Sir Thomas in ’n heel nuwe en vreemde baadjie getooi Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 22 January 2022 06:33
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Met ’n vorige kuierdraai, sien ons dit woel daar waar die groot en gewilde Sir Thomas Cullinan-restourant eens lank gelede trots en statig op sy naamgenoot-dorp gestaan het. Later is die plek verklein, verander en herdoop na ‘Villagers’ voor die nuwe span nou op hulle beurt oorgeneem het.

Dié nuwe eienaars het duidelik baie moeite gedoen om die plek op te knap en ruimte vir meer sitvlakke te maak. Die naam wat vir die nuwe, ou plek gekies is, vind ek eers effe vreemd en half teenstrydig: Sir Thomas Bar Grizzly, heet dit, en daarby ‘Local Pub & Restaurant.’


Voor die ingang na die opgeknapte binnekroeg, is dié tydelike bedieningsplek blykbaar vir spesiale geleenthede tot stilstand gebring

Byna besluit ek om verby te hou, want dit wil my klink of hier meer op die te-drinke (niks daarteen nie) en die land se moderne stapelvoedsel, pizza en burger, gekonsentreer sal word. Ook glad nie iets daarteen nie, maar vandag voel ek en Metgesel na ’n iets anders as die stapel.

’n Vriend verder afdraand met Oaklaan af, wil ons toe te vertel dat die ou wat die “grizzly’ Sir Thomas oopgemaak het, die einste een is wat die Sinkhuis in die Moot bedryf en my smaak-ore staan op spits. Want by einste Moot-plek het ons in die verlede baie bevredigend gekuier en gesmul. Ons beweeg Grizzly-waarts.


Iemand deel eindelik my begrip van hoe ’n medium-na-rou-kruisskyf moet lyk en smaak

Parkeerplek is volop. Gaste is min. Kelner is blitsig by ons tafeltjie onder ’n groot ou peperboom buite. Hy praat vlot en goeie Afrikaans. Die spyskaart nie. Dié bestaan uit ’n gelamineerde A4 blad – weerskante gedruk. Kelner verduidelik dat ‘hulle’ nog besig is om die nuwe spyskaart saam te stel en dié gaan ’n baie wyer keuse bied.

Duidelik verwag dié plek baie ‘baaikers’, want oral teen pale en bome is hangplek vir leerbaadjie en valhelm vir die motorfiets-bere voorsien. Op dié mooi Sondag deel vier of vyf die ruim buite-kuierplek met ons.


Nuwe aansitplek in die koelte met baie warm sous in die voorgrond

Die regte bier wat ek bestel en Metgesel se suurbier, wat so droog is, dog kan jy dit drink, is in ’n japtrap by ons en dit is yskoud – soos dit hoort.

Die spyskaart (voorlopige een, dan) bied vier ontbyt-keuses en dadelik sien ek beloftes van disse deuskant die stapel wat metterwoon vorentoe kan volg. Die standaard Engelse ontbyt noem hulle die ‘Grizzly’ en dit kos R50. Die ontbyt vir hongerder bere (of is dit vir grys-baarde?) noem hulle die Bosveld Ontbyt en net hier stal die kaart amper sy tweetaligheid ten toon: Pap en mielies, 200 g bief pattie, kaas, eier en kaiings. Dit kos R90.

Verder wil ek nie veel oor die spyskaart kwytraak nie, met dié dat dit glo net ’n tydelike een is. Verskeidenheid is wel teenwoordig met die gewone stapels van burgers en pizzas, roosterbroodjies, voorgeregte soos hoenderlewers en slakke en deelmandjies met verskillende versnaperinge.


Só word sir Thomas se nuwe aandoenplek beskryf

Draai jy dit om, hef die kaart aan met ’n paar verbuigings van biefstuk (steak) en dis hier waar ek voet by biefstuk hou dat ek darem baie lanklaas ’n goeie snit kruisskyf ingewerk het. Ek bestel die ‘mans-grootte’ van 350 g wat glo lui verouderd is en met ’n spesiale braaisous voorgesit word.

Ek bestel my lui, ou kruisskyf ‘medium tot rou asseblief” en ek hoop vir die beste. Dit kos R125. Jy kan ook ’n T-been van 500 g teen effe meer of ’n kleiner kruisskyf of lendeskyf teen heelwat minder kies.


Oral in die ruim buite-kuierplek is hang- en haakplekke vir brulfiets-ruiters se baadjies en valhelms

Stokvis of calamari (tjokka) is die viskeuses en Metgesel onthou amper nie meer wanneer laas sy inkvis geniet het nie en bestel dit saam met groente en rys. Die rys het nie opgedaag nie, maar die calamari was lekkerder as wat sy kon onthou die gereg lankal was. Perfek in dik ringe, is die buis van die tjokka gesny en baie sag op die kouspiere (dit is ’n kuns) in die braaioond voorberei en met ’n tartar-sous voorgesit. Dit kos (sonder die groente van spinasie en pampoen) R92.

Verdere keuses aan hierdie kant van die kaart, sluit ‘ligte etes’ soos pap en boerewors, ’n Prego broodrolletjie en nog ’n vierstuks geregte, almal teen minder as R100, in. ’n Paar keuses vir die kindertjies, melkskommels en drie soorte nagereg voltooi die saak.


Dikgesnyde tjokkabuise, murgsag met groente van pampoen en spinasie en afwesige rys

Maar wat verdien vermeld te word, is die bykans volmaakte kruisskyf wat enige kenner, beer of grysbaard, meer as tevrede behoort te stel. Die biefstuk is dik gesny soos dit hoort (wonder wie die slagter is) en iemand in die kombuis deel my begrip van ‘medium to rare’ tot op ’n druppel – uiteindelik.

Ons wag in spanning vir die nuwe verbeterde spyskaart. Jy kan die mense van Sir Thomas se Grizzly by 012-786-0854 bel vir nadere inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger