit aan ’n ander gas voorgesit het en dit is teen R130 ’n formidabele ete en te-drinke op ’n lang pasmaat-bord ingepak.

Ontbyt by die mooi ‘weg-plek’ in die oopte is van 8 vm tot 11 vm, Net twee keuses het jy: ’n Meer ‘gesonde ontbyt’ teen R60 en ’n groter Engelse een teen R85. Middagete is van 11 vm tot 4 nm en o ja, die kuierplek is net van Vrydag tot Sondag vir die ‘publiek’ oop.


Stokvis wat perfek voor die vurk vlok

Braaigeregte is taai (soos in sticky) varkribbes teen R105 vir 500 g en R200 vir ’n kilogram. Varkpens van 200 g kos R59 en hulle kaasburger met ’n ‘plattie’ van 200 g en nog allerlei opgestapel kos R105.

Kant-aanvullings (sides) is erg uitgebrei en baie billik op die geldsak. Pap en sheba of twee groentes van die dag weeg soos die skyfies (eintlik skywe, sou ons vasstel) in teen R20.

Ons het reeds die pasmaats van wyn en bier bespreek wat teen R130 ’n winskoop blyk te wees.

Jy kan ook drie van die vyf pasmaat-geregte sonder die drank apart bestel. Vyf samoesas van gerookte snoek kos R60, vier bief koftas kry jy teen R55 en vier hoeder-krokette teen R45.

Ek besluit op die vyf snoek-samoesas. As ek my dan nog nie vervuld voel nie, kan ek altyd nog iets anders bestel, dog ek: Wat wo!


Samoesas knopgestop met gerookte snoek

Metgesel bestel oondgebakte stokvis en skyfies teen R70 en billike porsies spinasie met gebakte botterskorsie teen R20 ekstra daarby. Die vis vlok net reg voor die vurk se punt, die porsies is groot en smaaklik. Baie tevrede is sy.

My snoek-gevulde samoesas is knopgestop, perfek gerook (self gedoen, spog maître d') en baie smaaklik in ’n uitsonderlike, heerlike skilferkors toegevou. Ek raak net drie baas en neem twee saam met die helfte van Metgesel se heerlike skywe huis toe.

Jy kan ook hier (waar nie?) ’n paar pizza verbuigings kry, sou jy wou en nagereg en ’n rits eetgoed vir die kleingoed.


Soos jou oom se plaashuis in die bosveld

Op daardie rondom-stoep onder die sinkdak in die eendeweer, met ’n eenddammetjie regs onder van ons, die berg voor ons en die weg-veld om ons, het ons heerlik gekuier, geëet en Kupika se gasvrye, vriendelike mense geniet. Jy kan maar gaan kuier. My kop-op-‘n-blok, jy gaan dit geniet.

Bel hulle gerus by 082-043-2726 vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger