Ribbetjies amper soos fietsry by FlavorVille Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 18 March 2022 13:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Etlike jare reeds merk ons dat dit woel op ’n stukkie grond neffens die Bronberg (lodge) Restaurant wat oorlede Faan Smuts begin en later saam met Flip Marx bedryf het. Flip woel nog voort.

Op dié uitskot grond staan geruime tyd reeds ’n kuierplek met die naam van FlavorVille, op die hoek van die Boschkop-teerpad en Grahamweg. En dié vorm saam met etlike ander aangrensende kuier- en vermaak-plekke die ‘Bronberg hub’. Só verneem ons.


Twee statige swart swane groet jou met die intrapslag

Lankal beplan ons ’n besoek aan FlavorVille en op ’n mooi Sondag maak ons só. Vlak langs die ingang na die plek loop ons langs twee statige swart swane in ’n swemsloot verby.

Soos ons nader staan word die vrolike gejil, gelag en gebabbel van ’n trop kleuters al hoe duideliker.


Kuier en smul onder die vrolike spitsdak

Voor die aansitplek onder ’n hoë spitsdak met oop kante, is ’n ruim grasperk. Hier is ’n kinder-paradys met glybaan, klimraam, reuse sandput en swaaie staangemaak. En hier word vandag duidelik ’n kleuter se verjaardag uitbundig gevier. Ouers sit onder sonsambrele of hardloop agter kleuters aan wat op hulle beurt agter ander kleuters aanhol.

Heel rustiger is dit onder die spitsdak (met feestelike liggies behang) waar gerieflike aansitplek by tafels of by koffietafels op diep gemakstoele en -banke is. Die plek gaan duidelik groot op koffie. Hier agter ons staan ’n koffieboon-rooster wat lyk of dit aan die reus van Jan in die boontjierank-faam kan behoort. ’n Koffie-spyskaart met ’n ellelange rits keuses staan op die tafel.


’n Vreemde, dog ‘wonderlike’ ontbyt

Die kombuis, pizza-oond en kroeg is oop onder dieselfde spitsdak teen die een muur. Ek hou van ’n plek waar die kombuis en die werke aldaar sigbaar is en van ’n kroeg wat lekker naby is. Die kelner bring die spyskaarte en ’n japtrap later ’n koffie vir Metgesel (sy bestel ’n ‘regular’ van ’n lang lys af) en ’n koue bruisdrankie vir my.

Deur die jare het ons FlavorVille se buurman, Bronberg Restaurant, talle male besoek en het ek my telkens vergryp aan die heerlike tradisionele geregte. Heel anders is dié spyskaart nou voor ons, van aansien.

En verfrissend anders is veral sekere ontbyt-opsies en slaaigeregte. Bo, by die amperse tradisionele Engelse ontbyt staan geskrywe: ‘All day breakfast’, en dis ná Metgesel lank en innig (veral na die pizza- en pasta-geregte) gekyk het, dat sy wonder of die ander ontbyte nie ook heel dag bedien word nie.


Ouers en ’n paar van die woelige kleuters besig met ’n partytjie op die ruim grasperk

Een (vir ons) ongewone onbyt noem hulle ’n ‘breakfast pot’. Dit behels Bolognese, sampioene, en cheddar-kaas op ciabatta-brood en kos R62. Maar dis die kool-en-baba-spinasie-koekies (fritters) met geposjeerde eiers en teriyaki-sous wat haar verbeelding aangryp en haar smaak-kliere wakker skud. En ja, sê die kelner, sy kan dit bestel. Dit kos R58.

Soos vermeld is die slaaie verbeeldingryk en nie jou alledaagse nie. Ek noem net twee: Die salm en aartappelslaai: Gerookte salm, baba-aartappels, aspersies, kappertjiesaad, radyse en jogurt. Dit kos R119. Die peer en fetaslaai: Versoete peer, feta kaas, uie, spinasie, neute en kersietamaties teen R79.


Die plek is ‘groot’ op koffie

Jou gewone verdagtes is te kry op die pizza-lys met ’n paar verbeeldingryke verbuigings. Pryse wissel tussen R80 en R179. Dieselfde geld die pasta-keuses met die twee kerriehoender-geregte, wat ek glo heel smaaklik kan wees.

Die plek gee jou ook die geleentheid om jou eie eenman- of deel-bord te bou met ’n verskeidenheid van ’n 14-stuks versnaperinge waaronder kruisskyf-happies en parmaham.

Uiteraard bied die spyskaart ’n afdeling vir die kleingoed en ’n hele aantal melkskommel-keuses aan.


Die kombuis en kroeg met ’n gerieflike koffiedrink plek voor

By die inskrywing vir ligte middagetes (light lunches) is twee hamburgers (bief en hoender) van iets oor die R80, twee swaargelaaide toebroodjies (waarvan een ’n ‘club sandwich’ heet, ’n heel ‘spring chicken’ teen R122, kruisskyf van 200 g wat R89 kos en my keuse van die dag, varkribbetjies. Eintlik kan ’n mens sê dit is my keuse van die eeu . . .

Baie jare gelede toe ‘spare ribs’ die wêreld met mening binnegeval en byna oorgeneem het, het ek oordadig meegedoen aan dié ‘modegier’ van destyds, soos amper almal dink ek. Op ’n mooi dag was ek skielik wel, sê maar keelvol daarvoor. En van daardie dag af (baie jare her) het ek nooit weer meegedoen aan gemarineerde, gebraaide varkribbetjie nie. Tot vandag toe.

FlavorVille bied ’n ‘board’ met 600 g ‘riblets’ teen R139 aan. Daarmee saam kan jy skyfies of slaai kies. Ek kies die Griekse slaai waaraan Metgesel mildelik meegedoen het.


Handige varkribbetjies op ’n bord. Dis soos fietsry . . .

Die ribbetjies is in ‘handige’ kort stukkies gesny wat vinger-eet vergemaklik. Dis soos fietsry: Dit smaak vandag nog nes dekades gelede: ’n Smaak wat jy nie vergeet nie.

Die varkribbes is smaaklik, sag en die sous is nie gebrand nie – soos maklik met dié gereg kan gebeur.

Metgesel het haar vreemdsoortige ontbyt as ‘wonderlik’ beskryf en saam was die besoek aan FlavorVille vir ons heel aangenaam. Aan te beveel, veral as jy kleingoed het. Bel hulle by 076-282-6535. 

 

© 2024 Die/The Bronberger